Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
NUWE VERVOLG-VERHAAL: 'Tussen die klippe' deur Hans du Plessis


Tussen die klippe
HOOFSTUK EEN

“Die staat roep as eerste getuie Ester Espag.”

Die naam Ester is tydens die prosedure van kerklike tug voor die kerkraad van Donkerhoek meer as een keer genoem, maar sy het nooit as getuie voor die kerkraad verskyn nie. Niemand het nie – daar was nie tyd nie.

Nou verskyn die einste Ester as getuie voor die Hof van Landdros en Heemrade in die Moot.

En die saak bly vir my steeds troebel. Oorhaastig en onseker, soos alles in hierdie wispelturige emigranteland.

Selfs die eeu balanseer op haar naeltjie, en nou moet die hof nog die waarheid teen die onwaarheid weeg. 

My eie onsekerheid, vermoed ek, staan in die teken van die tyd, want alles is op die keerpunt in hierdie bitter binneland noord van die 25 grade suiderbreedte – waar dié ook al mag wees.

Wie regeer? Wie weet regtig wie nou eintlik die hoofbestierder is, en waar moet die administratiewe hart van hierdie nuwe republiek sonder naam uiteindelik klop? Twyfel het ná die anneksasie van Natal soos misreën saam met die trekkers terug oor die Drakensberg getrek. Sedert die slenterslag van Boomplaats snuif die Engelse soos ’n honger hond al op die waspore van die trek, op soek na nuwe grond.


NOU BESKIKBAAR!

DIE OPSTAND VAN POPPIE NEL

deur Hans du Plessis

Klik en koop hierdie boek en ander e-boeke op lapa.co.za


Onsekerheid is die hoofrede hoekom ek geweier het om die kerkraad se memorie aan die volksraad te teken, want ek is steeds nie seker of sy skuldig of onskuldig is nie.

“Asseblief, Johannes, teken net,” het my liewe vriend Gous bly pleit. 

“Ek is nie daarvan oortuig dat dit die waarheid is nie. Ek kan dit nie teken nie.” 

Ek het Gous amper jammer gekry, want hy was ook maar in ’n dikkedensie. Aan die een kant het die eerwaarde kerkraad hom gedryf om die saak met spoed af te handel, want daar was nog belangriker sake op die agenda, en daar is reeds meer as ’n uur aan die tugsaak gewy. En dit is hulle eerste kerkraadsvergadering, onthou. Aan die ander kant was daar Gous se soeke na die volle waarheid.

“Die eerwaarde kerkraad van Potchefstroom het ook soos hierdie kerkraad geoordeel, dominee Johannes,” het die agerende hoofouderling my ongeduldig probeer oorreed, byna gesmeek om die memorie te onderteken saam met dominee Petrus Gous.

“Het die kerkraad van Potchefstroom ál die getuies persoonlik voor die kerkraad laat verskyn?” het ek gevra, al het ek geweet hulle het nie.

“U weet mos hulle het nie, dit was onprakties. En waar sou ’n nuut gestigte gemeente soos ons die middele vandaan haal om getuies voor hierdie kerkraad te daag?”

“Die waarheid kan nooit te duur wees nie, my broer,” het ek volgehou.

“Lees dan net asseblief eers weer die memorie, voordat jy finaal besluit,” het Gous gesoebat.

Ek het die memorie by hom geneem.

“Ek weet wat daarin staan.” 

Nogtans het ek die paar bladsye by hom geneem en dit weer begin deurlees, soos wat dit opgestel is in die netjiese handskrif van dominee Petrus Hendrikus Gous.

Aan die Hoogedele volksraad

Donkerhoek, 12 Desember 1850

Hoogedele here!

In ’n sitting van die eerwaarde kerkraad van die pas gestigte gemeente Donkerhoek, waarby teenwoordig was ds. Petrus Hendrikus Gous, leraar van die gemeente Babilon, en ds. Johannes van die gemeente van Efese anderkant die Swartberg, gekommitteer deur die weledele Sinodale Kommissie van ons kerk ter behartiging van die geestelike belange van ons ge­loofsgenote noord van die Vaalrivier, word ter tafel gebring wat reeds vroeër op 28 Augustus 1850 voor die kerkraad van Potchefstroom gedien het, ’n hoogs onwettige, onsedelike en onchristelike egverbintenis tussen Susanna Isabella Marais en ene Charl Marais. 

Daar is besluit om in die belang van die maatskappy en die Christendom hierdie versoekskrif aan u hoogedele here afgevaardigdes te rig met die dringende bede dat u hulle, indien die partye nie vrywillig daartoe instem nie, op u gesag die egverbintenis as verbreek verklaar – ’n bede wat, na ons mening, in vervulling u verhewe plig is ten einde die skand­vlek op ons maatskappy uit te wis, en ons vertrou dat dit daartoe sal bydra om soortgelyke wanbedrywe in ons midde te beëindig. Verder ook om die welverdiende toorn en straf van God se geregtigheid oor hierdie saak van die beklaagde af te weer.

