Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
NUWE VERVOLG: Peet Venter se Dieper as die bloed (hoofstuk 1)

HOOFSTUK 1

Henri Muller wag, weet nie vir wie of waarvoor nie. Miskien ’n oplossing. Miskien groter probleme. Hy weet nie.

’n Oproep vroeër vandag.

“Ek het ’n proposisie vir jou, meneer Muller.”

“Wie praat?”

“Dis nie van belang nie.”

“Ek doen nie besigheid met mense wat ek nie ken nie.”

“O, dis nie besigheid nie, meneer Muller. Beskou dit eerder as ’n welwillendheidsgebaar. Iets baie persoonliks.”

“Kyk, ek het nie tyd vir speletjies nie.”

“Dis allesbehalwe speletjies, meneer Muller. Ek weet van jou probleem. Ek glo dit maak die lewe vir jou baie onaangenaam, en dat daar nie ’n dag, en stellig ’n nag, omgaan dat jy nie wens dit kan weggaan nie.”

“Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

“Dis nie die waarheid nie, meneer Muller, jy weet presies waarvan ek praat. Ek kan dit laat weggaan.”

“Hoe?”

“Ek het my metodes. Maar dit kan ons net van aangesig tot aangesig bespreek. Vanaand? So agtuur?”

“Probeer jy my afdreig?”

“Meneer Muller, die feit is, en jy weet dit, dat die situa­sie waarin jy beland het die een of ander tyd in jou gesig gaan ontplof. So, jy kan kies tussen dit en my hulp. Ek raai laasgenoemde ten sterkste aan. Vanaand, so agtuur in jou kantoor?”

Muller skrik toe die telefoon op sy lessenaar lui. Interne lyn.

“Ja?”

“Die man is hier, Meneer.”

“Goed. Dankie.”

Muller loop met die wenteltrap af, deur die ontvangs­area. Hy maak die buitedeur oop. Dit reën nog redelik sterk, heeldag reeds.

Die man het ’n hoed op, donker reënjas aan, swart of donkerblou, moeilik om te sê in die sintetiese lig. Volbaard, dikraambril, ruie wenkbroue. Hy het ’n groot aktetas in sy hand.

“Naand, meneer Muller.”

“Naand. Kom in. Laat ek jou jas ophang.”

Die man kom in, sit sy aktetas op die vloer neer, haal sy hoed af. Muller neem dit en sit dit op ’n stoel neer. Die man trek sy jas uit. Muller hang dit oor die stoel se rugleuning.

“Kom.” Muller loop vooruit, op met die wenteltrap, na sy kantoor toe.

“Sit.” Muller loop om sy lessenaar.

Die man bly staan, sit sy tas op die lessenaar neer, maak dit oop.

Muller kyk na hom oor die lessenaar. “Wat is jou proposi­sie?”

“Eintlik is dit heel eenvoudig, meneer Muller.”

Hy skud die twee oë uit die plastieksakkie, hou dit in sy hand.

Sy kyk. ’n Vraag roer in haar gedagte, kry nie klank nie.

Hy tap water in die wasbak, was die bloederigheid van die oë af, versigtig. Nou is dit skoon, die irisse grysblou.

Sy kyk. Die vraag soek ’n stem.

Hy sit die oë in ’n glasflessie met helder vloeistof, versigtig, en prop dit dig toe.

Sy vind ’n stem, heserig. “Het hy geskreeu?”

“Met sy oë,” sê hy.

Hy sit die flessie in die yskas, maak die deur toe, draai om.

Sy is weg.


NUUT OP DIE RAKKE!

Die Dooies Praat Nie

deur Peet Venter

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za




Twee polisievoertuie staan voor die veiligheidshek. Krige parkeer sy Wrangler langsaan, klim uit. Twee uniformmanne klim uit een van die polisievoertuie. Hulle groet.

Die reën het bedaar. Laat winterreën, vroeë lentereën. Deesdae weet mens nie. Daar is nog stroompies afloopwater, plasse op die straatvlak wat die ligte reflekteer, die laataandverkeer se bande laat suis.

