Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Nuwe jaar, nuwe dinge
    • Stres beïnvloed elke aspek van ons bestaan. Die gepaardgaande laer produktiwiteit en groter las op gesondheidsorgstelsels het ’n verwoestende uitwerking op die wêreldekonomie. Boonop toon die jongste wetenskaplike navorsing stres kan selfs ons DNS destabiliseer en ons genetiese integriteit in die gevaar stel. In The Stress Code: From Surviving to Thriving verduidelik die Johannesburgse gesondheid-en-prestasiekonsultant Richard Sutton nie hoe om stres te vermy nie – hy leer jou eerder vaardighede om die nadelige gevolge daarvan te bekamp. Kevin Anderson, Suid-Afrika se Wimbledon-finalis, verklaar op die voorblad Sutton het hom “deur die mees kritieke oomblikke” van sy loopbaan gehelp. Nou is dit jou beurt om 2019 se stresgolf te stuit. Uitgewer: Pan Macmillan. Prys: R290.
    • Die eerste selfrymotor sal na verwagting oor minder as vyf jaar te koop wees en ’n einde maak aan die beslommernis van bestuur, parkeer en besoeke aan die vulstasie. Op die koop toe sal ons gruwelike koolstofvoetspoor drasties verklein, terwyl die padongeluksyfer met tot 90% kan daal . . . Autonomy: The Quest to Build the Driverless Car – and How It Will Reshape Our World deur die skrywer Christopher Shulgan en Lawrence D. Burns, ’n voormalige grootkop by General Motors en ’n huidige raadgewer van die Google Self-Driving Car-projek, bekyk die wedloop tussen Google, Apple, Tesla en Uber om die eerste selfrymotor te skep en wat hierdie tegnologiese revolusie vir ons toekoms beteken. Uitgewer: HarperCollins. Prys: R350.
    • ’n Magdom boeke het al die lig gesien oor die fisieke aspekte van swangerskap, barensnood en geboorte, maar die emosionele, sosiale en praktiese sy kan net so ’n ingrypende uitwerking hê op nuwe ma’s en pa’s. Volgens Hilary Rosenthal, ’n ervare gesinsberader en een van die stigters van die nieregeringsorganisasie The Parent Centre, vul haar toeganklike praktiese boek Becoming a Parent: The Emotional Journey, ’n belangrike gaping in die mark en sal dit ouers toerus om ’n unieke kind groot te maak wat fisiek, intellektueel en emosioneel floreer.

    Die boek is by goeie boekhandelaars en Don Nelson Publishers (021 706 7650 of don@donnelson.co.za) te kry. Uitgewer: New Voices Publishing Services. Prys: R275.

    • Die kaartprenteboek Kaarte deur die Poolse grafiese ontwerpers en veelbekroonde kinderboekskrywers Aleksandra Mizielinska en Da­niel Mizielinski word beskryf as ’n visuele fees vir lesers van alle ouderdomme en leunstoelreisigers wat graag grense, stede, riviere, bergpieke, geskiedkundige plekke, ikoniese mense, belangrike plante en diere, kultu­rele gebeurtenisse en ’n mag­dom ander fassinerende feite oor plekke op ons planeet wil ontdek. Meer as 3 miljoen eksemplare in 36 tale is al wêreldwyd verkoop. Dié lieflike hardebandboek verskyn plaaslik in Afrikaans en Engels. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R350.
    Meer oor:  Niefiksie  |  Nuwe Boeke
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.