Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Jeugromans met murg in die pype

Dié vyf nuwe Afrikaanse jeugromans beloof om jonger lesers vir ’n wyle aan iets anders as hul foon vasgenael te hou!

Zelda Bezuidenhout van Parys in die Vrystaat se grensverskuiwende nuwe jeugroman, Toe ons oneindig was, vertel die storie van ’n meisie wat nog altyd gedoen het wat van haar verwag word – totdat sy een middag in ’n aantrekhokkie vir die eerste keer gesoen word. Die uitgewer beskryf dit as ’n storie oor vriendskap en lojaliteit, seksualiteit en vloeibaarheid, maar bowenal die storie van ’n meisie op ’n selfontdekkingsreis. Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: R210.

Met die vermaning “As jy wil wraak neem, moet jy twee grafte grawe” op die voorblad, weet jy sommer Fanie Viljoen se Donker web, die vervolg op Onderwêreld, gaan die teikengehoor van 14 jaar en ouer weer behoorlik laat naels kou. Greg Owen, voormalige hoofseun en kuberkraker van formaat, is nou ’n eerstejaarstudent op Stellenbosch. Sy ontmaskerde pa en Dok Pienaar is agter tralies, maar wie en waar is die Butcher? Uitgewer: Tafelberg. Prys: R250.

Melkweg is die digter en skrywer Zandra Bezuidenhout se Afrikaanse vertaling van ’n “kinderboek” deur Bart Moeyaert wat in 2011 oorspronklik in Nederlands verskyn het. Op een van die laaste somerdae sit drie kinders op ’n muur en kyk na Melkweg, ’n slapende straat waar dit lyk of die tyd ook stilstaan, maar dan stel Bossie voor hulle moet ’n weddenskap aangaan, en skielik is alles in rep en roer. Die resensent van die Vlaamse koerant De Morgen het destyds gejubel: “Almal moet De Melkweg lees. Pa’s, ma’s en hul kinders. En verkieslik saam. Hulle moet hul arms om mekaar se skouers sit en dit geniet – hierdie pragtige, intieme verhaal oor ’n doodgewone gesin wat mekaar net nie kan verstaan nie.” Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R195.

Die Kaapstadse prokureur William Oosthuizen het verlede jaar verras met sy debuutroman, Die dame met die hondjie, en nou verskyn sy eerste jeugroman vir lesers van 14 jaar en ouer, Die lewe volgens Wim Vermaak. Die lewe van die titelkarakter in gr. 9 is totaal onderstebo: Rooi hakskene meng in met sy skoolwerk, sy tweelingsuster wil Mars toe foeter, sy ouma val vir ’n internetslenter en ’n geraamte saai onmin tussen sy ouers... Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R165.

In Die vlerke van naaldekokers deur Cecilia Steyn van Orkney ontmoet lesers vir Kylie, wat haar hand en haar jong sussie in ’n ongeluk verloor het. Maar dan vertrek sy saam met haar eksentrieke oupa en sy assistent op ’n “reis terug na haarself en heelword” waarop sy ’n paar goed op haar gestorwe sussie se emmerskoplysie kan afmerk. Dit is gemik op lesers van 14 jaar en ouer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R185.

Meer oor:  Fanie Viljoen  |  Cecilia Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.