Lig skyn uit die sekuriteitshokkie se venster, ’n groot venster wat op die hek uitkyk, die silhoeët van ’n man daaragter. Een van die uniformouens beduie vir die man. Die hek begin oopskuif. Krige loop na die hokkie se deur toe. Die sekuriteitsman staan op van sy stoel by die konsole voor die venster, kyk afwagtend na Krige. Swart uniform. ’n Kobra in geel – kan goud wees – op die hemp se linkerbors, gereed om te pik. CM Security in ’n boog daarbo, Beware in ’n boog daaronder, alles in rooi.

Daar is ’n sekuriteitsmonitor op ’n konsole, verdeel in vier raampies, ’n telefoon en ’n draagbare radio.

“Naand.”

“Naand.”

“Wat is jou naam?”

“Blessing Mhlangu.”

“Ek is kaptein Krige.”

“Naand, Kaptein.”

Krige beduie na die monitor. “Word die kamerabeelde opgeneem, Blessing?”

Blessing kyk vraend.

“Word die security videos gerecord?”

“Ja, op die server in die office. Die kameras is motion activated.”

Krige knik in erkenning vir die uitgebreide tegniese kennis. “Bly hier. Ek sal later met jou praat. Jy praat met niemand anders nie. Verstaan?”

“Ja, Kaptein.”

’n Geplaveide ryvlak loop van die hek af tussen die agterkant van die gebou en die perseel se grensmuur, vyf en twintig tot dertig meter. Teen die volle lengte van die grensmuur is motorafdakke van groen skadunet en witgeverfde staalraamwerk, plek vir heelwat motors. ’n Eensame wit Discovery staan onder die afdak, min of meer in die middel. Daar is twee groot staaloproldeure in die agtermuur van die gebou. Verder aan, verby die Discovery, ’n inham waar nog twee uniformmanne staan. Hulle groet.

“Waar?” vra Krige.

Een van die manne beduie na die inham, wat eintlik ’n kort onderdakgangetjie is met ’n enkeldeur aan die einde. “Op met die trap, Kaptein. Eerste kantoor.”

Krige gaan in. ’n Wagarea met meubels van chroom, swart leer en glas. Links is die uitstalruimte, dubbel­volume. Nie veel uitstalware nie: twee Porsches, ’n Aston Martin, twee Lamborghini’s, ’n Ferrari, ’n Audi R8. Vloer-tot-plafon-vensters aan die straatfront. Teen die agtermuur is ’n tussenvloer, ’n ontvangstoonbank en twee glashokkies met lessenaars en stoele daaronder.

Die staalwenteltrap is langs die ontvangstoonbank. Aan die bopunt van die trap is ’n kort gang teen die agtermuur. Drie kantore met vensters wat op die vertoonvloer uitkyk.

Krige staan in die eerste kantoor se deur.

Die man lê op die lessenaar, oopgespalk op sy rug. Die grysbruin langbroek is afgetrek tot op sy enkels, wit onderbroek tot by sy knieë. Wit langmouhemp oopgeknoop tot by die nek, wynrooi das, skeef, die knoop ’n ent losgetrek. Baie bloed.

Wat normaalweg op die lessenaar hoort, lê op die vloer. Dagboek, skryfbehoeftes, landlyntelefoon, selfoon, skootrekenaar, ’n bos sleutels. ’n Geraamde foto, gesigkant onder. Die grysbruin baadjie hang aan ’n kapstok in een hoek van die kantoor.

Krige kry ’n beurs en ID-boekie in die baadjie se binnesak. Henri Muller. Die ID-nommer sê hy is op 21 Mei 1969 gebore. Drie en veertig jaar oud, sê Krige se hoofrekene. Kontant, kredietkaarte en bestuurderslisensie in die beurs.

Hy sit die ID-boekie en beurs terug in die baadjiesak, gaan bekyk die lyk. Nie ’n groot man nie, gemiddelde bou. Hoeveel aanvallers was nodig om hom te oorweldig? Twee? Drie? Hoe? Dit is nie van belang nie. Die man is dood.

Hy tel die foto van die vloer af op. ’n Vrou en twee dogters, mooi, trek na mekaar. Die vrou lyk bekend. Muller? Tersia Muller, bekende handelaar in en kenner van oudhede en Oosterse matte. Daniéle doen meermale besigheid met haar. Hy het haar ontmoet toe hy en Daniéle na binneversierings vir sy huis gesoek het. Hy sit die foto neer waar hy dit gekry het.

Hy haal sy selfoon uit, druk ’n snelskakelnommer.

“Thys?” antwoord Dan Dreyer, sy hoof.

