Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuwe klankbaan vir Afrikaans

Ryan Pedro se uitstekende poësiedebuut is strydvaardig, maar ook diep gevoelig, met taalgebruik wat heen en weer glip tussen registers en diskoerse, skryf Louise Viljoen.

Ryan Pedro

Pienk ceramic-hondjies deur Ryan Pedro. Uitgewer: Kwela. Prys: R220.

Ryan Pedro is een van die sterk nuwelinge op die Afrikaanse literêre toneel wat met sy debuutbundel van meet af aan ’n eie stempel afdruk.

Die aanvangsgedig, “portret van ’n coloured laitie as ’n mixtape”, rig as’t ware die leser af vir wat gaan volg. Jy word bewus gemaak daarvan dat dié bundel ’n portret van die digter gaan gee, amper soos in James Joyce se bekende roman A Portrait of the Artist as a Young Man (1916), maar beslis ook anders.

Dit sê ook die digter se identiteit as “coloured laitie” gaan ’n sentrale rol speel en dat die bundel ’n “mixtape” van sy ervarings en emosies gaan wees. Dit berei jou ook daarop voor dat hy klank, musikale ritmes en veral die stilte daartussen gaan gebruik om jou storm te loop op ’n manier wat jy allermins verwag.

Die bundel is beplan soos ’n rap- of hiphop-album met afdelingtitels soos “side a”, “interludes en leaks”, “side b” en “bonus joint”. Die konsep van die “mixtape” – ’n versameling snitte deur verskillende kunstenaars wat destyds op ’n kasset saamgevoeg is – speel eweneens ’n belangrike rol in die bundel: Dit verskaf ’n struktuur, maar funksioneer ook as ’n beeld van die invloede wat die digter gevorm het. Dit is veral kunstenaars soos Tupac, Drake, Kendrick Lamar, Puff Daddy, Pharrell en Ja Rule (om maar enkele te noem) wat hier bygehaal word as verteenwoordigend van ’n bepaalde stemtoon, kulturele gevoeligheid en politieke instelling.

Behalwe vir die musikale onderbou is daar ’n narratiewe samehang en ontwikkeling in die bundel. “side a” bevat gedigte wat beelde van ’n jeug op ’n Noord-Kaapse dorp toon, terwyl “side b” veral grepe gee uit vakansietye op ’n Weskus-dorp. Deurlopende temas is manlikheid in die vorm van die pa en ooms, die belangrikheid van herkoms en geheue, rassespanning, klasseverskille, die sluimerende teenwoordigheid van geweld en die rol van verbruikersgoedere en populêre kultuur, alles geregistreer deur ’n kwesbare gemoed.

Die Noord-Kaapse deel van die bundel vertel onder meer die verhaal van wit wantroue en vrees vir die oomblik waarop ’n “gedropte honda civic” stadig aangery sal kom “met die bass wat skop / soos ’n blonde kind in die boot”. Daar is ook gedigte oor die pynlike paradokse in die bruin gesin: die posisie van hul huis- en tuinwerker; die pa en ooms se Vrydagaande; spanning tuis; en die pa se besluit om op Sondag die winkels te besoek sodat hy wit én swart mense kan vermy. Daar is ook ’n aantal treffende gedigte oor die wit woede gewek deur ’n bruin seun se verhouding met ’n wit meisie. Dié verhaal loop oor verskillende gedigte en traumatiese insidente heen en kulmineer uiteindelik in die siniese slotgedig wat notas verskaf “vir slaap met ’n gesiene boer uit die distrik se vrou”.

Die afdeling “interludes en leaks” bevat ’n hele reeks “portrette van ’n coloured laitie” waarin veral identiteitskwessies ter sprake kom. Aan die een kant vrees die spreker dat die bewustheid van sy herkoms sal vervaag en wil hy dit in homself inbrand (vergelyk “portret van ’n coloured laitie as ’n coloured laitie voor ’n winkelvenster”); aan die ander kant is daar ’n ontstemmende onsekerheid oor wat die idee van huis behels soos in die gedig “ôs gan hystoe”:

as my pa gesê het ôs

het ek altyd oor my skouer gekyk

as my pa gesê het gan

het my bene skielik ophou werk

as my pa gesê het hystoe

het ek nooit geweet van waar

hy praat nie

Die Weskus-gedeelte van die bundel (“side b”) teken spanninge bínne die familie: Daar is byvoorbeeld gedigte oor die spreker se oom wat gewelddadig optree teenoor sy eie ma en oor die wrywing tussen die spreker se pa, wat ’n universiteitsopleiding het, en sy broer, wat dit nie het nie. Dié afdeling bevat ook gedigte oor ’n jeugliefde (vergelyk “mixtapes vir wendy #1”, “#2”, “#3” en “#4”), elk met ’n “Track List” wat die verhaal van die verhouding vertel. Dié afdeling kulmineer in ’n gedig oor die begrafnis van die pa en ook die finale afskeid van Wendy.

Die bundel se “bonus joint”, die toegif wat jy soms kry aan die einde van ’n album, gaan oor besoeke aan die barbier en is in ’n sekere sin ’n elegie vir die pa.

Die barbershop-momente is intiem verweef met die pa as oorsprong van die spreker se identiteit, wat onder meer manifesteer in sy hare en baard wat hy uiteindelik wild laat groei. Net soos Lynthia Julius in haar bundel Uit die kroes (2020) eien hy op besliste wyse sy hare as teken van sy herkoms en identiteit.

Een van die bundel se sterk punte is die vernuftige gebruik van ’n netwerk van honde-beelde. In die gedig “om vir jou wit tjommies te moet verduidelik hoekom daar ’n hond aan ’n ketting in die backyard vasgemaak staan op ’n manier wat hulle sal verstaan” word die vasgekettingde hond ’n beeld van ’n ervaringswêreld en geskiedenis, wat volgens die eerste gedig deel van die spreker se onderbewuste is.

In “pienk ceramic-hondjies” word die vasgekettingde hond op sy beurt verbind met polisiehonde tydens studenteprotesoptogte en die trauma daarvan verplaas na die stukkend skop van pienk ceramic-hondjies in ’n voorhuis in ’n skakeling van politieke met persoonlike geweld.

Die toon van hierdie uitstekende debuut is strydvaardig en onsentimenteel, maar ook diep gevoelig. Die konstruksie van die gedigte is geraffineerd, die ritmes sekuur. Verder ontgin die taalgebruik die poëtiese element in praat-Afrikaans en glip dit verleidelik heen en weer tussen registers en diskoerse.

Ryan Pedro en sy mede-debutante is duidelik besig om ’n nuwe klankbaan vir die Afrikaanse letterkunde te skryf. Dit is opwindende tye vir die taal.

  • Louise Viljoen is ’n afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Ryan Pedro  |  Poësie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.