In bogemelde sitting te Potchefstroom is Susanna Isabella Marais voor die Kerkraad gedaag en deur die aanwesiges gewys op die grootheid en snoodheid van haar wanbedryf deur ’n huwelik aan te gaan terwyl haar wettige eggenoot nog lewe en op hierdie huidige dag elders woon en steeds ongetroud is. 

Een van die lede van die Kerkraad het opgemerk dat die suster sekerlik moes geweet het dat haar wettige man nog lewe en ongetroud is. Sy moes derhalwe die huweliksbevestiger op een of ander slinkse manier daarvan oortuig het dat sy met die man met wie sy nou verkeer ’n wettige huwelik kon aangaan. Sy ontken dat sy dit geweet het, maar dat sy hierdie nuwe man liefhet. Die beskuldigde wou nie op enige verdere beskuldigings antwoord nie. Op watter ander wyse sy haar nog wangedra het, bly vir die Hoogedele Raad om te ondersoek, en te besluit of sy verder in ’n geregshof vervolg moet word.

Ons as Kerkraad neem hierdie saak seer ter harte, te meer daar dié suurdeeg van ongeregtigheid op vele en veelsydige wyses ’n nadelige invloed kan uitoefen, meer nog omdat gerugte die rondte doen dat dié geval nie die enigste van goddelose aard in die maatskappy sou wees nie. 

Ons het ons daarom gedronge gevoel om genoemde vrou vir ’n onbepaalde tyd onder kerklike sensuur te stel, met ontsegging van alle Christelike voorregte. 

Ons kon as Christelike burgers van die Maatskappy nie nalaat om hierdie saak met verskuldigde eerbied onder u edele aandag te bring nie. Ons dring daarop aan dat u stappe doen tot nut en heil van haar siel. Dit is immers waarvoor u deur Gods weë daargestel is.

Met die bede dat God u sy lig en Gees skenk, noem ons ons u Hoogedeles se onderdanige dienaars.

Geteken

Ds. Petrus Hendrikus Gous V.D.M.

“Ek is jammer, ek kan dit nie teken nie.” Ek gee die bladsye vir Gous terug en toe hy verwytend na my kyk, moes ek verder verduidelik.

“Die saak is oorhaastig deurgevoer. Ek dink nie die suster het voldoende geleentheid gehad om haar kant van die saak te stel nie.” 

Ek was werklik jammer, maar ek kon eenvoudig nie die versoekskrif medeonderteken nie. Nie soos wat dit voor my op die tafel in die kerktent van Donkerhoek gelê het nie.

“Ons kan nie verder tyd aan hierdie saak bestee nie, Dominee,” het die hoofouderling vir Gous gesê. “U moet dan maar alleen teken.”

Gous het vir ’n oomblik pleitend na my gekyk, maar hy moes aan my houding gesien het dat ek nie gaan toegee nie.

Ek kon eenvoudig nie.

“Dit is hierdie kerkraad se eerste vergadering,” het die ouderling vir my gesê.

“Ek weet die gemeente is maar pas ’n paar maande gelede gestig en daar is nog baie sake wat voor Vrydag bespreek moet word, maar dit maak die verslag nie aanvaarbaar nie, my ou broer. Ek is jammer.”

“Dan is dit so, Dominee,” het die ouderling vir Gous gesê en sy skouers opgetrek. “Teken Dominee dan maar alleen en laat ons voortgaan met belangriker sake. Ons wou nog ’n predikant beroep het.” Die ouderling het diep gesug en beskuldigend in my rigting gekyk. “Nou weet ek nie meer so mooi of die tyd ons dit gaan toelaat nie.”

Die res van die vergadering het gemakliker verloop, maar die sakelys is nie heeltemal afgehandel nie.

Teen Vrydagmiddag het ek verneem dat die memorie oor die betrokke suster vroeg in Januarie die volgende jaar voor die volksraad sou dien.

Daarmee was die saak afgehandel en ek sou kon terugkeer na my eie gemeente in die Kolonie. Ek het geweet dat daar op my lang terugtog genoeg tyd sou wees om my verslag aan die sinode op te stel en te oordink. 

Maar toe kom die versoek van landdros Didimus Mentz, en ek moes weer kies.

Is God dan die enigste sekerheid? het ek myself bly afvra terwyl ek en Bileam van Donkerhoek af Moot toe ry om teësinnig ingesweer te word as geswore lid van die wettige Hof van Landdros en Heemrade op die plaas Hartebeespoort in die Moot-wyk. 

Glo ’n ernstige teregsitting waarvan die besonderhede vir my nog nie baie duidelik is nie. 

En alles bly onseker.

* Lees môre verder . . . 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.