Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Noodsaaklike stof tot nadenke

Jan-Jan Joubert se ‘Gaan Suid-Afrika oukei wees?’ is onontbeerlike leesstof vir almal wat ingelig wil wees oor wat in Suid-Afrika aan die gang is. Boonop bevat dit ’n magdom reguit raad en voorstelle wat help dat lesers nie in moedeloosheid verval oor die daaglikse stortvloed slegte nuus nie, skryf Flip Buys.

Gaan Suid-Afrika oukei wees?: 17 sleutelvrae deur Jan-Jan Joubert. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

In hierdie onsekere tye kon die tydsberekening van die deurwinterde politieke joernalis Jan-Jan Joubert se nuutste boek nie beter wees nie. Gaan Suid-Afrika oukei wees? is ’n kaalvuis-bespreking van 17 van die sleutelvrae op almal se lippe waarop Joubert reguit antwoorde verskaf: Is Cyril Ramaphosa ’n redder of swakkeling? Wat is wit mense se rol in die land? Hoekom bly mense vir die ANC stem? Kan Eskom reggeruk word? Wat het ons ekonomie nodig? Is Julius Malema die Rooi Gevaar?

Joubert is snydend krities oor Ramaphosa en sê hy het sy presiden­siële ambisies teen ’n “helse” prys vir die land verwesenlik en loop die gevaar om ’n dienswillige instrument in adjunkpresident David Mabuza se hande te word.

Maar in ’n kenmerkende styl wat regdeur die boek loop, kritiseer Joubert nie net nie, maar maak ook voorstelle oor wat Ramaphosa moet doen om die land reg te ruk.

Die boek is besprinkel met interessante staaltjies.

Gaan Suid-Afrika oukei wees? is ook nie net swaar politiek nie. Benewens die gemaklike skryfstyl van ’n ervare joernalis is die boek besprinkel met interessante staaltjies, soos een oor ’n gesprek tussen Harry Oppenheimer en Ramaphosa in die wilde 1980’s. Nadat ’n vurige Ramaphosa, destyds leier van die mynwerkersvakbond NUM, vir Oppenheimer vertel het hoe hulle die myne gaan oorneem, het die mynmagnaat sy tirade lakonies beantwoord met: “Yes, Mister Rama­phosa, a mine is but a hole in the ground, is it not?”

Ek wil nie Joubert se weergawe van dr. Van Zyl Slabbert se vertolking van die invloed van Oppenheimer se stelling op Ramaphosa se ekonomiese uitkyk uitlap nie. Belangstellendes kan dit in die boek lees. Tog kan Oppenheimer se vraag vandag aan vuurvreters soos Malema gevra word, byvoorbeeld: Is ’n stuk grond dieselfde as ’n plaas? Aan rassetransformeerders kan gevra word of ’n maatskappy maar net ’n blink hoofkantoor met luukse motors en hoë salarisse is!

Joubert skram nie weg van reguit standpunte nie. Die boek word geken aan deurdagte stellings, soos: “Die idee van ’n alwetende sosialistiese staat met onselfsugtige, uitmuntende amptenare wat hulself opoffer vir die welsyn van die werkersklas het nog nêrens gewerk nie.”

Hy huiwer ook nie om hard op polities korrekte tone te trap nie: “Eskom se rasbeheptheid het beteken dat geskoolde betrekkings eerder vakant gelaat is as om wit mense aan te stel, en steenkool is dikwels ten duurste gekoop solank die verskaffers net swart was en politieke bande gehad het.”

Joubert is onbeskaamd liberaal, en spore van dié lewensbeskouing is regdeur die boek sigbaar. Tog bied die boek ook genoeg pitkos aan lesers wat nié sy uitgangspunte deel nie. Hy skryf byvoorbeeld die ANC sal moet minder rasbehep en meer toekomsgerig raak as hy suksesvol wil regeer omdat die party sino­niem geword het met korrupsie, wanbestuur, selfverryking en selfs moord.

