Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Odendaal se verse ’n baken van hoop vir SA

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie

Pieter Odendaal

Poësie

TAFELBERG, R200

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is ’n sterk debuut, een wat ons weer in moontlikhede kan laat glo, skryf Jaco Barnard-Naudé.

Byna ’n kwarteeu het verloop en steeds gaan Afrikaans swaar gebuk aan sy voormalige status as “die taal van die onderdrukker”.

In die onlangse verlede het hierdie bagasie en die strukturele bevoordeling van Afrikaans wat daarmee saamgegaan het, ongetwyfeld ’n rol gespeel in die deure wat veral by universiteite vir Afrikaans ferm toegemaak is. Hierdie gebeure het die mismoedige indruk by baie Afrikaanssprekendes verdiep dat Afrikaans besig is om ’n taal van onmoontlikheid te word.

Pieter Odendaal se debuutdigbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, verwoord egter op eiesoortige wyse die moontlikhede – veral die ánder moontlikhede, selfs “ ’n afgrond van moontlikhede” – wat steeds vir Afrikaans as ’n taal tussen tale bestaan.

Hierdie ander moontlikhede van en vir Afrikaans is in Odendaal se digkuns onlosmaaklik verbonde aan die geskiedenis, die storie en die omstandighede van die vlees-en-bloed-Ander – hulle na wie Odendaal in die programgedig as “die generasies stilgemaaktes” verwys.

Hierdie fokus beteken dat Odendaal se gedigte ons dikwels na die lewensruimte van daardie Ander neem.

Soms is daar reeds poësie in daardie ruimte, soos in “Ballade”, waarin die digter op een van daardie neerdrukkende Kaapstadse treine reis en die treintrok nietemin skielik ’n gedig word wanneer ’n passasier “Koos Doep se Gebed” in Xhosa sing. Die passasiers wat saamsing, word “veeltalig een” – totdat ’n “simpel vent” die harmonie ontwrig en “die swaar geskiedenis” weer “stil soos asem” saamry.

Die geregverdigde verontwaardiging van die digkuns seëvier egter, al is dit met behulp van ’n kragtige taalvermenging. Elders maak die digter self ’n gedig van hierdie alledaagse ruimte, soos in die aangrypende “Vreemdeling, laataand-gesprek, Corridor se stoep, Stellenbosch”, waarin “jou gesig lê tussen my en die shacks”.

Pieter Odendaal. Foto: Retha Ferguson

Odendaal se digkuns is dus noukeurig ingestel op die maatskaplike nalatenskap van apartheid en die sosiale verantwoordelikheid van diegene wat deur apartheid bevoordeel is en bevoordeel bly. Hierdie temas is bekend in ons digkuns en Odendaal volg trefseker in die voetspore van hierdie digters, maar die oorspronklike, eietydse wyse waarop hy die kwessies verwoord, maak dit nie net opnuut aangrypend nie – dit verleen ook ’n nuwe dringendheid én ’n nuwe dimensie hieraan.

Wat die nuwe dimensie betref, wil ek my verstout deur te sê dat Odendaal oorspronklik dig oor die manier waarop die natuur in ons tydgleuf al hoe meer deel word van die sosiaal-politieke bemoeienis: Die strewe na geregtigheid kan nie langer bekostig om die omgewing buite rekening te laat nie. Maar die bundel is veel meer as ’n ekologiese pleidooi: Die weer en die waterval word ook ’n metafoor, plante is digters en bome transpireer verse.

Odendaal vervaag die tradisionele onderskeid tussen natuur en kultuur in ’n unieke, nuwe trant. In die vierdelige “eersterivier” slenter die digter saam met die stroom wat die geskiedenis van ongelykheid vertel (dit “stink nes bergiekak”) en in “terug die bos in (vriende is stapgenote)” word ’n staptog oor Papegaaiberg ’n ontvlugting, totdat die landskap weer die (self)vernietigende werk van die mens te voorskyn roep.

Protespolitiek kom sterk na vore in die bundel en die gevaar is dat ’n sekere geyktheid en ’n slagspreukery hier die oorhand kan kry, maar Odendaal vermy die slaggat deur die klem te plaas op die intimiteit van die politieke en die politieke aard van intimiteit.

In “Vreemdeling, laataand-gesprek” wat ek hierbo noem, word iets so intiem soos ’n soen met politiek gelaai. In “in praise of protest” werk dit weer andersom: Die digter skets die politieke ruimte van studenteprotes sonder om van die geweld weg te skram (“Utopia burns badly baby”), maar tog pleit hy om ’n beskerming van die intimiteit van “lywe wat wild soos die son brand”.

In “die eerste steen”, opgedra aan Adam Small, word die politieke en die intieme op so ’n wyse met mekaar in verband gebring dat ’n mens met nuwe oë kan kyk na kwessies soos die oordrag van trauma tussen generasies, die verhouding met ouerlike gesag en doodgewone – maar in ons tyd al hoe meer seldsame – meegevoel.

Dit is egter veral Odendaal se intieme gedigte oor sy gesin wat ek weer en weer lees, waarvan die beelde en die reëls in my kop bly vassteek, soos: “ek het my met dieselfde asem / geteken en uitgevee”. Die gedigte waarin Odendaal openlik oor depressie dig, het natuurlik ook ’n politieke dimensie, want dit is ’n moedige politieke besluit om in die aangesig van al die stigma en stilte oor geestesongesteldheid jouself as ’n depressielyer te out. Die slopende gevolge van depressie word direk in verband gebring met die moontlikheid wat so gedy in hierdie bundel, wanneer die digter in “clomidep 150 mg” verklaar: “ek glo weer in onmoontlikhede”.

Dit alles kry Odendaal reg sonder om die digtheid van die poësie in te boet, sonder om die metaforiek te verarm, sonder om die lied te verskraal. Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is ’n baken van moontlikheid in die Afrikaanse poësie én in die Suid-Afrikaanse landskap.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Jaco Barnard-Naudé is mede-direkteur van die Sentrum vir Retoriekstudie aan die Universiteit van Kaapstad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.