Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: ’n Vars baksel verse

Twee eiesoortige Afrikaanse en Engelse digbundels het op die boekeredakteur se lessenaar beland.

Die digter en vertaler Cas Vos se idiolek kom na vore in dié versameling gedigte wat opgeneem is in sy 11de bundel, Vlug van die gees. Die ryk geskakeerde verse vra wat die sin is van ’n “lewe omring deur ’n gebrek aan liefde en deernis, bedreig deur armoede, onreg, korrupsie, hooploosheid, siekte wat genees en siekte wat tot die dood lei”. Op die agterplat skryf Jacques van der Elst “spanning, metafore, ironieë, paradokse, en die kroon van alles, die liefde, wat die oerchaos oorwin, weef die bundel tot ’n hegte eenheid”. Uitgewer: Naledi. Prys: R220.

S’khahlel u-OR is ’n epiese Engelse lofdig oor wyle Oliver Tambo, ANC-president tussen 1967 en 1991, uit die pen van die hofdigter en struggleveteraan Mongane Wally Serote. Volgens die uitgewer word Tambo se kinder- en strugglejare, sy rol in die ANC en sy visie vir Suid-Afrika onder meer aangeroer. Oudpres. Thabo Mbeki loof dit op die voorplat as “an immensely creative work of love”. Uitgewer: Kwela. Prys: R230.

Voorspraak is die tweede digbundel van die Pretoriase narkotiseur Hendrik J. Botha. Sy debuut, Atropos, wat in 2015 verskyn en die kortlys van die Ingrid Jonkerprys gehaal het, is voltooi as deel van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns wat hy in 2013 met lof onder leiding van Joan Hambidge voltooi het. Voorspraak se vyf afdelings bevat verse oor liefde, die dood en sterflikheid, die mens se fundamentele eensaamheid regdeur sy lewensreis, verskillende ruimtes en mediese verskynsels as prikkel vir besinnende verse oor metafisiese en ander kwessies soos godsdiens en maatskaplike ongelykheid. Uitgewer: Naledi. Prys: R220.

’n Verskeidenheid kosbare dog uitdagend sombere insigte oor die lewe aan die suidpunt van Afrika word vasgevang in Haiku from the tip of Africa, ’n nuwe versameling Japannese haikoes van 17 sillabes oor drie reëls deur Anthea Pretorius, ’n boorling van Botswana. Die bundel bevat ook ’n QR-kode wat jou toegang gee tot ’n gratis klankopname. Uitgewer: Naledi. Prys: R220.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.