Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nou is hý argitek van sy eie lewe

Hy is al ’n ‘luis in die pels’ van die regerende party in Nederland genoem oor sy uitgesprokenheid oor die vreemdelingevraagstuk. Maar vir Sander Terphuis, immigrant, regsadviseur, gesiggestremde, stoeier en skrywer is dit water van ’n eend se rug. Menseregte is vir hom te kosbaar. ELMARI RAUTENBACH het met hom gesels op die vooraand van die Vrystaat Kunstefees, waar hy optree.

Ahmad Qeleich Khany (soos Terphuis op 18 nog bekend was) ly ’n nederlaag as lid van die Iranse stoeispan by die Wêreldspele vir Gestremdes in 1990 in Assen, Nederland. Dis by dié toernooi dat hy na Nederland oorgeloop het.

Jy is op pad na die Vrystaat, ’n provinsie in Suid-Afrika, om daar deel te neem aan ’n kunstefees wat in die stad Bloemfontein gehou word. Wat het jou ja laat sê? Ken jy die plek enigsins, of het jy al van dié deel van die wêreld gehoor?

Dit is inderdaad my heel eerste besoek aan die land en ek sien geweldig uit daarna! Om eerlik te wees, ek weet absoluut niks van dié gebied óf die land self nie. My agent, Dorine Holman, wat saamkom, het alles gereël. Ek is baie dankbaar sy het die uitnodiging aanvaar omdat die tema “Tuiskoms” regtig “my” onderwerp is. Dit is waaroor ek landwyd in Nederland lesings gee: tuiskoms, menseregte. As ’n immigrant in Nederland lê die onderwerp my baie na aan die hart en ek is daarom trots dat ek so ver soos in Suid-Afrika ook oor my passie kan gesels.

Jy is oorspronklik van Iran, oftewel Persië. Hoe was dit om in die 1970’s en 1980’s daar groot te word?

Ek kon nie meer aanvaar dat die owerhede my so in ’n borstrok indwing nie.

Ek het juis teruggekeer na daardie tyd in my outobiografie van 2015, De worstelaar (Die stoeier). My jeug was gelukkig maar moeilik – veral omdat ek baie swak sig het: 6% in my een oog en skaars 1% in die ander. In ’n groot, besige stad soos Teheran was dit beslis nie maklik nie. Langs ons straat was ’n oop rioolstelsel, waarin ek heel dikwels beland het. Ek was een van agt kinders. My pa het ’n klein eenmankruidenierswarewinkel in Teheran bedryf, waar jy alles kon koop, van rys tot plastiekware. Voor dit het ons op die platteland in die noorde van die land gewoon, waar ons ’n boerebestaan gevoer het. Maar omdat my pa wou hê sy seuns moet ’n loopbaan hê, het ons gesin stad toe getrek. My broer het later my pa se onderneming oorgeneem.

Stoei het ’n integrerende deel van jou lewe geword toe jy as ’n jongeling besef het sport is een manier om vir jou swak sig te vergoed. Jy het egter ook vroeg besef dit kan dien as ’n instrument tot vryheid. Hoe het dit gebeur dat jy as lid van ’n sportspan uit jou land gevlug het? Was dit op die ingewing van die oomblik?

Nee, dit was sorgvuldig beplan. Ek was 18 jaar oud. Ek kon nie meer aanvaar dat die owerhede my so in ’n borstrok indwing nie; trouens, op 14 het ek al rebels begin raak. Ek wou my eie keuses uitoefen. Ek het ’n brandende begeerte gehad om vir menseregte en vryheid te baklei. Ek wou ’n regter word, want ek het gedink dis hoe ’n mens dit sou regkry. Maar pleks daarvan moes ek voorgee om vroom te wees. Uiteindelik het ek sport gekies as ’n middel tot ’n doel. Ek was goed in stoei. In 1990 het die Wêreldspele vir Gestremdes in Assen in Nederland plaasgevind. Ek het hard gewerk om ’n plek in die nasionale span te behaal. En dit is waar ek, as een van die lede van die toerspan, my kans waargeneem en gevlug het.

Hoe was daardie eerste paar maande weg van jou familie en vriende? Jy was aanvanklik in ’n sogenaamde “tussenhuis” en toe ’n krisissentrum in Bergum in die Tietjerksteradeel-munisipaliteit van die Friesland-provinsie, waar jy gehuisves is saam met dwelmverslaafdes, alkoholiste, bejaardes met demensie, en vroue wat van hul gewelddadige mans gevlug het . . . Dit moes bitter vreemd gewees het.

