Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuwe boek onthul: 'Suna is verraai'

Kollegas het Suna Venter, een van die SAUK-8-joernaliste, vir ’n “aandagvraat” en “onbetroubaar” uitgekryt.

Sy is daarvan beskuldig dat sy haar gesondheidsprobleme versin en self toegedien het. Dit is van die onthullings wat Foeta Krige, oudjoernalis en veteraanuitsaaier by RSG, maak in sy nuwe boek, The SABC 8, wat vandeesweek gepubliseer is.

Suna Venter

Kort nadat Venter in Junie 2017 dood is, het Krige ’n ope brief aan haar in The Huffington Post geskryf waarin hy gal braak oor die toksiese werkomgewing by die SAUK en almal wat Venter se aantygings nie ernstig opgeneem het nie. Daarin vertel hy hoe hy haar aangemoedig het om ’n boek te skryf. “Jy het gesê die boek se naam moet ‘Rudely Interrupted’ wees. Hoofstuk een begin met dié sin: ‘They couldn’t look me in the eye . . .’ 

“Ek is kwaad vir hulle. Daardie mense wat jou nie in die oë kon kyk nie, diegene wat jou gevra het om nie ’n bohaai te maak nie . . . 

“Ek is kwaad vir die lynbestuurders wat elke liewe e-pos geïgnoreer het wat ek oor jou veiligheid geskryf het.” 

Maar in een van die hoofstukke skryf hy hoe hy Venter op ’n personeelvergadering “vir die wolwe gegooi het”.

Krige het te hore gekom van ’n petisie onder kollegas om die SAUK te oortuig om haar af te dank.

Nadat die arbeidshof bevind het die afdankings van haar en Krige, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp was onwettig, het Venter teruggekeer werk toe, maar vir Krige laat weet sy vind die atmosfeer op kantoor ondraaglik.

Die omslag van die nuwe onthullings oor die SAUK-8.

Drie dae ná die munisipale verkiesing in Augustus 2016 het Krige vir Venter gevra hoe sy alles hanteer.

“Sy het gesê sy weet nie eintlik hoe om daardie vraag te beantwoord nie; dat sy die wil verloor het om te praat, skryf, werk en selfs huil.

“Ek het toe een van die grootste foute van my lewe as ’n bestuurder gemaak. Elke Woensdagoggend om 09:30 sal die span vergader vir ’n personeelvergadering.” Op 17 Augustus het Krige die petisie op die personeelvergadering geopper en dit oopgestel vir bespreking. Wat gevolg het, was ’n bloedbad.

Hy beskryf die aanval op Venter as “genadeloos” en “persoonlik”.

“Dit was asof ek ’n lopende sweer oopgekrap het. Suna het probeer om die aantygings teenoor haar en haar gesondheidsprobleme te verduidelik.” 

Sy het daarna ’n dokter gaan sien wat haar vir tien dae afgeboek het.

Hy skryf dat hy aaklig gevoel het oor die vergadering. 

“Ek wou weer ’n mate van balans by ons span laat terugkeer, maar ek het dit net erger gemaak en haar nog verder geïsoleer. Ek het haar in die steek gelaat. Ek het haar verraai.”

In die boek stel hy die leser bekend aan ’n eiesinnige, hardkoppige joernalis wat ook met haar eie demone en geestesiektes moes worstel.

In 2016 het sy buitemuurse ondersoekwerk gedoen waar sy inligting oor terreur- en djihad-organisasies saamgestel het. Sy het werk toe gekom met ’n lyfwag en ’n oorstuk wat sy agter haar hare weggesteek het. Dit het die span ongemaklik gemaak en tot verdere spanning gelei.

Ná ’n ultimatum van Krige aan haar – joernalis of die “nuwe’’ organisasie – het sy die SAUK gekies.

Hoewel die SAUK-8 ’n verenigde front in die howe in media gehad het, was daar maar wrywing agter die skerms, veral tussen Venter en Thandeka Gqubule-Mbeki, die ekonomiese redakteur by die SAUK.Gqubule-Mbeki was ongemaklik met Solidariteit se betrokkenheid by die SAUK-8 se hofgeding.

Krige se frustrasie met sy jong beskermling is tasbaar tussen die blaaie. “Vir haar was iets óf swart óf wit en mense het haar styl soms as aggressief en veroordelend ervaar.”

Daardie aand het hy en Venter ook ’n driftige WhatsApp-rusie gehad.

Gqubule-Mbeki en Venter het mekaar ook oor en weer van rassisme beskuldig.

Krige het vir Venter gewaarsku dat haar mensekennis, of eerder haar gebrek daaraan, hul saak baie skade kan berokken.

Meer oor:  Suna Venter  |  Foeta Krige  |  Boek  |  Sauk-8
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.