Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
NUWE PODSENDING: Azille Coetzee gesels met 7 Suid-Afrikaners

Azille Coetzee

In Netwerk24 se splinternuwe podsending, gesels die skrywer Azille Coetzee met sewe Suid-Afrikaners. Sy vertel vandag wat sy met dié podsending wou bereik. 

Ek is met vakansie in KwaZulu-Natal en daar ontmoet ek ’n Durbaniet by ’n braai. Hy vra wat ek doen en ek sê ek is ’n aspirant filosoof, dat ek op die oomblik baie dink en skryf oor witheid, oor Afrikaner-identiteit.

Hy vind dit interessant, hy ken die musiek van Gert Vlok Nel, na wie hy verwys as “the boer guru”. Ek maak ’n nota daarvan maak in my kop. Dan bly die Durbaniet ’n oomblik stil voordat hy nadenkend sê “I really wish I could speak more Taal.”

“Taal?” vra ek.

“Afrikaans,” sê hy, met ’n sagte Engelse r.

“You call it Taal?” vra ek, tegelyk opgetoë met die eenvoud en vreemdheid van die benaming, én bekommerd oor die implikasies daarvan.

“Yes,” sê die Durbaniet, “you don’t call it that?”

Ek skud my kop, sê vir hom dit is die eerste keer dat ek dit hoor.

“Oh,” sê hy. “I thought everyone did.”

Dae ná die ontmoeting dink ek nog aan Taal, veral oor hoe snaaks dit is, maar ook: hoe bedrieglik eenvoudig die benaming dit alles laat klink, ek dink oor alles wat sit in daardie woord.

Azille Coetzee

As ’n mens Afrikaanssprekend is vandag, as Taal jou taal is, bevind jy jouself op ’n baie spesifieke en unieke manier tussen wêrelde. Die taal dra die etiket van apartheidsverdrukking, van Afrikaner-nasionalisme, van die hele pynlike geskiedenis wat ons vandag probeer verwerk en oorkom. Aan die ander kant: Wanneer ’n mens verder gaan delf as die stories wat apartheid vir ons vertel het, word dit baie gou duidelik dat die Afrikaanse taal die wit Afrikaner-identiteit ver vooraf gaan. Alhoewel die taal gebruik is om die Afrikaner-nasie vorm te gee, en gesaniteer en geïnstitusionaliseer is vir die sinistere werk van wit heerskappy, is die taal veel groter as daardie verhaal. Dit is ’n taal wat ontstaan het in Afrika, waarvan die wortels lê in die monde van die inheemse mense van Suider-Afrika, ’n taal wat ontwikkel het onder die slawebevolking in die kombuise van die Setlaars. Die eerste keer wat Afrikaans in geskrewe vorm uitdrukking vind, is in Arabiese skrif, van regs na links, deur die Moslem kerkvaders in die Bo-Kaap.

Daar is nie so iets soos ’n deursnee Afrikaanssprekende nie.

Afrikaans bestaan dan in die spanning tussen minstens twee werklikhede: aan die een kant een van wit heerskappy, ’n strewe na rassesuiwerheid en ’n nasionalistiese kultuuridentiteit; maar, aan die ander kant een van inheemse pluraliteit, beweging, anti-koloniale weerstand, vermenging en kreolisering.

En dit is daarom dat Afrikaans juis die potensiaal het om ’n ruimte vir radikale vernuwing en dekolonisering te bied. Daar is ’n argument te maak dat die angstigheid wat vandag rondom die taal sit (wat ’n mens byvoorbeeld sien in die diskoers rondom die taalstryd by Universiteit Stellenbosch) uit hierdie diep dubbelsinnigheid spruit. Hierdie Taal is tale.

LEES OOK: Ontmoet die skrywer, Azille Coetzee

Toe Ronèl Geldenhuys en Netwerk24 my nader om ’n podsending te maak, het ek dadelik geweet ek wil die geleentheid gebruik om weer ’n bietjie in die psige van die Afrikaanse kultuur van die oomblik te grawe.

