Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Leesgoed vir die jonges van gees

Jonges van die vlees en gees sal hulle verkneukel in dié viertal nuwe en klassieke kinderboeke.

Met meer as 170 boeke (waarvan oor ’n miljoen eksemplare verkoop is!) én meer as 40 boekpryse op sy kerfstok is die Bloemfonteiner Jaco Jacobs sekerlik die suksesvolste kinderboekskrywer tot nog toe in Afrikaans. Nou verskyn sy eerste boek by Pan Macmillan, waar Miemie du Plessis, die uitgewer saam met wie hy 18 jaar by Lapa gewerk het, deesdae die kinderboekuitgewer is. Oupa Zombie verskyn gelyktydig in Afrikaans en Engels met plesierige illustrasies deur Theodore Key. Dit is gemik op lesers van nege en ouer en vertel die storie van Alex se gryskop-oupa met valstande wat mal is oor TV-reisprogramme, maar stadig besig is om in ’n zombie te verander. As Alex hom wil red voor die zombiepolisie opdaag, sal hy met ’n paar briljante planne en hope broccoli vorendag moet kom.

Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: R225.

In jou gedagtes is ’n atmosferiese hardeband-prenteboek oor lewe en dood deur die Nederlandse verhoogkunstenaar en skrywer Herman van Veen. Die veelbekroonde Alida Bothma is vir die illustrasies verantwoordelik, terwyl die digter en akademikus Zandra Bezuidenhout die Afrikaanse vertaling behartig het. Dit is gemik op lesers tussen drie en agt, maar sal geniet word deur almal wat jonk is van gees. Só stel die agterblad dit: “In jou gedagtes kan jy orals wees, in die hemel sonder om eers dood te gaan, en hop-hoppetie-hop oor die Himalajas . . . In jou gedagtes kan jy wees net wat jy wil, en ook alles word. Soos ’n walvis wat kan vlieg. Of ’n rob wat kan lees. In jou gedagtes kan jy doen wat jy glad nie kan doen nie. Jy kan hê net wat jy wil, en begryp wat jy nie verstaan nie. En weet dat die tyd net ’n grappie van die son is.”

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R185.

Die geliefde skrywer Alba Bouwer sou op 16 Maart haar honderdste verjaardag gevier het, en om dié geleentheid te herdenk het ’n heruitgawe van haar klassieke omnibus – Stories van Rivierplaas, Nuwe stories van Rivierplaas en Stories van Ruyswyck, kompleet met Katrine Harries se illustrasies – pas onder die titel Rivierplaas verskyn.

Stuur jouself of jou kinders of kleinkinders op ’n nostalgiese reis na die dae voor televisie en rekenaars toe jongelinge ál spelende op plase grootgeword en gewone plaasdinge vir die daaglikse opwinding gesorg het.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

Werner Holzwarth se Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het het reeds in 1989 in Duits verskyn. Die eerste Afrikaanse uitgawe (2002) wat deur Linda Rode vertaal is, is pas ’n vyfde keer herdruk om saam te val met die spesiale 30ste verjaardagvieringe van dié komieklike storie wat die weg gebaan het vir die vlaag skatalogiese kinderlektuur wat sedertdien verskyn het.

Al is dit gemik op kinders van 0-6, sal almal plesier hê aan die molletjie se speurtog na die een wat verantwoordelik was vir die drolletjie op sy kop.

Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R130.

Meer oor:  Jaco Jacobs  |  Kinderboeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.