Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: ’n Vloedgolf niefiksie

Nuwe boeke oor van politiek tot reis is op pad na die winkelrakke.

POLITIEK

Die titel van James-Brent Styan en Paul Vecchiato se boek oor die jongste aflewering in die staatskapingsage sê alles: The Bosasa Billions: How the ANC Sold its Soul for Braaipacks, Booze and Bags of Cash word beskryf as ’n tydige en deeglike oorsig oor hoe een maatskappy dit reggekry het om ’n uitgebreide tendernetwerk te vestig om die staatskoffers leeg te tap. In Oktober verskyn nóg ’n Bosasa-boek by Jonathan Ball: Blessed by Bosasa: Into the Heart of a State Capture Cult deur Adriaan Basson. Uitgewer: Lapa. Prys: R295.

Hoor hoe loof pres. Cyril Ramaphosa Mcebisi Jonas, oud-adjunkminister van finansies, se boek After Dawn: Hope After State Capture: “This important book is a guide to dialogue and engage with each other as we make the difficult trade-offs required to reach our dream.” Jonas ontleed die huidige stelsel waar politiek ten koste van groei koning kraai. In die tweede helfte van die boek deel hy praktiese oplossings vir ekonomiese groei. Uitgewer: Picador Africa. Prys: R290.

Die 26 diep persoonlike essays wat Niq Mhlongo byeengebring het in Black Tax: Burden . . . or Ubuntu? bied heelwat stof tot nadenke oor ’n ingewikkelde maatskaplike verskynsel waarmee swart Suid-Afrikaners daagliks saamleef: die opvatting dat middelklas- swart huishoudings “in die gees van Afrika-kultuur” finansieel na hul werkersklas- of werklose familie moet omsien. ’n Resensie verskyn binnekort. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R260.

SUID-AFRIKA

’n Nuwe boek uit die pen van Jonny Steinberg is ’n gebéúrtenis: In die boeiende One Day in Bethlehem ondersoek hy die lewe en stryd om geregtigheid van Fusi Mofokeng wat tydens die geboorte van die nuwe Suid-Afrika as medepligtige tronk toe gestuur is nadat ’n groep mans met AK47’s in die Vrystaat op twee polisiebeamptes losgebrand het. ’n Resensie verskyn eersdaags. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

Charles van Onselen se nuutste boek, The Night Trains, is ’n seminale ondersoek na die duisende Mosambiekse myners wat tussen 1902 en 1955 op nagtreine na die myne aan die Witwatersrand gestuur is. Dit toon hoe swart arbeid misbruik is om welvaart in Suid-Afrika te skep of, soos prof. James C. Scott van die departement politieke wetenskap aan die Yale-Universiteit dit stel: “The tragic underbelly of capitalist accumulation has never been so sharply etched.” Hou die boekeblad dop vir ’n resensie. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R260.

Sipho Kings en Sarah Wild se South Africa’s Survival Guide to Climate Change is ’n omvangryke dog toeganklike en praktiese handleiding oor wat klimaatsverandering waarskynlik vir Suid-Afrikaners sal behels en hoe ons kan help om die gevolge daarvan te temper. Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: R290.

REIS

Ondanks stormsterk winde en monsterbranders het die passasierskip die Oceanos in Augustus 1991 die Oos-Londense hawe met 221 passasiers verlaat, maar hul droomvakansie het gou ontaard in die grootste lugreddingsoperasie wat die Suid-Afrikaanse Lugmag tot nog toe aangepak het. In Against All Odds: The Epic Story of the Oceanos Rescue herskep die maritieme regskenner Andrew Pike dié boeiende drama en heldedade. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R250.

Sushi en Shosholoza: Rugbyreise en pelgrimstogte in Japan is die joernalis en TV-aanbieder Erns Grundling se biografiese verslag oor sy reis (vir die kyk­NET-program Elders) na Japan, waar die Wêreldbeker-rugbytoernooi oor minder as twee weke afskop. Tussendeur skryf hy oor die kultuur van dié land en sy kennismaking met rugby as laaitie in die Oos-Kaap. Uitgewer: Queillerie. Prys: R275.

Die avonturier Julia Albu vertel in My African Conquest: Cape to Cairo at 80 hoe sy op dié rype ouderdom die pad van die Moederstad na die hoofstad van Egipte in haar geliefde ou Toyota Conquest afgelê het. Die uitgewer beskryf dit as ’n goedvoel-reisboek met hope humor – en wat jou weer in die mensdom sal laat glo. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R260.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.