Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Vroue skryf voor in die koor

’n Veelheid van vrouestemme klink op in vyf splinternuwe boeke wat op die boekeredakteur se lessenaar geland het.

Margaret Busby se bloemlesing Daughters of Africa het grense verskuif toe dit ’n kwarteeu gelede verskyn en ’n platform gegee het aan ’n magdom “stil, vergete, onderskatte swart vrouestemme”. Hierdie bygewerkte nuwe uitgawe, nou met die titel New Daughters of Africa: An international anthology of writing by women of African descent, is ’n dik en besonder diverse knewel van 800 bladsye waarin meer as 200 vroueskrywers hul stem laat hoor in genres wat wissel van outobiografie, memoires, orale geskiedenis, briewe, dagboeke, humor, essays, toesprake en joernalistiek tot kortverhale, romans, poësie en drama. Dis voorwaar ’n skande dat ’n mens dit stééds grensverskuiwend kan noem... Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R350.

In die eiesoortige handwerkboek Hekel en word heel: Hoe hekel my lewe gered het deur die romansier Nadia de Kock en die bekroonde Pretoriase hekelpatroonontwerper Hilda Steyn, vertel 21 dapper vroue hoe hekel hulle deur moeilike en donker tye – onder meer emosionele en fisieke misbruik en mishandeling, verlies, werkstres, depressie, siekte en die dood van ’n kind – gehelp het. Elke boeiende storie word vergesel van ’n motief wat spesiaal vir die storie ontwerp is, asook ’n projekpatroon waarin die motief gebruik word. Die patrone wissel van maklik genoeg vir beginners tot ingewikkeld genoeg vir die ervare hekelaar. Uitgewer: Lapa. Prys: R295.

Die Pakistanse aktivis en Nobelpryswenner Malala Yousafzai beskryf Melinda Gates se The Moment of Lift: How Empo­wering Women Changes the World as ’n “dringende manifes vir ’n gelyke samelewing waar vroue in alle sfere waardeer en erken word”. In dié “roerende en meesleurende” boek deel Gates die lesse wat sy geleer het by die inspirerende vroue wat die afgelope 25 jaar haar pad gekruis het, onder meer as medevoorsitter van die Bill en Melinda Gates-stigting. Die heel belangrikste les om ’n samelewing op te hef, glo sy, is om onmiddellik op te hou om vroue te verdruk. Uitgewer: Bluebird (Pan Macmillan). Prys: R299.

Die titel en subtitel van Malala Yousafzai se We Are Displaced: My Journey and Stories from Refugee Girls Around the World sê presies waaroor dié boek gaan. Yousafzai, wat die Nobelprys vir vrede gewen het vir haar pogings om die stryd van die sowat 68,5 miljoen uitgewekenes en vlugtelinge wêreldwyd te belig, vertel hoe sy as jong kind eers in Pakistan vasgekeer was en daarna as internasionale aktivis oral ter wêreld welkom was behalwe in haar geliefde tuisland. Die boek bevat ook persoonlike verhale van etlike ander meisies wat ’n nuwe lewe moet bou sonder die enigste gemeenskap en familie wat hulle ooit geken het. Uitgewer: Weidenfeld & Nicolson. Prys: R315.

In Februarie 1973 is 116 Amerikaanse vegvlieëniers wat jare lank as krygsgevangenes in Viëtnam aangehou is, uiteindelik vrygelaat – nie danksy ingryping deur hul kollegas of politici of diplomate nie, maar danksy hul ontembare vrouens, wat die National League of Families of American Prisoners and Missing in Southeast Asia gestig het. Só het die merkwaardige groep druk uitgeoefen op die Johnson- en Nixon-administrasies en die publiek met slim mediaveldtogte aan hul kant gekry. In The League of Wives: The Untold Story of the Women Who Took On the U.S. Government to Bring Their Husbands Home vertel Heath Hardage Lee hul storie. Uitgewer: Constable (Little, Brown). Prys: R325.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.