Net so bespreek hy die foute van die DA en stel voor die party moet sigbaar by die lewe van wit Afrikaanse kiesers betrokke wees.

Joubert het met die leiers van die VF Plus gepraat en bied ’n opsomming van dié gesprekke oor die redes vir die verdubbeling in steun wat die party in die verkiesing gekry het.

Die hoofstuk oor die EFF as “Rooi Gevaar” bied interessante insigte oor hierdie rassistiese party wat baie wit mense landuit dryf.

Dit is in hierdie hoofstuk dat Joubert se sterkste punt as joernalis na vore kom: Hy praat nie net oor politici nie, hy praat mét hulle. Die leser kry dus ’n eerstehandse weergawe van ’n joernalis wat self met die belangrikste politieke rolspelers in die land gepraat het – dis nie tweedehandse afleidings nie.

Joubert dwing ook nie sy gevolgtrekkings op die leser af nie. Hy gee die feite en bied sy afleidings, maar laat dit aan die leser oor om self daaroor te besluit.

’n Verdere bonus is dat die skrywer as kenner van die partypolitiek ’n magdom inligting en feite aan die leser deurgee. Die boek kan dus as verwysingsbron dien vir enigiemand wat later wil weet wie wat wanneer gedoen het.

Joubert bespreek Suid-Afrika se ernstigste probleme, maar is nie ’n doemprofeet of ’n goedgelowige optimis wat glo alles gaan vanself regkom nie. Hy bied ’n ewewigtige beoordeling van die toestande in Suid-Afrika en wissel die oranje en rooi ligte met die positiewe punte af.

Die sterkste punt van die boek is waarskynlik die magdom goeie raad en voorstelle wat daarin vervat is. Dit sal lesers bemagtig om hulself in gesprekke oor die land se knelpunte te handhaaf. Dit help ook dat die leser nie in moedeloosheid verval oor die stortvloed slegte nuus wat ons daagliks teister nie. Joubert bespreek die krisisse openlik, maar wys ook ’n pad uit die moeras uit waarin die ANC die land regeer het.

Die belangrikste leemte in Joubert se ontleding as liberaal-demokraat is moontlik dat hy die land as ’n gewone demokrasie sien wat ongelukkig uiters swak deur die ANC regeer word. Hy vertolk die krisis dus as ’n ernstige regeringskrisis eerder as ’n groter bedelingskrisis. Die gevaar hiervan is dat al die oplossings wat hy voorstel, nie noodwendig diep genoeg sny om die meer grondliggende hervormings wat nodig is te behandel nie. Ná 25 jaar kan die vraag tog gevra word of die krisis in die land nie tot ’n belangrike mate die gevolg is daarvan dat die politieke bedeling nie ontwerp is vir die bestuur van die kompleksiteite van ons uiters heterogene samelewing nie.

Hierdie dieperliggende uitdaging is ten beste verwoord deur die bekende liberaal-demokraat prof. Francis Fukuyama van die Stanford-Universiteit tydens verskeie besoeke aan Suid-Afrika: “For societies that are highly polarised along lines of social class, nationality or religion, democracy can be a formula for stalemate and stagnation. South Africa’s constitu­tional democracy is a sort of foreign body that’s sitting on top of a society that’s not modernised in other respects.”

Nietemin bied Joubert se boek oorgenoeg stof tot nadenke, beantwoord hy die meeste kwelvrae oor die land se toekoms, en is dit noodsaaklike leesstof vir elkeen wat ingelig wil wees oor wat aangaan.

Dit is ook 'n pluimpie vir Joubert dat hy hierdie netjies versorgde en hoogs leesbare boek in Afrikaans én Engels uitgegee het. Dit spreek van die respek wat hy ook vir sy Afrikaanse lesers het.

  * Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit-Beweging.

Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.