Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Maak iets soets uit die lewe se suur

Vier eiehulpboeke wat beloof om ’n huppel in die gees sowel as die vlees te sit, het op die boekeredakteur se lessenaar beland.

  • Die titel Kanker schmanker! en die pienk verfspatsel op die voorblad met die woorde “Hoe een dapper vrou vir die groot K tong uitgesteek het!” gee ’n goeie aanduiding van die eerlikheid, patos én humor waarmee die misdaadfiksieskrywer haar borskankerdiagnose hanteer het. In dié vertelling van “hoop en triomf” deel sy nie net intieme outobiografiese besonderhede nie, maar ook inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en wat borskankerstryders én hul geliefdes sal help om die reis met kanker beter te verstaan. Al die inkomste wat die skrywer uit die boek verdien, word aan organisasies geskenk wat mense gedurende of ná hul stryd met kanker bystaan. Uitgewer: Lapa. Prys: R245.
  • Elise Nel, ’n verpleegster en Karoo-boervrou, se eens briljante man, Willie, raak aggressief en vergeetagtig en tree heeltemal anders op as wat sy hom ken. Wanneer Alzheimer se siekte by hom ge­diagnoseer word, vra hy haar in ’n oomblik van helderheid om tot die einde na hom om te sien. In hierdie aangrypende, deernisvolle verhaal met ’n Christelike onderbou vertel sy nie net hul eie storie nie, maar gee ook praktiese raad aan versorgers en stippel die tekens uit waarna ’n mens moet oplet. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R200.
  • Dr. Johan Ferreira, hoof van sielkundige dienste by die Mosaïek-kerk in Johannesburg, sê mans leef in ’n snelveranderende wêreld waar die rolle van manlikheid só verander het dat dit met tye vir die Adamsgeslag moeilik is om te weet wie hulle werklik is en wat van hulle verwag word. Met Vir mans: Rus jouself toe om vervuld te leef probeer hy mans toerus met relevante inligting en praktiese raad wat hulle sal help om doeltreffender, emosioneel gelukkige en vervulde lewens te lei. Die boek is in vyf afdelings verdeel: verhoudings- en lewensfase-uitdagings, verslawing, gemoedsprobleme en traumatiese ervarings. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R195.
  • In die Christelike eiehulpboek Suurlemoenseisoen: Herbou jou lewe in 52 weke deel die lewensafrigter en oudjoernalis Amanda de Lange 52 inspirerende werkstukke wat volgens die uitgewer ontwerp is “om die suur van die lewe te verander in iets soets”. Die boek wil lesers help om anders na hul omstandighede te kyk “en te besef dat daar in Hom altyd ’n oplossing is vir selfs dit wat ondraaglik lyk”. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R160.
Meer oor:  Alzheimer Se Siekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.