Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Uit eie bodem

Die boekeredakteur se lessenaar kreun by voorbaat onder die Suid-Afrikaanse Engelse romans wat op pad is.

In sy boeiende “sielkundige drama” A Poor Season for Whales wat einde vandeesmaand verskyn, fokus die bekroonde skrywer en vertaler Michiel Heyns op Margaret Crowley wie se wederhelf haar verlaat vir ’n jonger man. Sy en haar hond wyk uit na Hermanus, waar haar pad kruis met die charismatiese jong nutsman en kok Jimmy Prinsloo-Mazibuko . . . nie lank nie, of daar krioel in elke graspol ’n slang. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

Patricia Schonstein-aanhangers sal gaande wees oor haar nuwe roman, The Inn at Helsvlakte, wat beskryf word as ’n “weelderige familiedrama” kompleet met Tarotkaarte, wat afspeel in ’n mitiese Karoolandskap ten tyde van die Anglo-Boereoorlog. Onder die temas tel liefde en verraad, familiebande, pyn en genesing. Uitgewer: Penguin. Prys: R270.

Irna van Zyl se nuutste riller, Blood Stone, verskyn gelyktydig in Afrikaans en speel ook op Hermanus af. Dié keer word speur­adjudant Storm van der Merwe se ma in Londen voor ’n trein ingestamp terwyl Storm besig is om die dood van die befaamde Suid-Afrikaanse ontwerper Beebee Bukelwa Baby te ondersoek. By die Woordfees gesels Ingrid Jones op Woensdag 11 Maart om 14:00 met die skrywer en Anna Davel tree op. Bespreek by Computicket. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Die nuus oor die dood van sy kindertydvriend Karl Udengaard, wat hom destyds geleer het om teen boelies terug te veg, ontsluit ’n magdom ongemaklike herinneringe by Maximilian Fritz op sy laaste dag as redakteur van ’n gemeenskapskoerant. Mark Winkler se nuwe roman, Due South of Copenhagen, word beskryf as ’n “meesterlike kleindorpse vertelling” wat afspeel teen die agtergrond van die Bosoorlog. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

All That Is Left, die jongste roman uit die pen van die Durbaniet Kirsten Miller, is ’n verhaal van verlies, liefde, verraad en aanvaarding. Rachel se broer verdwyn onder verdagte omstandighede en sy reis na Johannesburg om haar skoonsuster, Maya, by te staan, maar dan maak een van haar vorige minnaars sy verskyning . . . Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Hard Rain is die titel van Elsa Silke se Engelse vertaling van Irma Venter se roman Skoenlapper (2012), wat terselfdertyd by Amazon Crossing in die VSA verskyn. Hierin bevind die joernalis Alex Derksen hom in Tanzanië, waar hy die beeldskone fotograaf Ranna met haar kas vol geraamtes ontmoet. ’n Menigte spannende kat-en-muisspeletjies volg. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

Reggie & Me deur die skrywer en televisie-aanbieder James Hendry speel af in die onstuimige jare 1976 tot 1994. In die boomryke noordelike stadsgebiede van Johannesburg ontmoet Hamish Charles Sutherland Fraser ’n meisie genaamd Reggie en moet hy die reëls leer om in so ’n vreesaanjaende maar beeldskone samelewing te oorleef. Uitgewer: Macmillan. Prys: R270.

Meer oor:  Irna Van Zyl  |  Irma Venter  |  Woordfees  |  Nuwe Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.