
Hennie van Coller, redakteur van Perspektief en profiel.
Kaapstad. – ’n Nuwe uitgawe van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis Perspektief en profiel word in Julie bekend gestel.
Volgens Hennie van Coller, die redakteur van Perspektief en profiel, is die hersiene uitgawe ’n nuwe boek met profiele wat bygewerk of heeltemal nuut is. “Boonop bevat dit nou ook volledige oorsigte van die Afrikaanse uitgewerswese, die Afrikaanse literêre tydskrifte en ook kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans.
“Dit is die heel eerste keer dat al hierdie onderwerpe so sistematies aan die orde kom in enige Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis.
“Met oorsigte van die Nederlandse literatuur in Suid-Afrika, vroueskrywers en niegekanoniseerde literatuur is hierdie literatuurgeskiedenis
tans die mees inklusiewe, resente en die mees omvattende Afrikaanse literatuurgeskiedenis en dek dit inderwaarheid die hele Afrikaanse literêre veld.”
Die skrywer Etienne van Heerden, professor in die Skool vir Tale en Letterkunde aan Ikeys, skryf op die flapteks dit is ’n “onontbeerlike handleiding” en “tans die belangrikste beskouing van ons skryfwerk in Afrikaans en die begeleidende literêre gesprek”.
Perspektief en profiel toon aan dat die Afrikaanse letterkunde diep geënt is in die kontinent Afrika, skryf Van Heerden. “Dit boekstaaf die geestesprestasie van mense aan die suidpunt van ’n uitdagende kontinent. Dit is mense wat rekenskap gee van hul ontheemding en twyfel, maar ook van inburgering en liefde vir die land, van verwantskap met landgenote wat ander geskiedenisse en huistale het.”
- Perspektief en profiel word op 11 Julie om 14:30 in die ATKV-eeufeessaal as deel van die Vrystaatse kunstefees se boekeprogram bekend gestel.
Anthea van Jaarsveld sal by die geleentheid ’n gesprek met Van Coller oor die literatuurgeskiedenis lei.
Besoek die fees se webwerf by www.vrystaatkunstefees. co.za. Die uitgewer van die boek is Van Schaik.