Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: ’n Kers-leesfees vir alle jonges van gees

Dié laaste besending nuwe leesstof vir 2020 is perfek om in die Kerskous van jonges te stop om die lang somersdae vermaakliker te maak.

Die Poolse bioloog Wojciech Grajkowski se boeiende teks oor die geskiedenis, mites, legendes, biologie en rol van onderskeidelik bome en bye asook die indrukwekkende illustrasies van Piotr Socha, een van dié land se gewildste illustreerders en strokiesprentkunstenaars, verhef Die boek van bome en Die boek van bye tot iets wat dié Kersfees in Afrikaanse kinders van sewe en ouer se Kerskous hoort. Hierdie ensiklopediese grootformaat-hardebandprenteboeke is al in meer as 25 tale uitgegee en met vele internasionale pryse bekroon. Al is dit gemik op jong lesers, sal “alle volwasse leunstoel-ontdekkers en natuurliefhebbers” volgens die uitgewer daarby aanklank vind. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R395 stuk.

Planetarium, die derde titel in die Welkom by die museum-reeks groot­formaatboeke, sal kinders van nege tot 14 op ’n verstommende reis neem waarin ’n hele paar van die ruimte se geheimenisse – die sonnestelsel, son, naghemel, sterrestelsel en heelal – ontsluit word. Raman Prinja, skrywer van dié lieflike hardebandboek wat deur Burgert Behr in Afrikaans vertaal is, is ’n professor in astrofisika, maar hy weet hoe om dié komplekse onderwerp interessant en verteerbaar aan te bied, gerugsteun deur Chris Wormell se pragtige illustrasies. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R450.

Engela Duvenage se inspirerende en gewigtige niefiksieboek Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika stel kinders van nege en ouer bekend aan meer as 100 bekende en minder bekende wetenskaplikes wat baanbrekerswerk verrig – van mediese deurbrake tot interessante ontdekkings oor die hemelruim, fossiele, die aarde, water, klimaat, diere en plante. Uitgewer: Lapa. Prys: R330.

Kobus Geldenhuys se Afrikaanse vertaling van twee geïllustreerde storiebundels gemik op lesers tussen ses en nege is die perfekte keuse om ’n nuwe geslag bekend te stel aan die klassieke verhale waarmee baie van ons grootgeword het. Die mooiste avontuurverhale bevat stories soos “Om die wêreld in 80 dae”, “Robinson Crusoe”, “Die drie musketiers” en “Tarzan”, terwyl Die mooiste fabelsdeur La Fontaine verhale soos “Die wolf en die lam”, “Die duif en die mier” en “Die leeu en die muis” insluit. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R230 stuk.

Die kindersielkundige Ronél van der Watt se Hoephoepieland: Tien omgeestories met hart bevat tien lekkerleesstories wat binne die multikulturele Suid-Afrikaanse konteks afspeel en vertel hoe kinders traumatiese situasies (’n taxi-ongeluk, vreemdelinghaat, ’n huis wat afbrand en ouers wat baklei), mediese toestande en verskillende gesinsamestellings (soos aanneming en ’n afwesige vader) ervaar en hanteer. Die stories, geïllustreer deur Mandé du Plessis, gee aan kinders hoop, maak hulle bewus van ander se lewensomstandighede en dra by tot die ontwikkeling van empatie. Kontak Tertia Swart by 078 648 8616 of tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel. Uitgewer: Naledi. Prys: R140.

Kobus Geldenhuys het ook die Amerikaanse spotprentkunstenaar en kinderboekillustreerder Dav Pilkey se strokiesprentboekreeks Dog Man in Afrikaans vertaal as Hondman. Dié heldhaftige brak met ’n neus vir geregtigheid het nou wel die kop van ’n hond en die lyf van ’n mens, maar is sy hondemaniere regtig iets van die verlede? Vir kinders tussen ses en nege. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R190.

Die Swartlandse kunsonderwyseres Heléne de Clercq het haar prettige avontuurverhaal n Vreeslike gevloekery vir voorlees (vyf- tot negejariges) of selflees (nege- tot 12-jariges) self geïllustreer. Hierin kom soek die bekkige papegaai Sampie skuiling by Jannes wat baie graag ’n troeteldier vir geselskap wil hê, maar nie een wat vloek soos ’n matroos nie! Volgens die uitgewer kan ouers die boek met ’n geruste hart koop, want die “vloekwoorde” kan selfs voor die dominee herhaal word sonder dat Ma bloos. Kontak Tertia Swart by 078 648 8616 of tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel. Uitgewer: Naledi. Prys: R140.

In die Jeffreysbaaise skrywer en resensent Louise Viljoen se fantasieverhaal Die blink idee probeer Drakon die draak en Lente die feetjie uitvind wie nou eintlik die blink idee gehad het. Dié verbeeldingryke, humoristiese storie is ideaal vir voorlees en selflees en op die agterplat loof die skrywer De Wet Hugo dit as “oorspronklik en kleurvol” – net jammer hy is tot Hugo de Wet herdoop! Kontak Tertia Swart by 078 648 8616 of tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel. Uitgewer: Naledi. Prys: R140.

Poppedonsie: Agt kort stories vir kleuters, een vir elke aand is die eerste kinderboek uit die pen van die misdaadskrywer Carla van der Spuy. Hierin beleef Poppedonsie, ’n kleuter wat pas begin stap het, allerlei avonture saam met haar onhebbelike ouma wat glo jellie is speelgoed en wat Poppedonsie se ertjies met Smarties meng sodat dit lekkerder smaak. Bestel dit aanlyn by www.minimalpress.co.za (klik bo op “Shop”). Uitgewer: Minimal Press. Prys: R165.

Pieter W. Grobbelaar se Jakkals en Wolf met illustrasies deur Séan Venter is pas herdruk en die meer as 50 stories daarin beloof om kinders tussen nege en 12 aan die lees en die lag te hou. Dit is nie net Wolf wat onder Jakkals se poetse deurloop nie, maar die ganse diereryk, van koning Leeu tot die kleinste diertjie, ry aan die pen. Die boek is tot 1 Mei eksklusief by CNA te koop. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R240.

Die plaas  en Die see is die eerste boeke in die Loer binne!-kartonboekreeks wat op kinders tussen een en ses gemik is. Elke titel bevat tien lig-en-loer-flappies met versteekte verrassings. Dié leergidse met illustrasies deur Fiona Powers verbeter ook hand-oog-koördinasie. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R150 stuk.

Meer oor:  Kinderboeke  |  Nuut Op Die Rak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.