Dit was. En moeilik. Nie soseer die eensaamheid en om voortdurend te moes wegkruip van die ajatollas nie, maar ook die asielprosedure. Ek het nie ophou oor my skouer kyk totdat ek gehoor het my aansoek om asiel het ­geslaag nie.

Maar ander dinge was moeiliker: om te weet dat ek my familie nooit weer sou sien nie en die feit dat ek glad nie kon Nederlands praat nie. Maar ek was vry! Ek was die argitek van my eie lewe.

Wat het jou hoop gegee? Jy het toevallig jou vrou, Sjoukje, op jou eerste Kersdag in die krisissentrum ontmoet toe sy met die ete kom uithelp het. In ’n onderhoud onthou sy hoe jy vir haar ’n paar woorde Persies leer terwyl julle tafels dek en sy vir jou Nederlands. En ná ete het sy jou agterop haar fiets dorp toe gevat!

Dit is wat my gehelp oorleef het: die wete dat ek vry was, dat ek kon studeer wat ek wou, dat ek vriende kon maak met die mense waarvan ek gehou het, en uiteindelik ook kon trou met die vrou vir wie ek lief geword het.

En dans? Wanneer het dit gebeur? Ek sien op die Vryfees-program jy word beskryf as ’n kranige breakdancer!

In Iran was (en is) dans geheel en al verbode. Daar is ’n klerebeleid – wat jy mag en nie mag dra nie, hoeveel vel jy mag of nie mag wys nie. Ook ’n musiekbeleid sodat jy nie toevallig na musiek luister wat deur die owerhede verbied is nie. Dans is verbode. En tog was Michael Jackson se musiek – ondanks die verbod – baie gewild onder ons jonges. Ons sou uitstappies na die berge reël, waar ons dan plate sou draai en dans, veral met sy bewegings. Omdat ek baie fiks en veral soepel was te danke aan stoei het ek gou geblyk ’n baie goeie break­dancer te wees. En ek is nog steeds, al is ek deesdae ouer en strammer. Daar wag dus ’n verrassing by jul fees. Nie ’n Michael Jackson nie, maar in die vorm van gewilde Iranse diskomusiek, waarop jy uitstekend kan breakdance . . .

Jou naam, Sander Terphuis, is nie die naam wat jy by geboorte gegee is nie. Hoe het dit gebeur?

Ek het dit verander toe ek my Nederlandse nasionaliteit ontvang het. Dit was uiteraard ’n baie moeilike besluit en een wat baie energie en navorsing gekos het voordat ek my naam, Ahmad Qeleich Khany, tot Sander Terphuis verander het.

Qeleich Khany is ’n eeue oue Persiese naam en beteken “die swaard van die Khan”. My familie tuis weet nie eens ek het ’n ander naam nie. As ek met hulle oor die foon praat, is ek steeds Ahmad. My keuse om my naam te verander, was enersyds omdat ek besluit het Nederland sou vir die res van my lewe my woonplek wees; en andersyds, ’n pragmatiese een: Die Nederlanders sukkel om my Iranse naam te skryf en uit te spreek.

Terphuis was nie baie in sy skik met dié foto saam met die voormalige leier van die ­Nederlandse Arbeidersparty Diederik Samsom verlede jaar nie. Hy en Samsom het ­menigmaal vasgesit oor vreemdelingeregte.

Jou outobiografie, De worstelaar, het baie lof ontvang. Wat het jy die meeste geniet van skielik ook skrywer wees?

Ek sal vryheid nooit as vanselfsprekend aanvaar nie – die feit dat ek in die regte en filosofie in Nederland kon studeer, vandag as senior regsadviseur in die departement van regsake en die volkeregafdeling van die ministerie van buitelandse sake diens kan doen, kan reis en mense toespreek. Maar as skrywer kon ek ook gesels met mense buite die konteks van my werk, en daarvoor is ek dankbaar.

  • BYKOMENDE BRON: vn.nl/sander-terphuis-rebel-uit-iran.
  • Die Vryfees begin Maandag. Vir ’n ­volledige program gaan na www.vrystaatkunstefees.co.za.
Meer oor:  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.