Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Louw gehuldig, en ’n kunswoordeboek

’n Publikasie deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns en een deur Protea Boekhuis beloof om Afrikaans as akademiese taal te verruim.

Al het wyle Anna M. Louw (1912-2003) ook kortverhale, dramas, hoorspele en ’n jeugroman geskryf, is dit veral haar nege romans, vier novelles en drie reisboeke wat aan haar ’n plek in die Afrikaanse kanon verseker het. Die bekendste is waarskynlik die magistrale Kroniek van Perdepoort(1975) wat destyds met die Hertzogprys, die CNA-prys en die W.A. Hofmeyr-prys bekroon is.

Chris van der Merwe, emeritusprofessor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad, is die samesteller van die huldigingsbundel Anna M. Louw: Fassinerende, veelkantige skrywerwat pas verskyn het. Dit is die agtste publikasie in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks wat hulde bring aan literêre kunstenaars wat met die Hertzogprys bekroon is en wat oor dekades Afrikaans en die letterkunde verryk het.

  • Bo en behalwe Erika Terblanche se biografiese oorsig oor Louw se lewe en werk, bevat die boek ook herinneringe deur haar dogter wyle Editha Wilson (Bassel) wat dood is kort nadat sy haar bydrae voltooi het, Louw se enigste seun, Nicholas Hurst, en haar skoonseun Wieland Gevers. Hierop volg dan die leeuedeel akademiese bydraes wat eweknie-geëvalueer is deur Johan Cilliers, Heilna du Plooy, Hans Ester, Sonja Loots, Amanda Lourens, Fransjohan Pretorius, Cas Wepener, Chris van der Merwe, Phil van Schalkwyk en Hein Viljoen. Drie van die bydraes fokus spesifiek op Kroniek van Perdepoorten bespreek onderskeidelik die mistiek en erotiek (Wepener), estetiese vormgewing en tyd (Du Plooy) en retoriese ruimte (Van Schalkwyk) in die roman.

Uitgewer: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Onderwysers, lektore, skoliere, studente en ander lede van die “diskoersgemeenskap in die kunste” sal in die wolke wees oor die publikasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se tweetalige Kunswoordeboek/Arts Dictionary onder redaksie van prof. Alex Duffey en Susan Roets. Duffey, wat reeds in 1999 die dringende behoefte aan ’n moderne woordeboek vir die visuele kunste en argitektuur teenoor die Akademie se Kommissie vir Visuele Kunste uitgespreek het, is aangewys as projekleier en lid van die voorlopige werkkomitee wat ’n verteenwoordigende groep vakspesialiste en -deskundiges uit verskeie velde en subvelde genader het om lyste terme uit hul velde by te dra. Dié gebruikersvriendelike moderne naslaanwerk bevat ’n menigte tegniese terme, begrippe en gebruike in verskeie velde in die visuele kunste, onder meer beeld-, skilder- en tekenkuns, estetika, argitektuur, kunsgeskiedenis, -metodologie, -onderrig en -praktyk, kunsweefwerk, keramiek, grafiese ontwerp, televisiegrafika, animasie, industriële ontwerp, inligtingsontwerp, museumkunde, fotografie en drukwerk.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R495.

Meer oor:  Nuwe Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.