Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuut op die rak: Vyf vir die feitevrate

Dié nuwe niefiksietitels sal welkom wees in feiteliefhebbers se Kerskouse.

In sy vlymskerp inleidings vir kykNET Verslag se weeklikse aktuele program In gesprek ontsien Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, net mooi niks en niemand nie. Die gelyknamige boek In gesprek met Waldimar: Sy 100 beste ontledings, inleidings en beledigings bevat ’n versameling van sy dapperste afranselings van die gekke en skurke wat wil keer dat ons land floreer. Hy wys hoe naby ons aan die afgrond was en hoe ons weer daar kan beland indien ons nie die politici en besluitnemers tot verantwoording roep nie. Uitgewer: Lapa. Prys: R260.

Na verre hawens deur die oudredakteur Hennie van Deventer is ’n “nostalgiese terugblik op al die onvergeetlike vaarte en bestemmings sedert die Union Castle-era in die 1970’s” en word “opgedra aan alle medeswerwers ter see”. In die altesame 24 essays wat opgeneem is, skryf Van Deventer oor allerlei interessante skeepsinsidente: die Opera wat vroeër vanjaar in Venesië ’n rivierboot platgeloop het, die Melody wat in 2009 deur seerowers aangeval is, die Oceanos-ramp en vele meer. Uitgewer: Naledi. Prys: R200.

Die Amerikaner Henry Trotter het sy ontmoetings met plaaslike matrose, sekswerkers, bendelede, straatmusikante, professore, studente, politici en betogers oor die afgelope 20 jaar gebruik om Cape Town: A Place Between te skryf. Dié aweregse gidsboek oor “die siel van die Moederstad” word geloof as ’n “toeganklike, onverskrokke portretstudie van ’n wêreldstad vasgevang tussen twee oseane, die Eerste en Derde Wêreld, oos en wes, swart en wit, Afrika en Europa . . .” Uitgewer: Catalyst Press. Prys: R195.

The Story of Gardening deur Penelope Hobhouse en Ambra Edwards is ’n volledig bygewerkte en hersiene luukse hardebandboek oor hoe die wêreld se beroemdste tuine ontstaan het – van dié in Mesopotamië, Egipte, Persië en die skeppings van die antieke Grieke en Romeine, tot Islamitiese, Middeleeuse, Renaissance-, Chinese, Japanse en Modernistiese tuine. Met meer as 400 foto’s is dit noodsaaklike lees- en kykstof vir almal wat meer oor die fassinerende evolusie van tuinmaak oor duisende jare wil leer. Uitgewer: Pavilion. Prys: R490.

Die omgewingsbewaarder Grant Fowlds wy sy ganse lewe aan die bewaring van die laaste renosters op aarde. In Saving the Last Rhinos vertel hy van die kronkelpaaie wat sy eie lewe geloop het en natuurlik van sy dapper pogings om etlike spesies, maar vernaam renosters, van uitwissing te red. Vir dié boeiende boek het hy kragte saamgespan met Graham Spence, medeskrywer van die blitsverkoper The Elephant Whisperer (saam met die bewaringskundige Lawrence Anthony, na wie die titel verwys).

Dis ’n moet vir alle bewa­rings­gesindes. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R290.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.