“Ek is hier, Kolonel.”

“Hoe lyk dit?”

“Morsig. Hy’s stukkend. Byl, groot slagtersmes, so iets. En sy oë is weg.”

“Weg?”

“Soos in uitgehaal en weg, Kolonel.”

“Reg, reg.”

“En daar’s ’n roos op sy bors.”

“’n Roos?”

“Ja, Kolonel.”

“Soos in ’n róós? ’n Blom? ’n Regte een?”

“Ja, Kolonel. ’n Witte.”

“Reg, reg. Het jy hulp nodig daar?”

“Nee, Kolonel.”

“Goed, sien jou môre.”

“Nag, Kolonel.”

“Nag, Thys.”

Krige tree terug, bekyk die kantoor. ’n Paar staalliasseerkabinette, ’n boekrak. Teen die mure etlike plakkaatgrootte foto’s van supermotors, twee futuristiese konsepontwerpe. ’n Kluis in die muur agter die lessenaar ingebou. Die bos sleutels op die vloer het twee lang blink kluissleutels aan. Hy sit dit in sy baadjiesak.

Die selfoon op die vloer begin lui. Krige vou sy sakdoek om sy linkerhand en tel dit op. Die verligte venstertjie sê Tersia.

Hy wag tot die selfoon ophou lui, maak die oproepregister oop. Tersia het om 18:46 ook gebel. Muller het toe min tyd oorgehad om te leef. Voor dit was daar ’n oproep uit, na ’n Alex, 17:05. Verskeie oproepe in en uit deur die dag, ’n Johan, ’n Chris, ongeïdentifiseer, weer Alex, weer Johan, en so aan. Hy sit die selfoon op die vloer neer waar hy dit gekry het en tel die dagboek op. Muller se laaste dag was ’n vol een; aangetekende afsprake van 07:30 tot 17:30.

Die selfoon begin weer lui. Krige sit die dagboek neer waar hy dit gekry het en gaan by die deur uit.

Die kantoor langsaan is min of meer ’n bloudruk van Muller s’n, behalwe dat dit netjies, sonder ’n lyk en bloed is. Die derde kantoor het ’n talmende parfuumgeur, ’n vaas blomme op ’n kunstig gehekelde matjie op die les­senaar, rekenaarmonitor en -sleutelbord, geraamde foto’s van drie tieners in skooluniforms. ’n Vrou se kantoor.

Die rekenaarbediener is in ’n glaskas met rakke waarop die komponente staan. ’n Monitor wys in vier raam­pies wat die sekuriteitskameras sien. Die raampie links bo wys die ingangshek. Regs bo verskyn die motorafdakke agter die gebou. Links onder, die deur waardeur Krige ingekom het. Regs onder, die motors op die vertoonvloer.

Krige kyk na sy horlosie. 23:40. Hy gaan met die wenteltrap af, uit by die enkeldeur waar hy ingekom het.

Daar is nou ’n derde man by die twee uniformmanne wat die hek oppas. ’n Swart Raider-dubbelkajuit staan langs Krige se Wrangler geparkeer. Die sekuriteitsman is nog waar Krige gesê het hy moet bly; in sy hokkie langs die hek.

Krige loop na die hokkie se deur toe.

“Krige!” roep die derde man by die hek.

Krige steek vas, kyk. Die man is kaalkop geskeer, fors gebou, ’n effens te groot maag. “Ja?”

“Ek is die areabevelvoerder van CM Security.”

“Bevelvoerder? Geluk met die bevordering.”

“Ek wil met my man praat.”

Krige maak die hokkie se deur oop. “Vertel my wat hier gebeur het, Blessing.”

Blessing kyk deur die venster na die hek. “My CO sê ek moet niks sê as hy nie by is nie.”

Krige kyk na die kaalkopman by die hek. “Wat is sy naam?”

“Jan van Eck.”

“Wel, Jan van Eck het hier niks te sê nie. Wil jy praat of toegesluit word? En as jy vir my probeer lieg, gaan ek jou uitvang en in elk geval toesluit. Verstaan?”

“Ek soek nie moeilikheid nie.”

“Goeie idee. Begin dan praat.”

“Ek het so half past nine se kant gaan kyk hoekom meneer Muller nie huis toe gaan nie.”

“Nee, van die begin af. Wanneer het jy aan diens gekom?”

