Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ode aan radioverhale

Stralerjakkers

Leon van Nierop

TAFELBERG, R250

Die sneller vir hierdie boek wat gegrond is op die gewilde radioverhaal is juis die groot aanhang wat dit tussen 1996 en 2001 op radio geniet het en talle versoeke van luisteraars om dit in boekvorm te kan vashou en weer die storie al lesende te geniet.

Leon van Nierop se uitdaging was om 17 000 bladsye se storie en 1 368 episodes tot binne ’n enkele band te distilleer.

Weg van die klatergoud wat baie mense met moeite najaag en agter hoë mure koester, is daar ’n losieshuis aan die verkeerde kant van die treinspoor in Johannesburg waar gewone mense elke dag met regte probleme worstel.

Girly Lubbe met haar arsenaal sêgoed en ’n hart van goud het dit nie maklik om kop bo water te hou nie. Haar loseerders ook nie. Ná twee jaar – onskuldig – in die tronk, is dit juis Girly se losieshuis wat vir die rykmanseun Tiaan Reyneke na die ideale plek lyk waar hy met sy opgekropte woede en verwyte vir eers ’n holte vir sy voet kan vind. Aangaan met die lewe gebeur egter nie so maklik nie.

Marcel Reyneke is glad nie ingenome met haar seun se nuutgekose blyplek nie. Aan Tiaan en sy broer Etienne se verhouding is daar nie salf te smeer nie. Die insident wat Tiaan onskuldig in die tronk laat beland het, werp nog ’n kil en dreigende skadu oor die hede. En wat twee jaar agter die tralies aan die liefde doen, is ook iets wat Tiaan en die redaktrise van Swier! ,Yolande de Wet, met hulself en mekaar moet uitwerk.

Dit is nie ’n verrassing dat Van Nierop se storie ’n melodramatiese inslag het nie; radiovervolgverhale leen hulself immers daartoe.

Girly Lubbe se losieshuis word ’n katalisator van menslike intriges, hartstogte, teleurstellings en hoop. Dis ’n plek waar die verskil tussen voorgee wat jy nie is nie en die ware self duidelik is. Die skrywer verdien lof vir die manier waarop hy die tydgleuf teenwoordig hou met Uber-taxi’s, misdaad en Facebook.

’n Mens vergewe die skrywer vir die karikatuurgedrewe karakters en die stereotipering van mense en hul situasies. Alles word deurgaans mooi toegelig en verduidelik om geen misverstand by die leser te skep nie. Geen sprake van diep simboliese of letterkundige motiewe hier nie. En die skrywer hanteer sy karakters met deernis. As roman gee Stralerjakkers nie voor om iets te wees wat dit nie is nie.

Op ’n manier is die boek ’n ode aan radiovervolgverhale wat nie net verveelde oomblikke vir luisteraars omtower nie, maar diep in hul harte inkruip omdat dit gaan oor die drama van die lewe waarin ons almal karakters is.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.