Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Van toeka tot dagga

Hoe lyk dit met ’n niefiksie-allegaartjie oor Afrika se toekoms, Suid-Afrika se verlede, tuisgekweekte dagga en ’n fotobeeld van 20 spogskole?

Die bekende toekomskundige en Afrika-ontleder Jakkie Cilliers vra in Africa First! Igniting a Growth Revolution wat die vasteland met sy oorvloedige natuurlike hulpbronne keer om sy volle potensiaal te bereik. Hy gebruik dan 11 scenario’s om op ’n konkrete wyse uiteen te sit hoe Afrika onder meer op die gebiede van landbou, opvoeding, demografie, vervaardiging en regering veranderinge kan maak wat ’n groeirevolusie aan die gang kan sit om miljoene mense uit armoede op te hef. Niemand minder nie as pres. Cyril Rama­phosa loof dit op die voorblad as “a roadmap that could turn Africa’s potential into prosperity”.

Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R295.

Terugblik: Sketse van ons geskiedenis bevat 80 van emeritusprofessor Fransjohan Pretorius se kort, kragtige rubrieke vir Beeld oor die geskiedenis van Suid-Afrika – van voor Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het in die Kaap tot die jongste tye. Die rubrieke is verdeel in die afdelings Kaapkolonie, die Voortrekkers, die Anglo-Zoeloeoorlog (1879), die Boererepublieke, die Anglo-Boereoorlog, Geskiedskrywing en die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die 20ste eeu. Hierin maak ’n mens kennis met die helde en hendsoppers en die skurke en sterre van ons verlede terwyl jou geheue terselfdertyd verfris word oor al die grootste momente in ons geskiedenis (plus ’n paar minder bekende maar ewe interessante gebeure). Dis die ideale geskenk vir Afrikaanssprekendes wat in geskiedenis belangstel.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R200.

Met ál meer Suid-Afrikaners wat deesdae hul eie dagga probeer kweek, en die hemelhoë prys van CBD-produkte, verskyn Kelly McQue se At Home with Cannabis: How to Make and Use Cannabis Products Safely and Effectively at Home op presies die regte tyd. Dié Durbanse ma, kankeroorwinnaar, daggakonsultant en skrywer van die blog The Cannabis Guru vertel in die eerste deel van die boek van haar eie ervarings en eksperimente met die “heilige kruid”, en in die praktiese tweede deel, wat onder meer 16 “resepte” vir tuisgemaakte daggaprodukte soos CBD-olie bevat, leer sy jou hoe om dit self te kweek, daarmee te werk en aftreksels, infusies en tinkture te maak.

Uitgewer: Struik Lifestyle. Prys: R200.

20 South African Schools: A Pictorial History is ’n lieflike sagtebandboek wat met ’n verstommende verskeidenheid swart-en-wit foto’s en teks nie net die geskiedenis van 20 van ons land se voorste skole vertel nie, maar ook ’n interessante blik bied op die leefstyl, modes en denkwyses van weleer. Die skole wat opgeneem is, is: SACS, Wynberg Boys’ High, Bishops, Grey-kollege, St. Andrew’s-kollege, Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), Grey High, Paarl Gimnasium, Queen’s-kollege, Rhenish, Dale-kol­lege, Maritzburg-kollege, Muir-kollege, Durban High, Paul Roos Gimnasium, St. Cyprian’s, Springfield, Hilton-kollege, Selborne-kollege en St. Mary’s.

Uitgewer: Don Nelson Publishers. Prys: R395.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Cannabis  |  Terugblik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.