“Six o’clock.”

“Goed. En toe?”

“Ek was net hier, toe phone meneer Muller my en sê iemand kom hom eight o’clock sien; ek moet die hek vir hom oopmaak. Toe kom hy so five to eight. Ek het die hek oopgemaak en meneer Muller gephone om te sê hy is hier.”

“Net een?”

“Ja.”

“Is jy seker?”

“Ja, hy het daar langs meneer Muller se Discovery gepark en by die deur ingegaan.”

“Was daar nie nog mense in die kar nie?”

“Nee, dit was net die een.”

“Hoe het hy gelyk?”

“Groterig.”

“Vet, of lank?”

“Lank, bietjie dik, maar ek kan nie sê nie. Hy het die raincoat aangehad, met die hoed op die kop, en die briefcase gedra.”

“En die kar?”

“Jetta.”

“Kleur?”

“Miskien rooi.”

“Miskien?”

“Maar ek is nie so seker nie. Dis moeilik om te sê in hierdie ligte. Hulle laat die kleur anders lyk. Maar ek het gesien daar’s modder aan die kante en agter, soos wanneer jy die nat grondpad gery het.”

“Kon jy die nommerplaat sien?”

“Dit was vol modder.”

’n Porsche, lyk grys, silwergrys, hou stil op die sypaadjie langs die swart bakkie. Die man wat uitklim, sweetpak aan, is lank, ligte hare, miskien grys. Hy pyl op die hek af, praat met Van Eck, praat met die polisiemanne. Die praat word ’n gesnou.

“En toe?” vra Krige.

“Toe kom hy weer uit, so quarter past nine, en hy ry,” sê Blessing.

“Krige!” snou die lang man. “Maak oop die hek!”

“En toe?” vra Krige.

Blessing is nou ooglopend erg ongemaklik. “Toe, so half past nine, phone ek meneer Muller om te hoor of hy orraait is. Ek het gewonder hoekom hy nie huis toe gaan nie.”

“Krige! Maak oop die fokken hek!” Die lang man.

“Moet ek die hek oopmaak?” vra Blessing.

“Nee. En toe?” sê Krige.

“Toe antwoord hy nie, en ek gaan kyk. Toe sien ek hom daar op die desk, en ek kom phone die police.”

“Was jy in die kantoor?”

“Ek is ex-police, ek weet van crime scene contamination. Toe ek sien daar’s moeilikheid, toe bly ek weg.”

“Dis goed so, Blessing. Toe die man gery het, het jy niks snaaks gesien nie?”

“Snaaks? Nee, hy het net daar by die deur uitgekom soos hy ingegaan het, in die kar geklim en gery.”

“Blessing, een kamera kyk reguit na daardie deur toe.” Krige beduie na die monitorraampie wat die ingangsdeur wys. “Jy moes mooi gesien het hoe die man lyk toe hy daar ingaan.”

Blessing kyk na die monitor, skuif sy voete, vryf sy oor, kug. “Maar ek het nie so mooi gekyk nie.”

“Wat het jy gesien?”

“Meneer Muller het die deur oopgemaak en die man se jas en hoed gevat en by die stoel neergesit.”

“En?”

“Toe is hulle weg.”

“Het jy nie iemand hoor skreeu nie?”

“Nee, ek het niks gehoor nie.”

Krige kyk na die radio. Dit is nou stil, maar dit was nie noodwendig toe Muller vermoor is nie. Toe deur. Reën op die hokkie se sinkdak. Verkeer in die strate. “Dankie. Ek sal dalk weer met jou wil praat.” Hy haal sy sakboekie en pen uit. “Skryf vir my ’n telefoonnommer waar ek jou kan kry.”

Blessing trek ’n laai in die konsole oop en haal ’n besigheidskaartjie uit. “Daar’s hy.”

“Het jy ’n selfoon?”

“Ja.”

“Skryf jou nommer op die kaartjie.”

Blessing skryf, gee die kaart vir Krige.

“Dankie.” Krige gee hom een van sy kaartjies. “As jy dalk iets onthou, enigiets, bel my. Enige tyd, dag of nag. Verstaan?”

“Ja.”

“En jy praat nie, met niemand nie, veral nie die koerantmense nie. Verstaan?”

“Ek verstaan.”

Krige sit die kaartjie in sy sak, loop tot by die lang man buite die hek, kyk deur die tralies. “Kan ek help?”

