Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nog ’n korrel ryke leesstof

’n Mens sou die bonte mengelmoes kort prosastukke in Nataniël se ‘Dik dun Thick Thin’ gewoon kon lees om te lag, maar Sonja Loots meen dié boek – trouens, Nataniël se ganse, onvolprese oeuvre – lewer ’n beduidende bydrae
tot die queering of skeefskryf van Afrikaans.

Nataniël

Dik dun Thick Thin deur Nataniël. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R250.

Nataniël, wie se talent vir die satiriese, absurde en bisarre hom vestig as ’n veraf familielid van Etienne Leroux en Jan Rabie, is ’n onvolprese skrywer in Afrikaans. Sy oeuvre is belangriker en veelkantiger as wat menige resensie te kenne gee.

Dat hy dalk te gereeld publiseer, dat hy aan die grens tussen genres werksaam is, en dat die verhale in sy bundels soms van ongelyke gehalte is, verander min aan die feit dat hy ’n meester is van tragikomiese triestigheid.

Die karakters in Dik dun Thick Thin sluit hulle aan by die groot aantal gebroke, gestremde, gefrustreerde, groteske, vasgekeerde, desperate, simpel of gek figure waaraan Nataniël sy gehore en lesers nou al vir jare bekend stel.

Soos altyd is dit wonderlik snaaks. Dit is maklik om oorrompel te word deur die betowering van karakters soos August Hittel, die enigste persoon op aarde wie se tepels deur ’n reënjas gesien kon word; Misty Louw, wie se volledige face-lift beteken “haar gesig sit aan weerskante, soos ’n vinnige vis”; Susan, wie se hare lyk “soos ’n lugfoto van ’n skare wat uitmekaar hardloop”; en my gunsteling: Hagda, wat so vet is dat niemand kan sien of haar man nog leef nie. Die meesterlike beskrywing van Hagda se arms is ’n goeie voorbeeld van die aweregse potsierlikhede waarvoor Nataniël bekend is: “Haar bo-arms het bo-oor die onder-arms gehang, dit het gelyk soos babas wat boomklim.”

’n Groot deel van die humor setel in die onderspeelde, onbewoë (oftewel deadpan) omgaan met buitensporige belaglikhede. Die kamp hoofkarakter van “Twee verskriklike nagte” se terloopse mededeling oor sy alledaagse huisdrag is hiervan ’n voorbeeld: “Ek is in my gewone huisdrag, ’n kleefbroek van rekplastiek met ’n draak uitgesny op die een been en ’n los hemp met blinkertjies en ’n klein bietjie oogpotlood.”

... dit sou ’n fout wees om jou met die oënskynlik populêre aanpak te misgis en hierdie werk af te kam as leeg en laf.

Op volle toere is Nataniël as hy grillerighede van die voorstede en platteland vanuit ’n eksentrieke perspektief belaglik maak. Soos wanneer ’n reisende verhoogkunstenaar op Upington aankom en deur ’n boer met ’n Top Gun-sonbril en kakiesokkies opgelaai word: “Ons het met ’n hoë kakie ding – ek dink dit was ’n kanon – deur dorre vlaktes gery.” Of die vergelyking van ’n sitkamer waarin alles pienk en vol valle is met die binnekant van ’n maag.

’n Mens sou hierdie kort prosastukke, wat as verhoogmonoloë ontstaan het, kon lees net om te lag. Dit sal al beloning en plesier genoeg wees. Maar dit sou ’n fout wees om jou met die oënskynlik populêre aanpak te misgis en hierdie werk af te kam as leeg en laf.

Die verhaal “Twee verskriklike nagte” is ’n voorbeeld van die skrywer se veelsydigheid: Vlugvoetig en behendig is die oorgang van klugtigheid en die kenmerkende koketterigheid van die kabarettis na ’n treffende slot wat die leser onkant betrap met ’n droefgeestige uitbeelding van die ondergrondse roerings van onvervuldheid en onbehaaglikheid. Daar is talle ander voorbeelde in hierdie bundel van slim skerpioenverhale met die skop in die stert (oftewel slot).

By al sy ander talente is Nataniël se oeuvre ’n beduidende bydrae tot die queering of skeefskryf van Afrikaans.

Vervreemding, verwonding, marginaliteit en ’n volgehoue verset teen die konvensionele is die goue draad wat dwarsdeur alles loop. Die ontheemding van karakters wat nie tuishoort in hul wêreld nie, en die vreemdmaak van die normale vanuit hul randposisies, is ’n onderbeligte strategie van hierdie skrywer se dominante queer-ingesteldheid.

