Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Nuwe niefiksie vir die Kerskous

Misdaad, geldsake en memoires voer die botoon in die laaste paar niefiksieboeke vir 2020 wat almal gawe Krismisbokse vir feitevrate sal wees.

Genl.maj. Roland de Vries, ’n voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër, se langverwagte boek Veiligheid vir gemeenskappe word beskryf as ’n “volledige doktrine vir die bemagtiging van gemeenskappe ter selfbeskerming”. De Vries is die afgelope vier jaar vrywillig en onverbonde betrokke by ’n nasionale beweging onder aanvoering van kundige individue en instansies om gemeenskappe te ondersteun met die beplanning en implementering van inisiatiewe teen misdaadterreur. Etlike medewerkers het bygedra tot dié bakenwerk van meer as 900 bladsye.

Bel Tertia Swart van Naledi by 078 648 8616 of stuur ’n e-pos na tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel.

Uitgewer: Naledi. Prys: R295.

Aanhangers van moord-, speur- en grilverhale sal veel makabere plesier hê aan Daniël Lötter se 17 maal moord. Die uitgewer noem dit ’n “grieselrige reis na die plekke waar van Suid-Afrika se bekendste moorde gepleeg is asook ’n hele aantal minder bekendes”. Die leser maak kennis met die moordenaars en die doodgewone gemeenskappe waar slagoffers van die vroegste tye tot die onlangse verlede wreed aan hul einde gekom het. Die boek bevat ook ’n fotogedeelte.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R295.

Die welvaartkenner en sakekommentator Theo Vorster deel in Jou geldsake: Hou kop in onseker tye riglyne oor hoe moedeloses en vuisvoses rasionele langtermynbesluite kan neem om moeilike tye te oorleef en finansieel te floreer. Hy bespreek die bedreigings wat jou finansiële reis kan laat ontspoor en gee die goue reëls oor wat om te doen om te verseker dat jy te midde van onsekerheid, vrese en markwisselvalligheid steeds jou beleggingsbestemming kan bereik.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R260.

Die onafhanklike finansiële adviseur Riaan Botha, stigter van die Pretoriase familie-onderneming Bovest, en sy twee seuns, P.J. en Geo, deel 68 praktiese welvaartstrategieë asook inspirerende suksesverhale van ’n diverse groep gewone Suid-Afrikaners van wie sommige heeltemal oor moes begin in Welvaartskeppers. Die boek is gemik op almal wat hul welvaart wil verbeter en sal jou help om jou eie finansiële posisie ’n hupstoot te gee én ’n kopskuif te maak sodat jy geleenthede in die huidige moeilike ekonomiese klimaat kan identifiseer.

Uitgewer: Lapa. Prys: R215.

Perlé van Schalkwyk is beter bekend as die ontkleedanser Gigi, mede-eienaar van die erotiese klub Lollipop Lounge en wenner van Celebrity Survivor in 2010. In haar kaalvuis memoires Nipple Caps & G-strings vertel sy van die pad wat sy gestap het as dogter van Jehova se getuies in die Paarl tot haar avonture in die onderwêreld waar sy met dwelms, moord, pornografie en interessante karakters soos Lolly Jackson kennis gemaak het. As die gesogte danseres Gigi het sy strategies te werk gegaan en só haar kleim afgesteek in ’n bedryf wat steeds deur mans oorheers word.

Uitgewer: Melinda Ferguson Books. Prys: R260.

In haar memoires Meditating with Rhinos skryf die Suid-Afrikaans gebore draaiboekskrywer Helena Kriel hoe die verbrokkeling van haar huwelik in Los Angeles gelei het tot ’n diep persoonlike krisis en haar terugkeer na Suid-Afrika waar sy as vrywilliger betrokke geraak het by die versorging van renosterkalfies wat deur wildstropers wees gelaat is. Haar meditasies saam met dié diere lei tot die besef dat alles deel vorm van die natuur en dat dít is waar sy waarlik tuis voel.

Uitgewer: Melinda Ferguson Books. Prys: R260.

Amos van der Merwe vertel die fassinerende lewensverhaal van die Oostenryker Philipp Wagner in A Watchmaker’s Romance with Time: The Life, Science and Love of Philipp Wagner. Die man van die titel het verskeie aanvalle deur die Nazi’s en Russe oorleef en uiteindelik as 20-jarige na Suid-Afrika geëmigreer waar hy hom as horlosiemaker, innoveerder en uitvinder gevestig het. Hy word beskryf as een van net ’n handvol selfgefinansierde private individue wie se eksperimente na die ruimte gestuur is.

Uitgewer: Naledi. Prys: R275.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.