“Laat my inkom!”

Die man het sportskoene aan by die sweetpak. Krige is self bogemiddeld lank. Die man is effens langer. Hy is grys, het ’n aantreklike maar harde gesig. Laat veertigs tot vroeë vyftigs. Krige herken die gesig; gereeld in die nuus.

“Jy’s mos Alex Krause, is jy nie?”

“Ja. Maak oop die hek.”

“Hoekom?”

“Ek wil inkom!”

“Om wat te maak?”

“Dis my plek hierdie. Henri Muller was my vennoot. KMK, soos in Krause, Muller, Killian.”

“Ek sien. Kom jy meermale hierdie tyd van die nag hierheen, meneer Krause?”

Die aggressie op Krause se gesig word verwater deur verbaasde geamuseerdheid. Hy kyk vlugtig na Van Eck, terug na Krige. “Nee, ek kom nie meermale hierdie tyd van die nag hierheen nie. Ters . . . mevrou Muller het my gebel en gesê hier’s fout.”

“Wat het haar laat dink hier is fout?”

“Sy het Henri op sy sel gebel en hy het nie geantwoord nie.” Krause kyk weer na Van Eck, skud sy kop, kyk na Krige. “Luister, boetie, ek het nie tyd . . .”

“Ek is nie jou boetie nie. Het mevrou Muller eers die sekuriteitsman gebel toe meneer Muller nie sy sel antwoord nie?”

“Ek fokken weet nie! Al wat ek weet, is dat sy my gebel het en baie ontsteld was! Wat maak dit saak?”

“Wanneer laas het jy meneer Muller gesien?”

Krause snorklag, kyk weer vlugtig na Van Eck, ’n vae uitdrukking van ongeloof op sy gesig, weer na Krige. “Wil jy my nou wragtig eers ondervra?”

“Nou, hier, of waar en wanneer ek dink dis nodig.”

Krause sug. “Maandagoggend.”

“Waar was dit?”

“Hier.”

“Wanneer laas het jy met hom gepraat?”

“Vroeër vandag, vyf . . . Ek het nie tyd vir hierdie kak nie. Is Henri dood of nie?”

“Ek is ’n speurder, nie ’n dokter nie. Meneer Muller het jou net ná vyf gebel van sy selfoon af.”

Krause begin na sy Porsche toe loop.

“Waarheen gaan jy, meneer Krause?”

Krause steek vas, skud sy kop, draai om. “Wat?”

“Waarheen is jy skielik so haastig?”

Krause kom terug tot by die hek, gluur Krige aan. “Wáár val jy uit?”

“Ek val nêrens uit nie. Ek probeer net duidelikheid oor dinge kry wat nie sin maak nie. Dis my werk, sien. Byvoorbeeld, eers dring jy daarop aan om in te kom, dan besluit jy skielik om te ry. Miskien is ek dom, maar dit maak nie sin nie.”

Krause kyk hom ’n wyle stil aan, blaflag kortaf, klim in sy Porsche en ry.

Krige kyk na Van Eck en loop terug oor die ryvlak. Hy hurk langs die Discovery. Die beligting onder die afdakke is nie waffers nie, maar goed genoeg om die vier plekke te sien waar modderwater uit ’n kar se wielholtes gedrup het.

Hy kom orent, sien die twee manne by die gangetjie hou hom dop.

“Wat sien Kaptein?” vra een.

“Modder.”

Cyrus Boonzaier sit by die lessenaar in sy studeerkamer, oorspronklik die derde slaapkamer van sy dakwoonstel. Dit is ’n ruim woonstel, Arcadia, oorkant die kunsmuseum. Onder hom is sewe verdiepings woonstelle, op straatvlak ’n minisupermark, apteek, banktak, OTM, bottelstoor. Alles gerieflik byderhand. ’n Straatblok weg is ’n hotel met ’n kroeg. Nie ’n fuifnes nie, ’n ordentlike kuier­plek met klante wat stylvol aantrek en hulle beskaafd gedra, sakemense, professionele mense.

Die asbakkie langs sy linkerelmboog is amper vol, die sigaret tussen die wys- en middelvinger van sy linkerhand halfpad gerook, die glas binne millimeterbereik van sy regterhand, half.

