Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nobelprys aan Dylan ‘ongehoord’
Bob Dylan Foto: AP

Hy is ’n groot Bob Dylan-fan, maar die toekenning van die Nobelprys vir letterkunde het sy oorsprong in nostalgie uit die galsterige prostate van seniele, babbelende hippies.

Só het die skrywer Irvine Welsh op Twitter gereageer pas ná die nuus dat die 75-jarige Dylan vanjaar die ontvanger geword het van die Sweedse Akademie se gesogte letterkundeprys.

’n Ander skrywer, Hari Kunzru, het weer gemeen dit voel na die flouste Nobelpryswen sedert pres. Barack Obama ’n Nobelprys gewen het deur “nie Bush te wees nie”.

Maar die reaksie was nie nét negatief nie.

“Die feit dat dit so lank gevat het vir hom om die prys te wen is eerder ’n weerspieëling op die konserwatisme waarmee die prys gepaard gaan as van Dylan se vermoëns,” sê die skrywer Deon Maas.

Maas het hom by Kunzru aangesluit deur te sê: “Laat ons nooit vergeet nie dat Obama ook een gekry het vir vrede terwyl hy mense doodmaak met sy drones.

“Dis natuurlik ook ’n teken van hoe establishment Dylan geraak het, maar dis altyd goed om te sien as popkultuur die erkenning kry wat dit verdien,” sê hy.

Suid-Afrika se eie liedjieboer, Anton Goosen, se reaksie was: “Uiteindelik!

“Hy moes dit al jare gelede gekry het. Welverdiend!

“Hy het eiehandig die doelpale van poëtiese liriek verskuif en dis soos alle groot meesters – daar gaan nie gou weer iemand kan wees om te verbeter op wat hy vermag het nie.”

Dylan se naam is twee keer vantevore – in 1996 en 2011 – genoem in aanloop tot dié prys.

20 jaar gelede het die vere in die Nobelprys se hoenderhok behoorlik gewaai ná gerugte dat hy ’n aanspraakmaker vir die letterkundeprys was.

Die ontslape Nadine Gordimer het destyds gemeen Dylan was nog nooit ’n skrywer nie. “Dit is onsin om die teendeel te beweer. Dit is lagwekkend,” het sy aan Gert van der Westhuizen van Beeld gesê.

Gordimer het gemeen dit sal ongehoord wees om die Nobelprys aan ’n sanger toe te ken.

“Skrywers kom mos nie in aanmerking vir musiekpryse nie?”

Meer oor:  Bob Dylan  |  Reaksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.