Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nog ’n meesterlike storievlegsel

Dit verg ’n storiemeester soos Irma Joubert om soveel karakters se lewe, wat so verwikkel en vervleg is deur soveel boeke en storielyne heen, sinvol te laat eindig, skryf Trisa Hugo nadat sy die slotboek, ‘Na ’n plaas in Afrika’, gelees het.

Irma Joubert Foto: Estie du Plessis

Na ’n plaas in Afrika deur Irma Joubert. Uitgewer: Lapa. Prys: R350.

Drie maal is skeepsreg: Na ’n plaas in Afrika is die derde boek in Irma Joubert se derde trilogie en volg op Immer wes (2015) en Mentje, kind van Pas-opkamp (2017). Hierdie slotboek het self drie verhaallyne wat perfek daarin slaag om dié skip op ’n plaas in Afrika vas te meer. Die skrywer bring nie net die hoofkarakters van die vorige twee boeke in die trilogie plaas toe nie – ook karakters soos Persómi uit haar vorige romans maak ’n welkome gasverskyning.

Anders as in haar vorige boeke word die verhaal hierdie keer grootliks uit twee mans se perspektief vertel – een volwassene en een kind. Die derde perspektief is dié van Ilse Hess, ’n volwasse vrou. Teen die einde van die boek is die kind Charles ’n volwassene en só bereik die trilogie dan ook wasdom.

Wat opval in al Joubert se historiese romans is die geweldige hoeveelheid navorsing wat sy doen voordat sy begin skryf. As oudgeskiedenisonderwyseres is die korrekte historiese feite vir haar ononderhandelbaar.

Die navorsing verskaf ’n raamwerk van feite waardeur fiksie verweef word tot ’n eenheid, en watter beter navorsingsassistent en reisgenoot kan ’n skrywer voor vra as Joubert se een seun, die politieke joernalis Jan-Jan Joubert? Hy het al die geskiedkundige feite nagegaan.

Die manier waarop Joubert karakters in haar oorlogsromans uitbeeld is fassinerend.

Irma Joubert-aanhangers weet teen dié tyd dat haar boeke nie bloot ’n aanmekaarryg van geskiedkundige feite is nie, maar ’n baie realistiese uitbeelding van die tyd waarin die verhaal afspeel. Die feite is subtiel verweef met die daaglikse lewe van die karakters. Hulle leef in oorlogstyd, wat weer hul lewensuitkyk beïnvloed.

Immer wes, die eerste boek in die trilogie, vertel die verhaal van Hildegard, ’n dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adel met afsydige ouers. Haar karakter as Oswald se stiefma in Na ’n plaas in Afrika is slim geskryf dat dit nie noodsaaklik is om die eerste aflewering vooraf te lees nie.

Die manier waarop Joubert karakters in haar oorlogsromans uitbeeld is fassinerend, veral as die hoofkarakter ’n klein, onskuldige kind is wie se lewe oorweldig en verander word deur die oorlog. Net soos in Mentje beleef ons die oorlog in Na ’n plaas in Afrika deur die oë van klein Charles, wat saam met ’n klomp ander kinders na veiligheid in Skotland gestuur word. In dié opsig kan al drie boeke in Joubert se trilogie hul skoene volstaan langs treffers soos John Boyne se The Boy In the Striped Pyjamas en Mariël le Roux se Wilhelmina: Kampkind op Java.

Die sesjarige Charles Smith (Schmidt) beland op die klein dorp Eaglesham, waar hy ver verwyder is van die verskrikking en werklikheid van die oorlog. In die skool leer hy “die een ding wat die Groot Oorlog my geleer het, is dat almal smag na vrede, maar niemand wil verloor nie”. Charles hoop heimlik die oorlog hou vir ewig aan en dat hy by die bejaarde auntie Grace (met die gepaste naam) kan bly. Dit is ook op Eaglesham waar Rudolf Hess jare later ’n noodlanding sou uitvoer.

