Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: ’n Halfdosyn vir jong feitevrate

Dié ses nuwe niefiksieboeke vol feite en prettige aktiwiteite beloof om jong feitevrate se grendelkoors vir ’n wyle te laat wyk.

In Leon de Villiers se dun maar deksels plesierige Wetenskaap (Lapa, R135) – “ ’n wollerige boek vir nuuskierige kinders wat hou van ongelooflike onbenullighede, vreemde vyte en . . . slim skape” – kan feitevrate van 11 jaar en ouer op ’n speelse, aweregse manier wonderlike vyte oor die mens, die aarde en allerlei ander dinge en diere leer. Die vrae en antwoorde is bondig maar werklik interessant, met prettige illustrasies deur Linki Brand.

Susan Martineau se Regte-egte raaisels en Regte-egte rampe (Human & Rousseau, R175 elk) is gemik op kinders van nege tot 12 jaar en dek onderskeidelik die verstommendste kopkrappers (harige monsters, vreemde vlieënde voorwerpe en veel meer) en die vreesaanjaendste natuur- en mensgemaakte rampe, elk met sy eie dossier vol feite oor wat regtig gebeur het.

Grendelkoorslyers van enige ouderdom sal kort mette maak van die ledige uurtjies met die 366 plesierige voorstelle in Fanie Viljoen se aktiwiteitsboek, Doendinge vir elke dag van die jaar (Lapa, R90). Dié idees sluit in enigiets van kunsprojekte en speletjies tot allerlei eksperimente. Elke aktiwiteit het ’n boksie om af te merk en ’n plek om die datum waarop dit voltooi is in te vul. Volgens die uitgewer is die boek ook ideaal vir onderwysers, wat dit reeds in hul gr. R-klasse kan begin gebruik.

Almal van agt tot 80 jaar wat hou van dinosourusse, sal gaande wees oor Lily Murray se Dinosourium (Protea Boekhuis, R450), ’n grootformaat-hardebandboek met pragtige illustrasies deur Chris Wormell. Dit word nie verniet beskryf as ’n “natuurwetenskapmuseum in drukvorm” nie en is ’n wonderlike geskenk vir enigeen wat meer oor die oerwêreld en sy interessante gediertes te wete wil kom.

Al weet g’n mens wanneer daar eendag weer eisteddfods gehou gaan word nie, kan laerskoolleerlinge van nege tot 12 jaar solank begin oefen met die voorstelle in Gloudine Kellerman en Jonelle du Toit se Eisteddfod-pret 2: Nóg gedigte, monoloë en samesprake vir die laerskool (Human & Rousseau, R235). Hierdie versameling van 108 oorspronklike gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake met illustrasies deur Tumi K. Steyn volg op die baie suksesvolle eerste titel in die reeks. Louise Lachenicht se riglyne vir ouers, onderwysers en afrigters met ’n fokus op gedramatiseerde poësie sal help verseker dat elke deelnemer hul beste werk kan lewer.

Meer oor:  Fanie Viljoen  |  Leon De Villiers  |  Kinderboeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.