Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Om Bosman se stories in Afrikaans te laat dans

Volmaan oor die Marico

Herman Charles Bosman

THE HOUSE OF EMSLIE, R250

Die bekende Suid-Afrikaanse prosaïs en joernalis Herman Charles Bosman (1905 – 1951) geniet in die Engelstalige literatuur hoë aansien.

Hiervan getuig onder meer die lewenslange bemoeienis van Lionel Abrahams en Stephen Gray met hom en sy werk. Gray het onder meer ’n biografie oor Bosman getiteld Life Sentence (2005) gepubliseer, ’n bundel bydraes oor hom saamgestel en as mederedakteur van sy Anniversary Edition opgetree. Bosman se literêre nalatenskap word deur die Universiteit van Texas in Austin in die VSA bewaar.

Bosman word veral vir sy kortverhale en romans geloof. Die tronkmemoir, Cold Stone Jug (1949), handel oor sy tronkervarings tussen 1926 en 1930 as veroordeelde moordenaar van sy stiefbroer. Die beeld wat in die Engelse literatuur van Bosman geskep word, is van ’n figuur wat die eerste helfte van die 20ste eeu oorheers en groot aansien geniet het. Gray se Remembering Bosman: Herman Charles Recollected help om sy werk in die konteks te plaas van die tyd waarin dit ontstaan het.

Oor die jare het Bosman bekend geword vir sy verhale in onder meer bloemlesings, asook die wyse waarop sy werk deur die akteur Patrick Mynhardt (1932–2007) met eenmanvertonings gepopulariseer is. Die indruk van Bosman se werk is dat dit bowenal humoristiese vertellings is waarin Groot-Marico, die distrik waarin Bosman ná universiteit naby Zwingli onderwys gegee het, ’n sleutelrol speel. Baie van Bosman se vertellings of boereverhale word by monde van die bobaasverteller oom Schalk Lourens (maar ook ander as “bronne”!) weergegee, wat ’n spektrum van emosies bied.

Kenmerkend van Bosman se verhale is dat hulle in Engels geskryf is, maar deur middel van Afrikaanse plekname en Afrikaanse woorde in die teks ’n Afrikaanse karakter het. ’n Mens sou selfs kon sê dat sy unieke Engels eintlik Afrikaanse Engels is.

Alhoewel Bosman nie in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis hoog aangeslaan word nie (hy het hom onder meer vervreem deur negatief oor N.P. van Wyk Louw te skryf), is in die onlangse verlede probeer om Bosman breër aan die Afrikaanse leserspubliek bekend te stel. Bosman self was Engelssprekend, het sy skoling in Engels gehad en sonder ’n Afrikaanse aksent gepraat. Hy het wel ook in Afrikaans geskryf en gepubliseer.

Vertalings van Bosman se werk is reeds deur Hennie Aucamp, Francois Griebenow en Johann de Lange gedoen.

Vertalings van Bosman se werk is reeds deur Hennie Aucamp, Francois Griebenow en Johann de Lange gedoen. De Lange het goed daarin geslaag om in Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman (2013) die gees van die oorspronklike tekste weer te gee.

In Volmaan oor die Marico het die oudonderwyser en vertaler van onder meer ouer werk van Deneys Reitz en Willie Steyn, Hendrik Jansen, 60 van Bosman se verhale gepubliseer. Jansen se uitdaging was ongetwyfeld om Bosman se tekste vol humor, raak karakterisering, plekgevoeligheid en lewenswysheid Afrikaans te laat praat. Die vertalings is oorspronklik elke Donderdagoggend deur die regsman en uitgewer T.S. Emslie se weeklikse e-pos en potgooi versprei.

Die vertaler/uitgewer het voor die probleem gestuit wat baie ouer Suid-Afrikaanse tekste bied (ook dié van Eugène N. Marais), naamlik die gebruik van raspejoratiewe. In die inleiding tot die bundel gee Emslie redelik subtiel aandag aan hierdie kwessie en die besluit om die teks te suiwer. Volgens hom is die “woordeskat […] wat deesdae deur baie mense as kwetsend beskou word” deur middel van “klein aanpassings en weglatings uit liefde vir Bosman se skryfwerk gemaak” (bl. vii). Die leser word dus by voorbaat bewus gemaak van die etiese redes om die geskiedkundigheid van die teks te verander.

Op skool het my Engels-onderwyseres, mev. El Bedford (die skrywer sir Laurens van der Post se suster), Bosman se “In the Withaak’s Shade” uit Mafeking Road and Other Stories (1947) met ons behandel. Die gebruik van Afrikaanse woorde/name soos “oom”, “withaak”, “aasvoël”, “Abjaterskop” en karakters met Afrikaanse name het ’n kenmerkende karakter aan die verhaal gegee. Die humor in die teks is op verrassende wyse opgeskort wanneer die verteller “die rooi bloedkol op sy [die luiperd se] bors sien waar die Mauserkoeël hom getref het”.

Jansen se vertaling van brokkies uit Bosman se tekste is in keurige en vloeiende Afrikaans, terwyl sowel die teks as die uitgawe van die bundel van kundige redaksionele versorging getuig. Die versameling laat die leser kennis maak met ’n verskeidenheid bekende en minder bekende tekste uit landelike en stedelike milieus (kyk “Die digter se geborduurde leuen” en “Die onverganklike adel van die gees” uit A Cask of Jerepigo), asook vertellings uit wyer Suid-Afrikaanse ervarings in Bosman se oeuvre.

Vir die leser wat met die skrywer se werk wil kennis maak, is daar in hierdie lusmaker oorgenoeg van sy verteltegniek en verbeelding om te waardeer.

Johann Lodewyk Marais is ’n skrywer en letterkundige.

Meer oor:  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.