Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nostalgie flou van foute

Die historiese fotoboek ‘Forgotten Johannesburg’ is ’n goeie dog halfgebakte idee met te veel foute, meen Réney Warrington.

Forgotten Johannesburg: A Pictorial History 1886-1950 deur Tony Grogan. Uitgewer: Don Nelson Publishers. Prys: R325.

Die uitgewersbedryf kan nie beter nie: Hordes lesers verruil Netflix vir boekbekendstellings waar hulle sommer twéé eksemplare van die roman-van-die-dag koop en bladskud met outeurs asof hulle ingevoerde rocksterre is. Veral fotoboeke vlieg van die rak af.

Natuurlik praat ek nonsens – en juis dáárom kan ’n sukkelende bedryf dit nie bekostig dat ’n goeie dog halfgebakte idee soos Forgotten Johannesburg aan kopers opgedis word nie.

Sommige van die foto’s sê feitlik niks nie. ’n Kiekie wat dalk vanweë historiese redes belangrik is, soos dié op bl. 15 van Ferreira se kamp wat later Ferreirasdorp geword het, lyk steeds soos ’n niksbeduidende versameling generiese huisies, waens en mense. Iemand met ’n fotografiese oog of kennis moes eerder die keuses gemaak het. So iemand sou byvoorbeeld dadelik die voorbladfoto met die een op bl. 1 vervang het. Die massa dierelywe – osse ingespan voor waens – trek immers dadelik die aandag.

Wat in Forgotten Johannesburg soos ’n paal bo water staan, is dat die Goudstad gereeld afgebreek en oorgebou is.

Natuurlik is dit ’n groot uitdaging om foto’s, veral ou beskadigde foto’s en negatiewe, drukgereed te kry, want wat jy op jou rekenaarskerm sien en wat uiteindelik op papier verskyn, stem selde ooreen. Met geduld (en jare se ervaring) speel jy in Photoshop met donker en lig en kontras en kurwes totdat alles in balans is. Hier het óf Grogan óf sy uitgewer ’n kortpad gekies, want die meeste foto’s is óf te donker óf te lig óf dit val gewoon plat.

As jy ’n historiese fotoboek oor Johannesburg saamstel, moet jy noodwendig die ou Johannesburgse fort noem. Dit is ’n formidabele gebou wat tans een van ons kosbaarste instellings, die konstitusionele hof, huisves. Maar dan moet jy darem seker maak van die datums: Die eerste steen is inderdaad in 1896 gelê, maar die gebou kon dan nie sewe jaar vroeër, in 1886, voltooi gewees het soos op bl. 128 beweer word nie. Die korrekte datum is 1899.

Daar is nóg foute in die byskrifte: Nie Grogan óf sy redigeerder kon besluit of dit “in” of “op” die Witwatersrand moet wees nie, toe los hulle op bl. 7 albei woorde reg langs mekaar. Op bl. 26 en bl. 27 is die byskrifte van twee foto’s vermoedelik omgeruil, maar die bewoording is so nie-spesifiek dat selfs ’n derde foto by die verwarring ingesleep kan word.

Op bl. 32 word ’n “contemporary white commentator” vir sy rassistiese kommentaar oor die kole gehaal, maar jy vind nêrens uit wie hierdie karakter is en waar sy uitings gepubliseer is nie. (In hakies is ’n enkele wenk: argief.)

Langs ’n foto van ’n pragtige glas-en-staalarkade word ons wysgemaak dit is “one of Johannesburg’s most famous ar­cades”, maar die naam, ligging en datum bly verhul. Op bl. 70 staan ’n arm gesin langs ’n perdekar met ’n hengse pakkaas en die leser moet lees “before the advent of the train, this is how they travelled . . .” Wie is hulle en wanneer het hulle met die gestapelde perdekar rondbeweeg?

Ook met die rigtingaanwysers – links bo, regs onder – gaan dit soms broekskeur. Dit word inkonsekwent gebruik en is op bl. 152 en 153 sommer weggelaat.

Ondanks die agterlosige taalversorging, meermaal niksbeduidende byskrifte en swakversorgde foto’s is daar hier en daar tog beelde wat ’n mens verbaas en soms laat glimlag, soos die sebras ingespan voor ’n perdekar (hulle was blykbaar te wild om volkome te tem), of die sprinkaanplaag wat twee mense amper verswelg het. Die gebruik van kerse in die myne is verstommend en die armsalige toestand van die swart mynwerkers se slaapsaal hartverskeurend.

Wat in Forgotten Johannesburg soos ’n paal bo water staan, is dat die Goudstad gereeld afgebreek en oorgebou is. Hoekom? Johannesburgers gee blykbaar voorkeur aan mag en rykdom bo skoonheid en elegansie. Ons breek dus af wat oud of stylvol is bloot om te kan wys hoe baie geld ons het. Dit is ’n jammerte. Ons het baie belangrike geboue en huise – soms ’n hele boustyl – gestroop en toegesmeer. Dit is ’n deel van ons geskiedenis wat vergeet sal word. As dit die uitsluitlike doel van hierdie publikasie is om ons, ondanks die feitefoute en tegniese tekortkominge, nostalgies te maak oor dít wat ons in ons soeke na geld en mag verloor het, het dit geslaag.

  • Réney Warrington is ’n skrywer, fotograaf en 20 jaar ’n trotse Johannesburger.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.