Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nuwe Van der Vyver-bundel met rubrieke, sketse
Marita van der Vyver vroeër vanjaar by die US Woordfees in Stellenbosch. Foto: Izak de Vries

Marita van der Vyver sê haar nuwe boek, Retoer: Pretoria - Provence, is “miskien vingeroefeninge vir ’n groter outobiografie”.

Sy reken egter – “nie heeltemal spottend nie” – dat sy sal moet wag totdat sy baie oud is en sekere mense reeds dood is om eerlik te kan wees indien sy ooit ’n outobiografie sou skryf.

Retoer (Lapa) is ’n bundel van haar rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen verskyn het nie, wat ’n rubriek oor seksuele teistering insluit waarvoor sy vanjaar ’n ATKV-Mediaveertjie ontvang het.

Sy het voorheen soortgelyke versamelbundels soos Franse briewe – pos uit Provence en ’n Fontein voor ons deur die lig laat sien.

Van der Vyver, bekend om haar romans soos Griet skryf ’n sprokie, Die blou van onthou en meer onlangs Misverstand, vind dit moeilik om haar boeke weer te lees, maar sy het die saamstel van Retoer tot ’n mate terapeuties gevind.

“Met skryfstukke is ’n herlees anders. Dis nie naastenby so moeilik nie, want dis in tydskrifte, koerante en op die internet gepubliseer. Dis nooit vir my so permanent soos ’n boek nie.

“Om dit in boekvorm te kan publiseer, het my die geleentheid gegee om nou aan die stukke te werk. Nie om dit noodwendig oor te skryf nie, maar by te voeg. As ek foute opgetel het, kon ek dit regmaak. In ’n sekere sin was dit terapeuties om stukke te gebruik wat in verskillende publikasies verskyn het en dit – ek wil amper sê – beter te skryf, om dit soms te verkort, om stukkies by te skryf. Om dinge duideliker te maak. Dít was vir my baie aangenaam.”

Sy het die boek se onderafdelings tematies ingedeel om ’n struktuur aan die boek te gee. Die onderafdeling se titels is ook dié van vorige boeke wat sy geskryf het.

Sommige van haar boeke is vir die silwerdoek en verhoog verwerk, maar sy vind dit makliker om niefiksie te skryf.

“Ek kan nou baie filosofies klink en vra wat is die waarheid? Daar is nie net een waarheid nie. Ons het elkeen ons eie persoonlike waarheid.

“Dit is vir my moeilik om oor enigiets te skryf. Dis vir my moeilik om ’n inkopielys te skryf.”

Die omslag van die boek Retoer: Pretoria - Provence.

Fiksie is vir haar die moeilikste omdat sy heeltemal haar verbeelding moet gebruik.

“Ek begin met níks (met fiksie). As ek niefiksie skryf – rubrieke, essays, meningstukke – voel dit altyd vir my dat ek met iets begin. Daar is iets wat ek gesien of gedink het waaroor ek wil skryf, of iets wat met my gebeur het. Jy het ’n raamwerk, iets waarbinne jy kan begin skryf.

Met fiksie, met ’n roman, is dit net daai oop papier, die wit skerm en jou verbeelding. En dis ’n angswekkende ervaring, dag na dag.”

Haar fiksie bevat wel altyd feite en feitelike navorsing.

Dit bevat dinge wat met haar of iemand na aan haar gebeur het, en sy vermom dit.

Tog is daar in haar niefiksie ook soms ’n bietjie verbeelding.

“Dis klein stukkies – die manier waarop jy die taal gebruik. Waar jy jou verbeelding moet gebruik om die taal te laat reg klink. Soms word daar bietjie oordryf om dit snaaks te maak. Soms word dinge verswyg om jou eie privaatheid of dié van mense na aan jou te beskerm. Dis die soort manier waarmee jy werk met die sogenaamde waarheid.”

* Retoer: Pretoria - Provence kos R160.

Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Boeke  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.