Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuwe bundel van Aucamp se ‘boertige ryme’

Oopkardoes, ’n bundel voorheen ongepubliseerde “boertige ryme” deur die ontslape digter en skrywer Hennie Aucamp, is onlangs deur Naledi uitgereik.

Aucamp, wat as die vader van kabaret in Suid-Afrika beskou word, het voor sy dood in 2014 ’n handgeskrewe manuskrip van dié bundel speelse verse aan die digter Johann de Lange gegee.

Hennie Aucamp
Hennie Aucamp Foto: Nasief Manie

“Dit was ’n jaar of twee voor sy dood,” sê De Lange.

“Hennie se opdrag was: Hy’s jóúne, maak daarmee soos jy goed dink. Dit het langer geneem as wat ek gedink het. Ek het gehoop om dit in Hennie se leeftyd uit te gee. Maar toe sterf hy, onverwags.”

Aucamp was 80 jaar oud.

Dit het De Lange ’n lang tyd geneem om afstand te kry.

Die manuskrip het bestaan uit vier A4-skoolboeke met verse in afdelings ingedeel.

“Hy het selfs op die omslag van die eerste boek ’n poskaart geplak van die kunswerk (Termult) deur Theo Paul Vorster wat hy vir die omslag gekies het, mét ’n brief waarin verlof vir die gebruik van die kunswerk as omslag gegee word.”

‘Oopkardoes’ deur Hennie Aucamp

De Lange het die bundel “versôre”, soos dit daarin beskryf word.

Hy het wel ’n paar verse bygevoeg wat voorheen verskyn het.

“Die verse (in Oopkardoes) is prima Aucamp, boertig, guitig, speels, spuls, camp. Die randfigure, die onrespektabeles, die verstotenes – dit was die figure wat Hennie aangetrek het. Dis hulle vir wie hy sy wrede deernis reserveer het.”

Die verse wat De Lange by die manuskrip gevoeg het, kom uit Aucamp se kabarettekste.

“Dis ’n galery karakters wat ten tonele gevoer word. Party hoort saam, soos byvoorbeeld die distigonverse, ek noem hulle strokiesverse want elke strofe is ’n klein toneel en die verse is verhalend. Dit maak nie saak watter versvorm Hennie Aucamp gebruik nie, hy het dit sy eie gemaak; jy sal sy verse uitken tussen ander.”

Johann de Lange

Aucamp en De Lange het nooit oor die manuskrip van Oopkardoes gepraat nie.

Hy het wel aan De Lange gesê hy mag van die verse daarin uitgooi of iets anders byvoeg.

Hulle het mekaar in Pretoria in 1980 ontmoet.

“Ek het ’n rugsak vol boeke gehad vir hom om te teken. In die loop van die kuier (ek dink dit was in Arcadia-sentrum) het ek besluit om nie die boeke te laat teken nie; dit kon wag vir ’n volgende geleentheid. Maar Hennie se oog het op die rugsak gaan rus teen die einde van ons gesels. Hy het sy hand gul uitgesteek. ‘Gee maar, laat ek teken.’ ”

Aucamp het De Lange lief gemaak vir ou woorde en uitdrukkings.

“Ons kon guitige of skunnige gesprekke voer waarin ons dié woorde en uitdrukkings gebruik het en het geskaterlag. Sy kabarettekste is vol daarvan.”

Die bundel is vir enige poësieliefhebber.

“Ook vir die kabaretliefhebber, die liefhebber van speelse verse. Kortom: dit is verse vir Aucamp-aanhangers.”

Oopkardoes kos R240.

Meer oor:  Johann De Lange  |  Hennie Aucamp  |  Gedigte  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.