Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Berigte uit die binneland

’n Troppie nuwe memoires wat aanstons in die winkels land, beloof om nuuskierige lesers tot in die binnekamer van ’n paar bekendes te neem.

Anton Goosen: Liedjieboer deur Hanlie Retief van Rapport “is ’n wonderlike blik op ’n lewe se plesier, prestasies en ’n hardkoppige wil om dinge op sy unieke manier te bly doen . . . Die feite, die skinner agter die skinner, die hele musikale kragtoer, die man wat rebel én rigtinggewer was. Onvergeetlik,” sê Kerneels Breytenbach oor dié aangrypend eerlike biografie van die vader van Afrikaanse rock wat in boekwinkels geland het. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290. Lees 'n uittreksel hier.

As een van die 12 NG Kerk-lidmate wat dié kerk hof toe geneem het oor die omstrede herroeping van ’n positiewe besluit oor selfdegeslagverhoudings, vertel Frits Gaum in Kerk oor die muur of oor die Rubicon? Oor geloof, onreg en ’n hofsaak van sy persoonlike pelgrimstog met die NG Kerk en sy reis na selfontdekking en selfverantwoording. In die proses dwing hy lesers om na te dink oor onder meer geloof en wat mense deesdae glo, onreg, die pyn van ander en natuurlik die moeilike hofsaak wat ’n streep in die sand getrek het. Bel Tertia Swart van Naledi by 078 648 8616 of stuur ’n e-pos na tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Grondbesit is waarskynlik een van die plofbaarste onderwerpe in Suid-Afrika, maar verbasend min is bekend oor hoe die botsings met die Nederlandse en Britse koloniste, trekboere en setlaars daartoe gelei het dat die San-, Khoikhoi-, Xhosa-, Mfengu- en Thembu-mense stelselmatig van hul grond onteien is. John Laband se The Land Wars: The Dispossession of the Khoisan and AmaXhosa in the Cape Colony word beskryf as ’n epiese verhaal wat noodsaaklike leesstof is vir almal wat die Suid-Afrikaanse verlede en hede wil verstaan. Dit skram ook nie weg van omstrede kwessies soos die oorloë tussen die inheemse volke, oorlogsmisdade aan albei kante van die spektrum of inheemse groepe wat hulle eerder aan die kant van die kolonialiste geskaar het nie. Die boek verskyn einde vandeesmaand. Uitgewer: Penguin. Prys: R290.

’n Hartroerende video wat Jarette Petzer in September 2019 op Facebook geplaas het, het gelei tot die geboorte van die Facebook-groep #ImStaying wat vandag met 1,2 miljoen volgelinge spog. Natasha M. Freeman se #ImStaying: Good Thoughts, Good Words, Good Deeds – The Unspoken Impact of the #ImStaying Movement vertel dié verhaal van hoop oor kulturele, rasse-, sosio-ekonomiese en politieke grense heen. Die boek land vandeesweek in die winkels. Uitgewer: Penguin. Prys: R250.

Die vyfde mevrou Brink is Erika Viljoen se Afrikaanse vertaling van Karina M. Szczurek se herinneringe wat oorspronklik in 2017 deur Jonathan Ball uitgegee is. Sy vertel van haar lewe voor, tydens en ná haar huwelik met André P. Brink. Die uitgewer, wat in 2018 ook Szczurek se memoires, You Make Me Possible: The Love Letters of Karina M. Szczurek & André Brink uitgegee het, beskryf dié openhartige verhaal van twee skrywersgeeste as ’n “huldeblyk aan ’n huwelik wat tragies kortgeknip is, maar ook aan ’n liefde wat ’n leeftyd sal hou”. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R265.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.