Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Helder herinneringe

’n Vlaag van nuwe boeke wat ’n mens, gebeurtenis of tydvak gedenk, het op die boekeredakteur se lessenaar geland.

Met die publikasie van Porseleinskerwe: Herinneringe op byna 88-jarige ouderdom verbreek die digter en skrywer Marié Blomerus ’n lang stilte. Die boek bevat 55 sketse van drie tot sewe bladsye elk waarin sy herinneringe, vlugtige indrukke en “woordprentjies” deel oor haar jeugjare en eksentrieke familie, die landskappe van Namibië, die geskiedenis van Duitswes en haar reise. Volgens die uitgewer sal ouer lesers, aanhangers van Blomerus se digkuns en almal wat lief is vir woorde en reise aanklank vind by haar reisbeskrywings en besinnings. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R180.

In Impossible Return: Cape Town’s Forced Removals vertel Siona O’Connell die hartverskeurende verhale van gesinne wat in die 1970’s uit hul huise in Harfield Village in die suidelike voorstede van Kaapstad gedwing is. Sy skryf oor hoe hul oorweldigende gevoelens van woede, pyn, verlies en verwerping ook gegaan het oor ’n ganse manier van leef en ’n gevoel van gemeenskap en tuishoort wat só tot ’n einde gekom het. David Brown se foto’s wys die lewe in die buurt vóór die verskuiwings, maar dit word afgerond met meer onlangse foto’s van die inwoners nou. Uitgewer: Kwela. Prys: R275.

Stephen le Roux, ’n Bredasdorpse geoloog wat op eksplorasie- en mynbouprojekte fokus, was op skool as Toy bekend en vertel in Toy van Carnarvon die ware verhaal van ’n seun uit ’n arm spoorweggesin wat soms bottels en bene moes optel en verkoop om die gesin te help oorleef. Volgens die flapteks lei Toy se weetgierige geaardheid, positiewe uitkyk en wil om bo uit te kom gelukkig tot ’n “inspirerende suksesverhaal” waarin die skrywer met humor en in ’n eiesoortige Afrikaans verskeie skreeusnaakse stories vertel wat net op ’n klein dorpie kan plaasvind. Uitgewer: Naledi. Prys: R220.

As jy wonder hoe politieke vryheidsvegters die stormagtige 1980’s oorleef het, behoort Voices from the Underground: Eighteen Life Stories from Umkhonto we Sizwe’s Ashley Kriel Detachment onder redaksie van Shirley Gunn en Shanil Haricharan ’n paar stewige antwoorde te verskaf. Hierin vertel 18 lede van die ANC se ondergrondse militêre vleuel hul stories en agtergrond. Hulle verduidelik ook wat hul rol was in die gewapende stryd en hul lewe ná die val van apartheid. Uitgewer: Penguin. Prys: R275.

Cécile is ’n lieflike koffietafel-huldigingsboek met fantastiese foto’s wat die lewe vier van Cécile Tilley (1925-2014), wat vir vyf dekades ’n befaamde Suid-Afrikaanse stylikoon was. Sy was ook medestigter van die ontwerp­ateljee en -winkel Cécile & Boyd, wat vanjaar sy 30ste bestaansjaar vier. In dié boek, wat fokus op wat Tilley help vorm het, is die mense aan die woord wat haar die beste geken het. Bestel dit aanlyn by www.cecileandboyds.com/shop. Uitgewer: Cécile and Boyd. Prys: R390.

In Robert Mangaliso Sobukwe: New Reflec­tions, saamgestel deur Benjamin Pogrund, Sobukwe se vriend en biograaf, deel 20 medewerkers hul jongste insigte oor die lewe, idees en nalatenskap van dié Afrikanistiese denker wat die PAC gestig het. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.