Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Afrikaanse romans: G’n resessie hier!

Daar is ’n vlaag nuwe Afrikaanse romans op die voorlopige publikasielyste van uitgewers vir 2020.

Die Colesbergse joernalis Anel Heydenrych het in 2016 met die erotiese riller Malhuis gedebuteer en keer vandeesmaand terug met Die afloerder. Hierin verruil die verslaggewer Anje Bruwer die Goudstad vir ’n rustiger lewe op Colesberg om ’n misdaadroman te skryf, maar daar is ’n menseslagter los wie se dade haar en kapt. Siegfried Scholtz se kop laat duisel. Uitgewer: Penguin. Prys: R260.

Jaco Wolmarans het verlede jaar resensente laat regop sit met sy eerste spanningsroman, Bos. In Februarie verskyn sy tweede, Skag, wat beskryf word as sers. Jos Fourie van die Spesmagte se “nagmerrietog van die Noordsee tot by ’n geheimsinnige weermagskag in die Kalahari, ’n aksiebelaaide wedren teen tyd om ’n katastrofiese kerntoets te stop”. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R310.

Met elemente van ’n spannings- én bildungsroman is André Krüger se Geen engel nie, wat in Februarie verskyn, nóg ’n bewys dat jy die skrywer nie maklik in ’n hokkie kan druk nie. In ’n donker sitkamer sit ’n man met ’n rewolwer, maar eers gaan sy geheue op loop deur sy harde grootwordjare in Randfontein en Germiston, die verbeteringskool, weermag en Sunnyside se nagklubs. Uitgewer: Penguin. Prys: R270.

In Bloedsteen, Irna van Zyl se derde misdaadroman, wat in Maart verskyn, het die nimlike speuradjudant Storm van der Merwe weer haar hande vol: ’n Skaars diamant is soek; in Londen word haar ma voor ’n trein ingestamp; en op Hermanus lê ’n befaamde modeontwerper leweloos terwyl betogings die dorp op horings neem. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

In April verskyn Jaco Fouché se roman Aanspreeklikheid, wat in 2018 onder die werktitel Die aanspreeklikheid aangewys is as naaswenner van NB-uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd. Dit speel af op Hermanus, waar Jaco Diehl se lewe verbrokkel namate hy by dade van geweld betrek word. Die hoofkarakter sleur die leser mee in ’n doolhof van vrae: Wie sit agter die moorde? Of word ook die waarheid ’n verdoeseling wat, nes Jaco, nie vertrou kan word nie? Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R285.

Somtotaal, wat in April verskyn, is Anchien Troskie se eerste roman in vyf jaar. Ester Labuschagne en Nonthando Majolo het saam op ’n Oos-Kaapse plaas grootgeword en was boesemvriendinne tot ’n dag van verraad . . . ’n Fyn, meevoerende roman oor vriendskap, leuens en vergifnis. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R250.

Groot opgewondenheid heers oor die verskyning in Mei van Draairivier, ’n debuutroman wat Engela Ovies van Noudonsies naby Augrabies met die hulp van die Jakes Gerwel-stigting voltooi het. Dié “deernisvolle verhaal oor familie, vriendskap, liefde en vergifnis” speel af in die Kersvakansie van 1955: Die plaaswerkerkind Sanna Jansen sukkel om te verstaan waarom vlinders haar maag karnuffel elke keer as sy die buurseun, Johannes, raakloop. En wanneer sy een middag aanklop by Inge in die Groothuis, besef sy nie hoe dié vriendskap haar en Johannes se lewe onherroeplik gaan verander nie. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R230.

Die enigste Afrikaanse roman op Protea Boekhuis se voorlopige publikasielys vir 2020 (Junie) is Renée Rautenbach Conradie se debuut, Stempels, wat beskryf word as “tegelyk liefdesverhaal en historiese roman met volronde karakters en ’n trefseker gevoel vir lokaliteit”. Dit dek ’n fassinerende tyd: die eeuwisseling van 1900.

Meer oor:  Nuwe Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.