Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Vat vyf

Dié allegaartjie vars leesgoed het pas die boekwinkelrakke getref.

Fanie Olivier was die samesteller van Pieter Fourie: Teatermaker, die derde boek in ’n reeks waarmee die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hulde bring aan literêre kunstenaars wat met die Hertzogprys bekroon is. Hierin kyk vriende en kollegas vanuit verskillende invalshoeke na Fourie se werk as dramaturg, regisseur, akteur, vervaardiger, toneelbestuurder, teateradministra­teur en digter. Bydraes deur Daniel Hugo, Nico Luwes, Paul Boekkooi, Kerneels Breytenbach, Temple Hauptfleisch, Fransjohan Pretorius, Maritha Snyman, Thys Human, Annebelle Smit, Marisa Keuris, Joan Hambidge en Burgert Senekal is opgeneem. Hou die boekeblad dop vir ’n resensie. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R200.

Kerneels Breytenbach se nuutste roman, Hond se gedagte, word beskryf as ’n hoogtepunt in sy oeuvre waaroor rugbykenners én -leke gaande sal wees. Fleur de Villiers stem teësinnig in om ’n biografie oor die Bokkaptein Katstert Nel te skryf en só kruis haar pad ook met Corpus Christi se kolossale besigheid, waar kerk en rugby ineenvloei. Boonop hang daar ’n klankie in die lug wat Fleur gou snuf in die neus gee . . . ’n Resensie verskyn eersdaags op die boekeblad. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R320.

Wyle Matthew Buckland, ’n joernalis wat ontpop het in een van Suid-Afrika se indrukwekkendste jong media-entrepreneurs, vertel in So You Want to Build a Startup? van die pyn en plesier om ’n onderneming op te bou en deel hope “wilde verhale, sinvolle praktiese raad en lewenslesse” wat entrepreneurs sal help om geleenthede raak te sien. Maar ’n paar jaar later sou Matthew voor sy grootste uitdaging te staan kom: die stryd teen kanker.

Uitgewer: Tafelberg. Prys: R295.

Joan Hambidge beskryf die veelbekroonde Finuala Dowling as een van die belangrikste hedendaagse Suid-Afrikaanse digterstemme wat in Engels werk. Haar werk is snaaks, hartverskeurend en idiosinkraties, en as jy dit nie ken nie, is Pretend You Don’t Know Me ’n uitstekende begin. Dit bevat ’n keur van haar beste gedigte uit haar bundels I Flying (2002), Doo-wop Girls of the Universe (2006), Notes From the Dementia Ward (2008) en Change is Possible (2014) plus 22 nuwe gedigte wat nog nie vantevore verskyn het nie. Uitgewer: Kwela. Prys: R250.

Wonder jy waarom mense lief of verlief raak op misdadigers, selfs al is hulle reeds in die tronk? In Liefde agter tralies: Ware Suid-Afrikaanse verhale voer die joernalis en skrywer Carla van der Spuy onderhoude met mense wat ’n verhouding probeer staande hou terwyl een of albei agter tralies is – van die Boeremagpaartjie Riëtte en Wilhelm Pretorius tot Jacques Pratt, wat Luyanda Mboniswa, Marike de Klerk se moordenaar, ondersteun. Sy raadpleeg ook kenners soos forensiese sielkundiges en stel ondersoek in na die motiewe en denkprosesse wat sulke verhoudings dryf. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R265.

Meer oor:  Kerneels Breytenbach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.