En dit het ons toe gedoen. Die reeks neem die vorm aan van ses gesprekke met Afrikaanssprekendes: Marita van der Vyver, Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal, Mercy Kannemeyer, Dana Snyman, Kabous Meiring en Chase Rhys. Wat beteken dit om vandag Afrikaans te praat, in Afrikaans te skep, hóé is ons vandag besig om Afrikaans te wees?

Met Marita van der Vyver wou ek praat omdat sy seks oopgeskryf het vir ’n hele generasie Afrikaanse vroue in die 1990’s en omdat sy steeds en weer die kulturele geheue uitdaag met haar nuwe boek Grensgeval, wat oor die Grensoorlog handel. Met Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal wou ek gesels omdat hulle albei soveel literêre pryse wen, omdat hulle nie skroom om kritiek te lewer teen die establishment nie, en omdat hulle van my gunsteling- Afrikaanse digters is. Met Mercy Kannemeyer omdat sy ’n taalstryder is en omdat haar werk sulke interessante vrae oor ras en identiteit opper. Met Dana Snyman wou ek gesels omdat hy ’n middeljarige wit man is wat lang paaie stap. Met Chase Rhys moes ek praat omdat sy boek, Kinnes, so ’n groot indruk op my gelaat het, omdat hy in Kaaps skryf en performance art gebruik om die Kaap op nuwe maniere te verbeel. By Kabous Meiring wou ek uitkom omdat dit haar werk is om gesprekke te voer, met almal en oor alles.

Ek vra vir hulle klomp van die groot vrae: met Marita praat ek oor seks, met Dana oor die voorvaders, met Nathan en Chase oor Kaaps, oor die spirituele, met Mercy en met Kabous oor identiteitspolitiek. Oor Black Lives Matter, oor plaasmoorde, emigrasie. Hoekom kies hulle om in Afrikaans te werk, hoe sien hulle hul verhouding tot die establishment?

Die taal is okei, dit verander en dit beweeg.

Ons praat oor identiteit. By Dana, Marita, en Kabous wil ek weet of hulle as Afrikaners identifiseer, ek praat met Chase oor queer-wees, met Mercy oor millenniër-wees, bruin-wees, met Kabous oor witheid, met almal oor feminisme.

Ons gesels ook oor al die alledaagse dinge: verhoudings, kinders, ouers, flieks, kreatiwiteit, en Instagram. Nathan en Ronelda praat oor hul gesin en verhouding, Marita oor haar kinders en huis. Dana vertel oor sy pa en sy ma, Chase oor sy buurt en oor sy bed, Mercy oor cancel culture, Kabous oor sosiale media en kuiers saam met boere.

Na die opnames luister ek weer na die ses gesprekke om te sien of daar ’n oorkoepelende boodskap of insig is wat ’n mens uit die reeks kan haal. Iets wat ek kan opsom vir die voornemende luisteraar. Ek moet lank daaroor nadink en kom uiteindelik net by twee gevolgtrekkings uit.

Een: Daar is nie so iets soos ’n deursnee Afrikaanssprekende nie. Die mense wat in Afrikaans werk, dink uiteenlopend, is besig met klomp verskillende dinge. Ek dink ’n mens kan so ver gaan as om te sê dat Afrikaans ’n gedeelde kultuurruimte bied, maar geen afgebakende, vaspenbare identiteit nie. En dit is wanneer ’n mens só daaraan begin dink, dat die moontlikhede eindeloos word.

Twee: Die taal is okei, dit verander en dit beweeg, en daarbinne is dit dikwels ’n gestoei, maar dis hoe dit leef. Dit is nie besig om te sterf nie. En dit is vol nuwe dinge.

Taal is happening, bru.

  • Azille Coetzee is die skrywer van In my Vel: ’n Reis (Tafelberg) en ’n postdoktorale navorser by die SARChI Leerstoel in Gender Politiek by Stellenbosch Universiteit.

