Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nobelprys: Polemiek oor letterkunde-wenners

Die Sweedse Akademie se besluit om 2018 en 2019 se Nobelprys vir letterkunde aan onderskeidelik die Poolse skrywer Olga Tokarczuk en die Oostenryker Peter Handke toe te ken het gemengde reaksies ontlok.

Olga Tokarczuk. Foto: Getty Images

Die akademie, wat die wenner van die Nobelprys vir letterkunde reeds sedert 1901 aanwys, het albei pryse Donderdag aangekondig weens ’n rits skandale wat die 2018-aankondiging ontspoor het. Die besluit is uiteindelik geneem om dit met ’n jaar uit te stel en albei pryse vanjaar aan te kondig.

Volgens die Nederlandse letterkundige Annemarié van Niekerk het die toekennings haar “onkant betrap”.

“Eerstens omdat die akademie nog altyd die Nobelprys vir letterkunde – van die begin van sy ontstaan af – aan outeurs met ’n humanitêre en idealistiese instelling toegeken het.”

Van Niekerk meen Handke is dít nié en beskryf hom weens onder meer sy “houding” jeens die Joego-Slawiese oorlog as “omstrede” en “polities minder korrek”.

“Tweedens is ek verbaas dat albei toekennings aan Europese outeurs toegeken is,” sê sy. “Ná verlede jaar se omstredenheid het hulle juis aangekondig dat die Nobelprys minder Eurosentries gaan wees.

“Maar ek is verheug oor die toekenning aan Tokarczuk – ’n vrou, ’n skrywer en ’n aktivis wat teen die Poolse nasionalisme skryf. Sy is ’n uitgesproke voorstander van pluralisme en multi-etnisiteit, en is nie bang om haar teen die huidige Poolse regering uit te spreek nie.”

Prof. Jerzy Koch, hoof van Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies in die fakulteit Engels aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole, sê die vreugdevure sal waarskynlik hoog brand oor die land se soveelste letterkundewenner.

“Dit is uitsonderlik, ’n historiese oomblik (vir Pole). Daar was veral die afgelope paar dae ’n verwagting dat sy sou wen; haar werk is universeel, haar kuns allergroots,” sê hy.

Tematies gaan sy (Tokarczuk) ook oor grense heen: Sy gebruik reis gereeld as motief. Hoewel ons eerstens dink aan reis as toeristies, word dit in haar werk ’n kreunende identiteit – iets waarmee jy jouself opnuut hervorm.
Prof. Jerzy Koch

Koch beskryf Tokarczuk (57), ’n romanskrywer en essayis, as ’n toeganklike en vriendelik mens wat “nie een van die verhewendes is wat glo sy het die wêreld se wysheid nie”. Hy sê dat sy in die begin van haar loopbaan nie ’n uitgewer vir haar werk kon kry nie en het toe besluit om haar boeke self te publiseer. “Die einste uitgewer het toe later vir my gesê dit was die grootste fout van sy lewe.”

Olga Tokarczuk en prof. Jerzy Koch. Foto: Verskaf
Olga Tokarczuk en prof. Jerzy Koch. Foto: Verskaf

Koch sê Tokarczuk se skryfwerk berus op uitstekende navorsing, wat haar toelaat om met “verbeelding te speel”.

“Haar werk word soms beskryf as donker of misterieus, maar ek dink dit is veral die beelde wat sy oproep wat verband hou met haar verbeelding.

“Tematies gaan sy ook oor grense heen: Sy gebruik reis gereeld as motief. Hoewel ons eerstens dink aan reis as toeristies, word dit in haar werk ’n kreunende identiteit – iets waarmee jy jouself opnuut hervorm. Reis is vir haar ook ’n metafoor van die veranderende landskap, omgewings en mense wat jy ontmoet en waardeur jy jouself verander.”

Koch raai aan dat Suid-Afrikaners wat nie haar werk ken nie, begin met die roman Flights, waarmee sy in 2018 die eerste Poolse skrywer geword het wat die internasionale Man Booker-prys verower het.

Peter Handke. Foto: Getty Images

Lof vir Handke (76) was daar ook wel. Die digter en akademikus prof. Joan Hambidge het die “magistrale” rolprent Der Himmel über Berlin (Wings of Desire), wat Handke saam met Wim Wenders geskryf het, asook sy roman The Left-handed Woman as “uitstekend” beskryf.

“Hy is polites omstrede – hy het by (die Serwiese president Slobodan) Milosevic se begrafnis gepraat. Maar as ons fokus op die tekste – soos wat ons behoort te doen – is sy tekste goed.

“Daar sal waarskynlik ’n polemiek wees,” sê sy.

Tokarczuk en Handke sal elk prysgeld van 9 miljoen Sweedse krone (tans meer as R13,8 miljoen) ontvang.

Tokarczuk is net die 15de vrou uit ’n poel van 116 wenners wat die Nobelprys vir letterkunde gewen het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.