Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Om besig te wees is dié dryfveer

Open Book laat Mohale Mashigo jaarliks met ’n dilemma. Sy weet eenvoudig nie hoe om alles wat sy wil bywoon in te pas nie. Dan is sy boonop by verskillende gesprekke betrokke.

Maar die lekkerste van alles by Open Book is wanneer sy haar Oprah-oomblik kry en skrywers wat sy bewonder en wie se werk sy geniet kan ondervra.

Dit staan bekend as Conversations with Mohale. Sy gesels vanjaar met Nicole Dennis-Benn, Pumla Gqola en Lesley Nneka Arimah oor feminisme. Sy meen laasgenoemde se What It Means When a Man Falls from the Sky is een van die beste boeke wat sy al gelees het.

Mohale Mashigo

“Ek wil myself in ’n paar stukke kap om by alles uit te kom,” sê sy met ’n borrelende lag.

Kyk ’n mens na alles waarmee sy besig is, wonder jy in elk geval hoe sy alles gedoen kry. Sy is skrywer, storieverteller, sanger, liedjieskrywer en een van die min vroue in die land wat aktief betrokke is by strokies.

Mohale Mashigo is die skrywersnaam van Carol Mashigo. Wanner sy sing, gebruik sy die verhoognaam Black Porcelain. Haar debuutalbum Invincible Summer word in 36 lande gehoor en het in 2013 die Wawela-musiekprys gewen vir beste kreatiewe album. Sy is deesdae te besig met skryfwerk om baie aandag aan musiek te gee.

Haar debuutroman was The Yearning. Hierna het sy die plaaslike rolprent Beyond the River van rolprent na leesboek aangepas vir die jeugmark. Dié film is geïnspireer deur die ware verhaal van die twee roeiers Siseko Ntondini en Piers Cruickshanks. Haar eerste bundel kortverhale Intruders sal in September in boekwinkels wees.

“Ek skryf graag oor mense wat niks besonders is nie, wat op die agtergrond staan, dié wat nie sommer raakgesien word nie,” sê sy. “Ek kan om die dood nie liefdesverhale skryf nie, maar as ek agter die klavier gaan sit en liedjies skryf is dit om die een of ander rede altyd oor liefde en verhoudings.”

Sy het by die strokieswêreld betrokke geraak as storieskrywer vir die strokie Kwezi.

“Ek het die strokies gelees en vir die manne gesê hulle boekies is mooi, maar dit kort ’n sterk storielyn.”

So het sy toe vir hulle begin skryf. Sy lag as sy vertel hoe mense by FanCon en ander byeenkomste altyd dink sy is maar die een wat die T-hemde verkoop.

“Dan wil ek hard en duidelik vir hulle sê ek is eintlik die een wat die storie vertel.”

Nou is sy vuur en vlam om ’n grafiese roman te takel.

“Wat ek die meeste van Open Book waardeer is hoe in voeling die organiseerders is met sake van belang.

“Of dit onderwerpe van bespreking, skrywers of boeke is – jy sal pitkos hier kry.”

Open Book word van 5 tot 9 September in die Fugard-teater en ander lokale gehou. Besoek openbookfestival.co.za vir meer inligting. Kaartjies kan by webtickets bespreek word.

Besoek ook

http://openbookfestival.co.za/authors/mohale-mashigo/

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.