Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuwe boek oor P.G. ‘die stoute kabouter’ bekend gestel

’n Uittreksel uit die legendariese skrywer P.G. du Plessis se laaste roman, wat hy nie voor sy dood in 2017 voltooi het nie, kan nou vir die eerste keer gelees word in ’n nuwe boek wat pas verskyn het.

Litera Publikasies en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die huldigingswerk P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie ’n pagter hier die afgelope week in Potchefstroom bekend gestel.

P.G. du Plessis se vrou, Marie, tydens die boekbekendstelling in Potchefstroom, met die boek in haar hand. Foto: Marianke Saayman/Potchefstroom Herald

Prof. Heilna du Plooy, letterkundige en samesteller van die boek, sê die titel van die boek kom uit ’n onderhoud wat sy met Du Plessis gevoer het enkele maande voordat hy aan kanker dood is. “Hy het gesê hy het sy eie grafskrif uitgedink en dit moet wees: ‘Hy was ’n rukkie pagter hier.’ ”

Du Plooy meen Du Plessis het in sy leeftyd nie die erkenning in letterkundige kringe geniet wat hy verdien het nie, omdat hy die akademiese wêreld as ’n betreklik jong man verlaat het en so veelsydig was dat hy hom nooit net op een terrein toegespits het nie.

“Hy was briljant en eintlik onderskat, maar hy was aan die ander kant as bekende openbare figuur volksbesit. Hy was ’n stoute kabouter wat reaksie uit mense wou kry.”

Du Plessis was in sy lewe akademikus, onderwyser, koerantredakteur en het vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gewerk voordat hy heeltyds begin skryf het. Van sy werke is vir radio en televisie verwerk, onder meer die bekroonde Fees van die ongenooides.

Die nuwe boek oor Du Plessis bevat onder meer biografiese inligting, asook Du Plooy se onderhoud met hom kort voor sy dood. Daarin is talle interessanthede oor sy kinder- en studentedae. Prof. Hans du Plessis, skrywer en akademikus, bring ook hulde aan Du Plessis, met wie hy goed bevriend was.

Prof. Heilna du Plooy, samesteller van die boek oor P.G. du Plessis, tydens die boekbekendstelling in gesprek met prof. Jacques van der Elst, wat namens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n onderhoud met Du Plooy gevoer het. Foto: Marianke Saayman/Potchefstroom Herald
Prof. Hans du Plessis, skrywer en akademikus, wat goed bevriend was met P.G. du Plessis, tydens die boekbekendstelling in Potchefstroom. Foto: Marianke Saayman/Potchefstroom Herald

Daar is verskeie artikels oor Du Plessis se werk, wat baie toeganklik en interessant geskryf is, al is dit akademies van aard, sê Du Plooy. Dit sluit onder meer in ’n hoofstuk oor sy bekende klug ’n Seder val in Waterkloof, wat onder kwaai kritiek deurgeloop het omdat Du Plessis niemand daarin ontsien het nie. “Ten spyte hiervan was dit sy gewildste stuk wat die meeste opgevoer is en nou nog vol sale trek,” het Du Plooy Maandag gesê.

“Die kritiek wat P.G. gekry het oor onder meer sy Seder-werk het meegehelp dat hy hierna begin wegbeweeg het van ernstige skryfwerk. Kritiek het hom kwaad gemaak.”

Du Plessis se werk Plaston: DNS-kind, wat ook baie kritiek ontlok het, word ook bespreek. Dit gaan oor ’n seun wat chemies geskep is en dan na ’n klein dorpie geneem word.

Ook Du Plessis se prosawerk, soos Koöperasiestories wat later ’n televisiereeks geword het, word bespreek in ’n essay oor die beminde karakter Genis.

Die laaste afdeling van die boek is ’n uittreksel uit sy laaste, onvoltooide roman, Die bitter van olyf. Dit handel oor ’n boeregesin wat aan die begin van die 20ste eeu as bywoners by ’n ryk boer werk. Die bywonergesin het ’n hele paar kinders.

“Die ryk boer se kinderlose vrou vra dan sy wil een kind hê,” vertel Du Plooy. Die uittreksel begin waar die ma moet kies watter kind sy gaan weggee, en hoe sy die kind vóór die afskeid was.

Die voorblad van die boek oor P.G. du Plessis wat die afgelope week bekend gestel is.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.