Ons leer ken Hess se vrou, Ilse, in ’n tweede storielyn. Sy word gebruik om die lewe van Hitler en sy offisiere tydens die oorlog in perspektief te stel en ons beleef haar vrees en hartseer oor haar man wat verdwyn. Ons leer ken die mens agter die Nazi.

Die rustelose Oswald von Stein se storie vorm die derde verhaallyn. Hy is ’n offisier in die Duitse Sesde Leër, wat uiteindelik by Stalingrad sou oorgee. Hy bring die res van die oorlog in krygsgevangekampe in Siberië deur en later ook as politieke gevangene nadat vrede gesluit is. Die wreedheid, hongersnood en ontbering in die kampe maak ’n mens bewus van hoe sterk die mens se drang is om te oorleef. Hoe nasietrots ’n dryfveer vir oorlewing word. Die soldate word uiteindelik bevry, maar bevry waarvan? En wat beteken hulle vryheid as hulle niks oor het nie?

Geen heenkome of werk nie.

Oswald se vooroordeel teenoor Hildegard word op verrassende wyse afgebreek.

Oswald se terugkeer na sy ouerhuis, wat intussen aan iemand anders toegeken is, laat ’n mens nadink oor die futiliteit van oorlog; die feit dat daar net verloorders is. Vrae ontstaan oor waar nasietrots ophou en ego oorneem. Die sinloosheid van oorlog en magsbeheptheid van leiers word beleef uit die oogpunt van gewone mense. Charles en Oswald beleef die teenoorgestelde kante van die oorlog, maar die een wat die swaarste kry is die een wat glo in sy land en sy saak.

Mentje, Charles en Esther ontmoet op ’n skip op pad na verskillende bestemmings in Afrika. Tydens hierdie reis en later in Afrika word daar ongelukkig net te veel frases herhaal: Charles wat meisiekinders te dit of te dat vind; Mentje wat reken Charles eet alles wat sy oë sien; en Baby wat alles “staan” te doen. Dit het, soos die uitgerekte mars deur die Steppe in die winter en die lang verblyf in die kampe, hierdie leser die lywigheid van die boek laat bevraagteken.

Met sy drie storielyne is dit amper ’n trilogie in eie reg, in een bundel saamgebind.

Die roman word bemark as historiese fiksie, maar die klem moet hier op fiksie val. Indien ’n mens op die geskiedkundige feite begin fokus, begin jy vrae vra oor die menslike aard waarvoor daar nie antwoorde is nie.

Vrae oor die mens se ego; magsbeheptheid wat oordeel sodanig kleur dat duisende mense sterf; die mag van ’n leier; vroue se kilheid; oor wat wenners en verloorders werklik is.

Joubert slaag daarin om die leser se aandag by die karakters se lewe te hou, ongeag aan watter kant van die oorlog hulle is. Die karakters se belewenis van die oorlog word uitstekend uitgebeeld. Die boek lees maklik, die feite is histories korrek maar op só ’n manier in die boek ingevleg dat die grens tussen feite en fiksie vervaag. ’n Mens is voortdurend bewus van die ongelooflike spanning van die oorlog wat net voortduur, maar die leser wil weet wat met die karakters gebeur, nie wat die uitslag van ’n veldslag is nie. Spanning word gehou tot by die ontknoping, wat amper te soetlik is en soos legkaartstukkies inmekaarpas.

Dit verg egter ’n meesterlike skrywer om soveel karakters se lewe so verwikkeld en vervleg deur soveel boeke en storielyne heen sinvol te laat eindig. Welgedaan. Na ’n plaas in Afrika sal liefhebbers van historiese fiksie vasgenael hou.

  • Trisa Hugo is ’n skrywer van Kleinmond en medestigter van die boekewebwerf Boekemakranka.
Meer oor:  Irma Joubert  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.