Die kort stukke in Dik dun Thick Thin lees soos ’n bonte mengelmoes, maar heelparty word saamgesnoer deur die teenwoordigheid van twee karakters wat herhaaldelik hul verskyning maak: ’n Jong kind en later jong man wie se seksualiteit meewerk tot ’n bevraagtekening van geykte waarnemings en belewenisse; en dié se ouma, wat op haar eie manier buite die sentrum staan en vir hom ’n steunpilaar en klankbord is. Die subtiele leitmotief van hierdie verhouding dien as een van die ankers vir die vinnige opeenvolging van absurde slapstick-oomblikke, karnavaleske oordaad en wilde fantasieë.

In Dik dun Thick Thin is die representasie van manlike gay-seksualiteit nooit eksplisiet of taboe-deurbrekend nie. In verhale soos “ ’n Boog en ’n swaai”, “Stof en vog”, “Evening” en “Die olyf” is daar hoogstens tussen-die-reëls- en gesteelde oomblikke; en in “Twee verskriklike nagte” gaan dit subtiel om wat nié gebeur het nie.

Wanneer die sterk maatskaplike verankering van homofobie aan die bod kom, is die aanslag ook bedrieglik lig. Voorbeelde hier is die homofobie van die vader in “Hestertjie” wat kla dat die predikant “knypknieë soos ’n meermin” en “sagte heupies” het. Hy verwys ook na lesbiërs as “die menere” (“tannies met kort hare” wat “hou van karre en groot honde en mekaar”) en na gay mans as “die bere” (“ooms wat hou van kosmaak en mooi aantrek en mekaar”).

Die manier waarop die kamp sprekers in hierdie verhale hulself uitbeeld, word eweneens oor die boeg van komedie gegooi en werk met stereotipes. In “Eerste reus” vertel ’n musiekstudent hoe hy in ’n kaftan na ’n hotel “galop-struikel-trippel” en na die binnehof “fladder”. ’n Ander karakter verduidelik dan vir hom dat sy stappie te erg is: “Mens weet nie of jy ’n grappie maak en of jy val nie.”

Wat oënskynlik lyk na relatief veilige, konvensionele uitbeelding van gay-identiteite vorm egter in bundel- en oeuvre-opset deel van ’n baie sterk antinormatiewe perspektief.

“Eerste reus” is immers ’n donker wraakfantasie oor vergelding ná ’n voorval waarin die sprekerkarakter verneder en beseer is. En dikwels is die lag en traan na aan mekaar, soos in die volgende gesprek tussen ’n verhoogkunstenaar en ’n boer:

Ek sê, Ons moes rugby speel op skool.

En jou posisie? vra die boer.

Ek sê, Ek hou van regop.

Nee man, sê die boer, Wat was jy?

Ek sê, Hartseer.

Die inneem van ’n marginale posisie gaan nie net oor gaywees nie. Binne die queer-raamwerk word ruimte oopgeskryf vir ’n groot verskeidenheid alternatiewe vorms van belewing en subjektiwiteit.

Die queer-subjekte bied deurgaans weerstand teen die gewone en maak dit vreemd. Nie net die stabiliteit van “gay” en “heteroseksueel” word bevraagteken nie, maar telkens word die aanvaarbare en vanselfsprekende uitgebeeld as sosiale en kulturele konstruksies wat maklik inmekaartuimel. “Hoekom hulle”, waarin die preutsheid van ’n verhoogkunstenaar se gehoor ontmasker word, is byvoorbeeld ’n kragtoer.

Dik dun Thick Thin is nie sonder gebreke nie. Daar is dowwe kolle en tekste wat gewoon uitgelaat moes gewees het. Die vreemde name van karakters en veral die gesprekke daaroor raak holrug gery. Hier en daar is daar ’n verhaalbegin wat skerper kan wees, want die wydlopende benadering wat op die verhoog werk terwyl ’n mens wag dat die gehoor ophou vroetel en hul aandag fokus, is minder geslaag op papier. Na my gevoel voeg die kostuumsketse niks by nie en is die insluiting van Engelse en Afrikaanse verhale in een bundel nie baie geslaagd nie.

Nogtans bewys Nataniël vir die soveelste keer dat enigeen wat sy bundels en hom by implikasie as lig in die broek karakteriseer dit mis het. Hy verdien om fyner en meer intelligent gelees te word.

Hy skenk ons ryke stof.

* Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Nataniël  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.