Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nog ’n mening: Dié verse troos, kla aan

Pieter Odendaal het destyds aandag getrek met sy gedig vir Adam Small, “die eerste steen” (bl. 106), waarin hy deur sy vader met Small praat, maar ook vir sy pa in die bresse tree. In 2013 debuteer hy saam met 17 ander digters in die versamelbundel Nuwe stemme 5.

Dit is ’n paar jaar later. Die digter, nou bewus van die #fallists, bekyk in “fragmente” (bl. 110) die argiewe van die ou Suid-Afrika waarin die waarhede oor uitbuiting in “bubblewrap” toegedraai word. Omdat objekte nie weet hoe om te lieg nie, kan die jong kyker hierdie vermindering skerp raaksien. Mandela word in ’n filmiese portretgedig, “Rainbows and other optical illusions – dir. Mandela, N.R. (1994)” (bl. 102) verewig met die slim slot waar die toeskouers sukkel om die ontknoping van die film te aanvaar.

In die aweregse liefdesverse “fisiologie-laboratorium” (bl. 84) word die biologie ingespan om die liefde te beskryf as ’n chemiese rendezvous, terwyl die aangrypende “vir adam” (bl. 78) ’n liefdeservaring (-illusie?) in die wegloopteks van WhatsApp verwoord. In “some jocks have tutus” (bl. 77) word die anderste gender-identiteit teenoor die broer s’n uitgespeel.

Met sy liefdesgedigte sluit Odendaal aan by ’n lang tradisie van gay-sensibiliteit in Afrikaans. Dit word pragtig en onthutsend verwoord in “inisiasie” (bl. 58) waar die bokskiet-episode ook ’n oomblik van oedipalisering word. Met die keelafsny van die bok word die jong seun ’n man, maar een wat vorentoe sal verskil van sy vader:

ek doop my vingers in ink,

neem sy kop in my hande vermy sy oë

sy keel spoel uit op my skoot

soos iets wat eerder ongesê moes bly

Dit sluit aan by Johann de Lange se reeks vadergedigte en tree ook in gesprek met Loftus Marais se gedig oor sý vader wat die kind beveel om nie te huil nie.

Die gedigte oor die ouers is sterk en geskakeerde portrette.

Daar is ook verse oor die ekologie, soos “eersterivier” (bl. 35), waarin die verskille tussen Kayamandi en wit Stellenbosch oopgeskryf word:

hier sien mens duidelik

die verskil in kleur

kayamandi se vullis en feses vertroebel die water

Rasongelykhede aktiveer ’n gesprek met Antjie Krog en in “in praise of protest” (bl. 95) word die “conspiracy of silence” oopgemaak. “Hulle – ’n duet” (bl. 104) aktiveer eweneens Krog se gebruik van musikale strukture wat verskillende stemme kan vertolk.

Die musikaliteit van die bundel is opvallend: Daar is verse wat spesifiek vir die oor geskryf is, maar ook die meer konvensionele lees- of oog-gedig waar jy as leser vir strukture in die gedig soek. Hier word die “wit in die poësie” dan iets ironies.

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie ondersoek ook die funksies van taal: Is poësie slegs vir die elitistiese “in-groepie”, of kan gedigte die wêreld transformeer? Hier gebruik die digter “Bra Willie” (bl. 16) as model wat sy lewe lank geglo het gedigte kan wel mense tot ander insigte bring.

Odendaal skryf loslitverse met Engelse woorde en kleinletters. Sommige is in ’n praattrant geskryf, maar die slim onderbou en sterk slotte lewer bewys van ’n digter wat sy ambag kén.

Sy solodebuut, opgedra aan “al my medestryders”, is ’n bundel wat dawer en troos en aankla. Dit slaan jou asem weg.

  • Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Pieter Odendaal  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.