Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Om afskeid te neem in kleur van swane

Foto:
Poësie

Die waarheid oor duiwe

Gisela Ullyatt

PROTEA, R200

Die duif, onder meer simbool van die siel ná die dood; toonbeeld van geestelikheid en die Heilige Gees, maar ook eietydse vredesimbool, staan sentraal in Gisela Ullyatt se debuutbundel, Die waarheid oor duiwe.

Duiwe, grillerig realisties gegiet in porselein deur Toni Pretorius, pryk op die omslag en sluit aan by die temas van die bundel wat met behulp van duifbeelde ondersoek word.

Die duif is ook sentraal in die motto uit Vlugskrif van Johan Myburg:

die dae het onrustig geword

met die pote van duiwe op die windgrys dak

dit het onherroeplik winter geword.

Kyk mens weer na die omslag is die pote van die duiwe klouagtig en bedreigend; bedreiging is immers een van die temas in die bundel.

Naas die openings- en slotgedigte oor duiwe wat die bundel as’t ware raam, sluit die motto aan by die gedig “winter” (bl. 41), waar die koue winter met duifkarkasse assosieer word om die onversadigbaarheid van die allesverslindende winter te beskryf.

Bedreiging is een van die temas van die bundel.

In die titelgedig word beskryf hoe die bure na ’n beter woonbuurt trek en hul duiwehok agterlaat. Digterlik omtower die jong kind in die gedig die duiwehok tot ’n ogiesdraadkasteel en word die duiwe sentraal in haar snuffeltog: Sy neem hulle eers waar, klim in die hok, sit op die mis en bestudeer hulle. Maar, o wee, die ontnugtering tree in. Die bure kom haal hulle hok en net ’n leë vierkant geel gras bly agter as teken van haar eertydse verbeeldingsvlug – iets soortgelyks aan die spel met die Die klein prinsie in “vir liam” (bl. 16).

In “nawoord” (bl. 83) tree die ondersoeker weer na vore, maar nou kan die leser die drif van haar verkenningstog aanskou wanneer sy die eiertjies oopknip. Sy kom egter tot die slotsom: “maar van my duiwehok kon / ek myself nimmer losfletter.” Fletter, met die betekenis van op en af met die vlerke fladder (HAT), suggereer dat die spreker in die gedig byna verduif of duif word. Die snuffeltog deur die duiwemis en die aanraak van die eiertjies sal altyd, by wyse van spreke, deel wees van haar.

In die teken van ontnugtering en bedreiging lewer die digter in die tweede afdeling van die bundel verslag oor ’n siektetoestand en hoe sy afhanklik word van die hoëpriester van narkotika om die regte pil op die regte tyd te sluk.

Slim word Bybelse verwysings omdig, wanneer daar in “jy omsingel my” (bl. 28) geskryf word oor die ramshorings wat blaas, die bos wat brand en die uitverkorenheid van die sieke wanneer sy by die naam geroep word. Dit word voortgesit in “intensiewe sorg” (bl 30) waar die pa soos ’n offerlam op die altaar lê.

Die pa-figuur kom voor in etlike verse in die bundel en in “altyd in pretoria-wes” (bl. 76) word hy ’n bywoner in sy eie lewe genoem. Of in “die trein na ouma pretoria” (bl. 66) bly hy ’n alleenfiguur op die perron in sy “armyjas” en gee hy ’n fles rooibostee aan vir die gesin wat vertrek.

bedelmonnike / in die mis / lanterns van klip

Die dood en veral selfdood kom deurlopend in die bundel voor, met ’n reeks verse oor die dood van Kurt Cobain, die voorsanger van die groep Nirvana. In ’n gestroopte vers, “tussen kontinente” (bl. 69), word die dood van André Brink “regoor brazzaville” beskryf en in ’n vers vir Ernst van Heerden (bl. 71) word gepraat van die dood as “slegs amputasie / die lewe cliché.” Na aanleiding van een van Marlene Dumas se skilderye word die lewe en dood van Ouma Martha (bl. 74) weergegee. Daar is ook ’n slim vers oor die oupa wat “soos ’n coca-cola-blikkie” ineenknak.

Naas die verwoording van verganklikheid, is daar ’n reeks indrukke van die Boeddhistiese sentrum by Ixopo (bl. 58) wat staan in die teken van wat die digter “ ’n groen seisoen” noem. Vergelyk byvoorbeeld een van hierdie indrukke: bedelmonnike / in die mis / lanterns van klip.

Wat my veral bybly van hierdie goed gekonstrueerde bundel is die nougesette waarneming en die fyn verwoording in beeld. (Terloops, my gunstelingbeeld in die bundel is: “ek neem afskeid in die kleur van swane” (bl. 40).) Ullyatt lewer hier ’n sterk debuut en ek sien uit na verdere verse.

En selfs al is die temas van ’n serieuse aard is daar ook heelwat humor in die verse. Vergelyk maar net “pop goes the weasel” (bl. 20) of die beskrywing van die bure en familielede. Of die gedig “patê de fois gras” (bl. 26) met sy openingsreëls: “vir tien jaar al voer jy / my vet met pil-orgies / pomp jy my / lewer tot galdik gans.”

Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.