Deur een of al vyf dié splinternuwe feiteboeke in jong weetgieriges se Kerskous te sit, sal jy sorg dat almal reikhalsend uitsien na skooltake en vasvra-aande in 2020, skryf Magdel Vorster.
Ontdek: Die menslike liggaam deur Richard Walker, Ontdek: Planete deur Carole Stott en Ontdek: Diere deur Tom Jackson. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R175 elk.
Hoekom nie?: 1 111 vrae en antwoorde vir nuuskierige agies deur Crispin Boyer. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R350.
Die slymerigste, stinkerigste eksperimenteboek deur Kris Hirschmann. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R150.
Vir almal wat nog tob oor wat hulle in die Kerskous van ’n weetgierige kind kan stop, is daar uitkoms in die vorm van vyf fassinerende vakliteratuurtitels.
Anita van Zyl het drie Dorling Kindersleytitels in uiters verteerbare Afrikaans vertaal om ’n magdom feitelike inligting binne die begripsraamwerk van jong lesers te plaas.
In Ontdek: Die menslike liggaam word verduidelik hoe die liggaam bestudeer word en hoe die liggaam aanmekaar gesit is, funksioneer en aan die gang bly. Dit is kleurvol geïllustreer deur middel van foto’s, diagramme en grafiese voorstellings.
In Ontdek: Planete word die ruimte ewe breedvoerig verken. Benewens die son en die agt planete wat daarom wentel, word mane, asteroïede, dwergplanete, eksoplanete en komete bespreek. Hierdie boek sal beslis help om skooltake te vergemaklik.
Dorling Kindersley se diereboek Ontdek: Diere bied ’n uiteensetting van die kleinste insekte tot die enorme boggelrugwalvis. Spesies en hul onderskeie liggaamstelsels, diëte, oorlewingsvereistes en -vaardighede word bespreek. Die feite word weer kleurryk met foto’s en grafiese voorstellings toegelig.
Crispin Boyer se lieflike volkleur-hardebandboek Hoekom nie? is knap in Afrikaans vertaal deur die jeugboekskrywer Elizabeth Wasserman en verskaf antwoorde op meer as 1 111 hoekoms. Dit is verdeel in sewe hooftemas – diere, die aarde, die heelal, geskiedenis, die liggaam, tegnologie en popkultuur.
Kobus Geldenhuys is die vertaler van Die slymerige, stinkerigste eksperimenteboek, ’n prettige, humoristiese titel met kleurvolle karikatuurtekeninge. Ingewikkelde wetenskaplike begrippe word onder meer aan die hand van toilethumor verduidelik. Lesers moet egter nie net toilethumortaal verwag nie – in die hoofstukke oor reuk word nie weggeskram van terme soos olfaktoriese reseptore nie.
- Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.