Luister die podsending hier:

Episode 1: Marita van der Vyver (11 November 2020)

Marita van der Vyver is een van ons mees geliefde Afrikaanse skrywers wat in 1992 nasionaal én internasionaal opspraak gemaak het met haar roman Griet skryf ’n sprokie. In Griet skryf Marita openlik oor seks, en plaas sy vroulike begeerte in die middel van die storie, iets wat daardie tyd nog nooit in Afrikaans gedoen is nie. Sedertdien het sy ’n heeltydse en veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword. Vandag woon Marita in ’n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man en hul kinders. Haar nuwe boek Grensgeval gaan weer oor ’n sensitiewe onderwerp in ons kultuur – die grensoorlog. Azille Coetzee gesels met Marita oor seks (natuurlik), feminisme, emigrasie, en die dinge wat spook in die Afrikaner psige. 

Episode 2: Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal (18 November 2020)

Ronelda Kamfer is die bekroonde skrywer van vier digbundels, wat in verskeie tale vertaal is, en Nathan Trantraal is ’n comic-boekkunstenaar, rubriekskrywer, draaiboekskrywer en digter. Hy het al ’n paar grafiese romans geskryf en drie bekroonde digbundels. Hulle is getroud en tussen hulle het hulle al die meeste van die belangrike literêre pryse in Suid-Afrika ingepalm. Azille Coetzee gesels met hulle oor hul liefdesverhouding en huishouding, die geïnstitusionaliseerde rassisme en seksisme in die Afrikaanse literêre establishment, die rol van kuns, en dan lees hulle elkeen ’n liefdesgedig (opgedra aan mekaar) uit hul nuutste bundels, Chinatown en Oolog. 

Episode 3: Mercy Kannemeyer (25 November 2020)

Mercy Kannemeyer is teatermaker, regisseur, en skrywer. Sy is in 2017 deur die Afrikaanse Taalraad vereer met ? Kokerprys vir haar dokumentêr, Die ander kant, waarin sy vra wat ons kan verloor as Afrikaans as onderrigtaal by Stellenbosch Universiteit afgeskaf word. Sy word gereken as een van Afrikaans se opwindendste opkomende teatermakers en het al verskeie toneelstukke op die planke gebring – onder andere Ons is nie almal so nie, ’n verwerking van Jeanne Goosen se bekende boek. Azille Coetzee gesels met haar oor identiteitspolitiek en deernis, oor haar liefde vir Afrikaans, haar stryd vir moedertaalonderrig en haar ervaring van millenniër wees. 


Episode 4: Dana Snyman (2 Desember 2020)

Dana Snyman is ’n geliefde en bekroonde skrywer, joernalis en dramaturg. Hy is ’n reisiger en storieverteller. Hy staan bekend vir die deernis waarmee hy mense en hul verhale uitbeeld, sy vermoë om die besondersheid en vreemdheid van die alledaagse te laat sien, en die eerlikheid waarmee hy sy eie gedagtewêreld blootlê. Azille Coetzee gesels met Dana oor generasiegapings, wit Afrikanerskap, nostalgie en Afrika.

Episode 5: Kabous Meiring (9 Desember 2020)

Kabous Meiring is dokumentêre filmregisseur, meningsvormer, en televisieaanbieder, onder meer. Verskillende mense rondom die tafel gaan sit om moeilike gesprekke te hê, of van Mega boere, ’n televisieprogram waarin sy deur die land reis om met boere te gesels oor die uitdagings van ons tye. Kabous is bekend om reguit praat, maar ook om haar vermoë om met mense te connect en hul stories die lig te laat sien. Azille Coetzee praat vandag met Kabous oor die borrels waarin ons leef, die woke-kultuur, plaasmoorde, Black Lives Matter en Afrikanerskap.

Episode 6: Chase Rhys (16 Desember 2020)

Chase Rhys is ’n dramaturg, skrywer en performance-kunstenaar. Vir sy debuut-toneelstuk Kinnes, ’n verhaal oor jong mense van die Kaapse Vlakte, word hy vereer met die Adam en Rosalie Small-prys in 2017. Kinnes is sedertdien as roman uitgegee en bekroon met die kykNET-Rapport-prys sowel as die Suid-Afrikaanse Letterkundeprys. Chase is medestigter van Borderlands, ’n projek wat kuns gebruik om ruimtes te skep waarin mense van gesegregeerde gemeenskappe in die Kaap bymekaar kan kom. Azille Coetzee gesels met Chase oor verteenwoordiging in letterkunde, oor kuns, queer-identiteit en feminisme. 


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.