Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Lees vir die gees

’n Vyftal nuwe niefiksieboeke bekyk fisieke maar vernaam geestelike ‘avonture’ van mans wat op soek is na hoop of heling.

Die Rapport-joernalis en oudonderwyser Julian Jansen bespreek in Seuns sonder pa’s die verskynsel dat meer as 60% van die kinders in ons land sonder ’n pa grootword. Dit maak veral jong seuns vatbaar vir die invloed en kameraadskap van bendes. “As die pa afwesig is en die gemeenskap of familie nie ingryp nie, sal die seun spoedig ’n plaasvervanger vir hom soek,” skryf hy in die inleiding.

Jansen se benadering is prakties en geestelik: Hy gesels met verskeie mense wat daagliks met die situasie te doene kry en ’n verskil probeer maak, maar delf ook diep in sy eie lewe “oor hoe dit was om onder die hoofleeu se gesag te leef”, en hy wonder waarom hy en sy broers nie skollies geword het nie. ’n Resensie verskyn eersdaags.

Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R230.

Gangster bevat nege ware verhale waarin die joernalis en skrywer Carla van der Spuy in gesprek tree met dié wat die geweld gepleeg het sowel as dié wat onskuldig is – van geharde en gerehabiliteerde bendelede en ’n ma wie se kind koelbloedig vermoor is tot polisie- en tronkbeamptes, en die pastore wat tussenin probeer help.

Die skrywer laat toe dat mense in hul eie woorde ’n beeld skep van die hoop en wanhoop wat deel is van die bendelewe. Volgens die uitgewer wys die boek waarom bendes steeds groei, wat dit is wat kinders so jonk as 12 na bendes lok, en hoe sommige tog daarin slaag om hul lewe reg te ruk.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R265.

Jamie Marais is daai manhaftige spinnekop met die hoë pyndrempel wat in 2016 Tafelberg 22 keer in 28 uur oor twee dae uitgehardloop het – amper dubbel die hoogte van Everest, en dít boonop met ’n geskeurde membraan in sy heuppotjie. In Determination: The Autobiography kry jy presies wat die lokteks op die voorplat beloof: “Hope and determination – the inspiring story of the life-changing power of sport.”

Die boek is by goeie boekwinkels beskikbaar of kan aanlyn bestel word by www.jamiemarais.com.Selfpublikasie. Prys: R299.

Nes elke huis sy kruis het, het elke seepkas sy geraamte. Op 34 bieg Reynardt Hugo, wat dr. Tertius Jonker in die sepie Binnelanders vertolk en ’n lid was van die popgroep Adam, hy het jare lank probeer om sy verwondheid met drank, dagga, vroue en pornografie reg te dokter.

Nou deel hy in ’n kompakte outobiografiese geloofsboek Soldaat sy “verhaal vol tragedie, intrige en nederlae”, maar ook die “verhaal van oorwinning en van die krag van die evangelie van Jesus Christus”.

Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R220.

Jaco Strydom se Leef lig gaan oor “vyf gewoontes van die vroeë kerk en wat dit vir ons vandag beteken” wat gelowiges kan help om met min bagasie te reis: Sonder jouself af in gebed, reis lig, leef in eenheid, wees goed vir jou vyande, en gee om vir die wêreld en gaan uit en doen dit wat jy geleer het.

Die skrywer vra “ons elkeen om nuut te kyk na hoe ons lewe, om dinge anders te doen, en aan te hou daarmee totdat dit ’n gewoonte word.

“So kan ons geestelik groei, ’n verskil maak in hierdie wêreld en die lewe in oorvloed waarvan Jesus praat voluit beleef.”

Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R200.

Meer oor:  Carla Van Der Spuy  |  Reynardt Hugo  |  Julian Jansen  |  Gangster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.