Cyrus Boonzaier drink en rook meer as eet en slaap. Laasgenoemde doen hy bykans hoegenaamd nie meer nie. Dag en nag het geleidelik vervloei in tydloosheid; soms lig, soms donker. Eens was daar iets soos spertyd wat darem nog ’n mate van ritme aangegee het. Nou is dit ook weg. Hy het afgetree, soort van. Skryf net kommentaar deesdae, soort van. Hy hoef nie meer na ’n spertyd te jaag nie. Hy jaag na niks. Roem het hy; te veel, miskien. Geld het hy genoeg. Tyd het hy nie meer veel nie.

Dit is die onderwerp van sy gedagtes terwyl hy na sy skootrekenaar se skerm staar sonder om die letters, woorde, sinne, paragrawe raak te sien; sy lewe en lewensgewoontes. Die tyd wat hy oorhet.

Laas week, Vrydag, het hy die tweede keer die Press Award ontvang. Maandag, eergister, het hy en sy arts ’n interessante gesprek gehad.

“Jy moet stadig, Cy. Jou hart, lewer en longe lyk nie goed nie. Jou prostaat is erg vergroot. Hoe gereeld het jy nog seks?”

“Seks? Vir ’n alleenloper van my ouderdom is ’n skropplekkie ’n skaars ding, vergeet van ’n ordentlike horing.”

“Gebruik dan jou hand.”

“Dis vir seuntjies!”

“Ek is ernstig, Cy. Jy moet jou prostaat besig hou en gereeld leegmaak. Ten minste twee of drie keer ’n week.”

Wat maak ’n man in so ’n posisie? Die gelowiges sê dis nooit te laat om tot bekering te kom nie. Maar hoe gemaak as ’n man nie meer so seker is dat hy nog ’n siel het nie?

Hy het vroeg in sy loopbaan as misdaadverslaggewer besef met die soort grusaamhede waarmee hy daagliks te doen kry, hy sy siel by die huis sal moet los om ’n redelike stabiliteit van gees te behou. Dis natuurlik nie moontlik nie. Die ding gaan mos maar waar jy gaan. Toe vind hy uit waarom koerantmanne suip. Hulle verdoof hul siele. Gevolglik handhaaf hy nou al vir jare ’n fyn balans tussen nugter en gepleister. Hy noem dit die fyn lyn van vlymskerp geslyp. Nogal iets poëties daarin. Hy beskou homself as ’n funksionele alkoholis. Nogal iets heroïes daar­in. Niemand het hom al ooit dronk gesien nie, want hy was in sy lewe nog nooit dronk gewees nie. Net konstant vlymskerp geslyp.

Nou lyk alles so futiel.

Dieng-dong. Die voordeurklokkie. Fokken kommin, van Wolmer tot Waterkloof. Hy dreig van hy hier ingetrek het al om die ding te vervang of sommer net dood te moer. Beskaafde mense klop aan deure, vandat daar so iets soos deure was. Die ding dieng-dong steeds, vyf en twintig jaar al.

Die tydaanwyser regs onder op sy rekenaar se skerm sê 00:35. Hy staan op, gaan maak die voordeur oop.

“Hallo, Cy,” sê Krige.

“Koffie?” groet Boonzaier.

“Ek soek net ’n lêplekkie. Te laat om nou huis toe te ry.”

“Besig met ’n saak?”

“Ja.”

“’n Ietsie meer gekultiveerd dan? Ek is besig met enetjie.”

“Net ’n glas warm melk.”

“Gaan sommer deur kombuis toe; ek is nou by jou.”

Krige gaan deur kombuis toe, gaan sit by die tafel.

Boonzaier gaan haal sy sigarette en glas in die studeerkamer. Terug, sit hy sy glas en sigarette op die tafel neer. Hy haal ’n karton melk uit die yskas, ruik daaraan, gooi melk in ’n glas, sit dit in die mikrogolf. Hy haal ’n bottel whisky uit ’n kas, sit dit op die kombuistafel neer.

Krige kyk na Boonzaier, ’n uitgeteerde bleek riem van oor die twee meter. Hulle sien mekaar nie gereeld nie, wat seker Cy se agteruitgang opvallender maak wanneer hulle mekaar wel sien.

“Geluk met die tweede Press Award. Moes jou al gebel het.”

“Dankie. Begin nou afgesaag raak.”

“Ons het lanklaas sommer net gekuier, gesels, Cy.”

