SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Boeke
Om die leser te laat opvlieg, self te skryf

Nuwe stemme 6

Poësie

Saamgestel deur Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé

TAFELBERG, R240

In die voorwoord van hierdie bundel nuwe digterstemme in Afrikaans, merk Charl-Pierre Naudé, een van die samestellers, op dat hy sy keuse gegrond het op die volgende: ’n sterk genoeg vlak van taalvaardigheid; ’n alternatief in die plek van die konvensionele vaardigheidsopvatting, asook dat hy nie voorskriftelik wou wees nie.

Belangrik ook is sy opmerking: “Die ding van digkuns is nie net om iets behoorlik gesê te kry nie. Dis ook om dinge op behoorlike wyse nié te sê nie. Die wit van die bladsy is so belangrik soos die letters daarop.”

Yabadaka Shamah se gedigte in Afrikaans wat volgens die digter “nie suiwer [is] maar dit is / helder” illustreer ’n alternatiewe aanwending van die taalreëls.

In haar poëtiese inleiding merk die ander samesteller, Bibi Slippers, op dat sy hoop hierdie nuwe stemme die leser sal laat opvlieg en met ywer nuwe gedigte laat lees en selfs skrywe.

Dit is die konteks vir die leser van hierdie uiteenlopende bundel stemme. Hier is byvoorbeeld intertekstuele gesprekke met skilders soos Basquiat en Frida Kahlo. Of met Apollinaire – selfs Lady Gaga figureer.

Anders as in Nommer 5 is hier nie so ’n ooglopende inskryf teen en naskryf van gekanoniseerde digters soos Opperman of Van Wyk Louw nie. Nostalgie en ’n oproep van die verlede – selfs die Grensoorlog – kom deurgaans voor.

Kindertydse belewenisse en die ervaringe van kinders op myndorpe is ook ’n aspek, terwyl die nooit-ontglippende rasseproblematiek van Suid-Afrika ook betrek word.

Die woord “vooruitsigte” word ook interpreteer en gekoppel aan wat dit vir die onderskeie gemeenskappe in Suid-Afrika beteken. Hannes Visser skets die ervaringe van so ’n gesin en hul stryd met ’n alkoholis-pa.

Ryan Pedro se gedigte oor sy “off-white guilt”en sy ervaringe as seun op Kakamas het ek heel knap gevind. Sy beskrywing van sy ervaring by die barbier en die “harmonise op ’n noot van die wahl” gee ’n deernisvolle perspektief op die pa-seunverhouding. Hy staan ook krities teenoor die Afrikaanse kanon wat steeds deur swart Afrikaanse digters met ’n valhelm betree moet word.

Die digter, die digterskap en die skryf oor die soeke na gepaste versidees kom ook voor.

Die digter, die digterskap en die skryf oor die soeke na gepaste versidees kom ook voor. Etlike van die digters probeer ook sin maak uit hul bestaan en daar is nie vir my ’n hierdie versameling so ’n sterk expat-tendens nie. Geen wonder dat Elodi Troskie in haar gedig opmerk: “sodat ek môre herinner kan word dat enige iets / ’n gedig kan wees” of die ironiese slot, “dat die hele stellenbosch eintlik / uit versreëls bestaan”. Ook Churchill Naudé verwys na diegene wat “met soveel dig in [hulle] se kop in rondloop.”

Wat erotiek en seksualiteit betref, skryf Franco Collin in “S & M” oor die fyn grens tussen pyn en plesier, terwyl Donnay Torr eweneens in “Memento mori” beskryf hoe die gewelddadige liefdespel kneusplekke op die liggaam laat. Dis ook Torr wat in ’n tipe tweegesprek die reaksies weergee van verskillende sprekers se perspektiewe op ’n 3D-skaalmodel van die klitoris.

Eksperimente met vorm in die versameling sluit in Elmarie Viljoen-Massyn se haikoes en Jaco van der Merwe se prosarige gedigte met foto’s. Ek kon nie oral die koppeling maak tussen teks en foto nie – is die foto’s ter toeligting? As prikkel vir die vers? Die res van die bundel bestaan uit konvensionele vorms, meestal in vrye vers en met kleinletters.

Ek het verskeie reëls, frases en beelde in die versameling gemerk as vernuftig, vars en/of besonder geslaag.

Van die verse was vir my nog onaf, onvoltooid en het vasgesteek in die beskrywing van ’n nostalgiese greep uit die kinderjare. Sommige slaag daarin om Naudé se punt te illustreer, naamlik dat hulle woordvaardig is en die onsêbare suggereer.

Ook die feit dat hulle die leser dwing om met ander oë te kyk na melkkartonne, parkeerterreine, die Sisifus-mite, Instagram-foto’s en die geur van paraffien, katte as Boeddhas en die see wat swaar sluk aan “haar dieet van babadoek en plastiekdop”.

Vir my is die sterker stemme in hierdie versameling Ryan Pedro, Donnay Torr en Franco Collin, alhoewel ek dink hy by tye te veelsprakig raak.

Maar kom ons maak dit interessant en gaan ’n weddenskap aan wie van die nuwelinge se volwaardige debuutbundel eerste op die lopende band gaan verskyn?

* Koop die boek hier by takealot.

Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.

Meer oor:  Poësie  |  Bibi Slippers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.