“Uhu. Sal ’n plan moet maak. Miskien die naweek. Is jy by die huis?”

“Bel my.”

Die mikrogolf pieng. Boonzaier haal die glas melk uit, sit dit op die tafel voor Thys neer, gaan sit oorkant hom. “Watter saak?”

“Henri Muller. Mede-eienaar van KMK Exclusive Auto Brokers. Het jy geweet daar is so iets?”

“Wat?”

“Auto Brokers. Motormakelaars.”

“Klink na motorhandelaars met ’n houding, soos in môtorhôndelôrs.”

“Hulle doen net duur goed. Sewesyfer. Porsche, Aston Martin, Lamborghini.”

“Uhu? Wat doen hulle daarmee?”

Krige haal sy skouers op. “Verkoop dit seker.”

“Motorhandelaars. Wat is die storie?”

“Muller is in sy kantoor vermoor. Die nagwag het hom gekry.”

“En waar het die nagwag geslaap terwyl die Muller-man vermoor word?”

“Nee, Muller het ’n besoeker verwag, vir die wag gesê om die hek oop te maak wanneer hy kom.”

Boonzaier knik.

“Muller se oë is weg, en daar’s ’n wit roos op sy bors.”

“’n Wit roos? ’n Boodskap, doelbewuste leidraad, of die vinger?”

Krige haal sy skouers op.

“Een besoeker?”

Krige knik. “Een van Muller se vennote is Alex Krause.”

“Dié Alex Krause?”

Krige knik. “Is duidelik gewoond daaraan om sy gewig rond te gooi.”

“Wel, hy het genoeg gewig agter hom. Hoë politieke pelle,” sê Boonzaier. “Het ’n vinger in omtrent elke paai, besigheid en anatomies gesproke. As ek reg onthou, het sy eerste vrou hom amper kaalgat uitgetrek toe sy hom met nommer twee betrap het. Wel, ek veronderstel hy was letterlik kaalgat vir die okkasie. Met nommer twee was hy slimmer. Sy het met omtrent niks van die toneel af verdwyn. Tans is hy loslopend, sover ek weet.”

“Die ander een is Killian. Al van hom gehoor?”

“U-u. Sal kyk wat ek kan uitkrap.”

“Dis dit.”

Boonzaier knik. “Spaarkamer is reg. Ek sal in my studeerkamer wees. Sal jou wakker maak, dan kan jy stort, skeer, en brekfis eet. Toast, eiers, wors. Dink ek het nog viennas. Spek. Sal moet kyk.”

Krige maak sy melk klaar, staan op. “Sesuur. Net koffie, dankie. Sal brekfis op pad kry, sommer by ’n Wimpy.”

“Dit sal dalk veiliger wees. Sesuur.”

Krige loop na die deur toe. “Nag.”

“Nag.”

Krige loop die gang af na die spaarkamer toe, waar hy al meermale in sulke gevalle geslaap het.

Boonzaier neem ’n sluk uit sy glas, steek ’n sigaret aan, kyk Krige agterna. ’n Enigmatiese man, ’n vriend, in baie opsigte ’n seun wat hy onder sy onbeholpe vlerk geneem het toe Albert Krige vermoor is.

Die lewe loop eienaardige draaie.

Sy hoof en mentor, ou meneer Sadie, lank reeds oorlede, het die eerste dag toe hy as junior misdaadverslaggewer begin het vir hom gesê: “Boonzaier, ’n goeie misdaadverslaggewer het altyd ’n paar tjomme in die polisie.”

Hy het ’n paar maats gemaak in die polisie, maklik. Arm jong polisiemanne sê nie maklik nee vir gratis drankies ná werk nie. Toe ontmoet hy iemand wat ’n besonderse vriend sou word, Dan Dreyer, toe nog ’n luitenant.

Dan Dreyer het hom gebel daardie aand toe Albert Krige vermoor is.

Hy kon daardie nag weggery en van die jong Thys Krige vergeet het. Hy het nie. Iets het daardie nag gebeur wat ’n band dieper as vriendskap tussen drie mans gesnoer het.

Hy neem sy glas en sigarette saam met hom na sy studeerkamer toe.

 

* LEES DIE VOLGENDE HOOFSTUK

Meer oor:  E-Boek  |  Peet Venter  |  Dieper As Die Bloed  |  Vervolgverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.