Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Om die soetste taal in Engels te laat dans

Afrikaans Poems with English Translations

Saamgestel deur: H.P. van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen

PROTEA, R250

In Andrei Tarkofsky se Nostalghia (1983) lees die gids Eugenia ’n vertaling van gedigte. Haar reismaat Andrei wys op die onvertaalbaarheid van alle kuns. Sy reageer en wys hom tereg daarop dat as dit nie vir vertalings was nie, kon ons geen groot Russiese skrywers gelees het nie.

Etlike vertalings van Afrikaanse gedigte verskyn tans: In a Burning Sea (Marlise Joubert, red.), en ’n derde uitgawe van Michael Chapman se The New Century of South African Poetry (Ad Donker/Jonathan Ball) het pas verskyn. Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout is aktiewe vertalers van Vlaams en Nederlands. Bezuidenhout se vertaling van Alfred Schaffer se Mens dier ding is puik. Helize van Vuuren vertaal moeilike gedigte op Vers­indaba.

Hierdie hersiene weergawe van C.J.D. Harvey en A.P. Grové se bloemlesing Afrikaans Poems with English Translations wat in 1962 verskyn het, is behartig deur drie gesiene literatore: H.P. van Coller (o.a. die redakteur van Perspektief & Profiel), Van Vuuren (’n deeglike Opperman- en Breytenbach-navorser) en Louise Viljoen, ’n antoloog van Poskaarte saam met Ronel Foster; met gepubliseerde studies oor Krog en Breytenbach.

’n Mens sal nie ’n poësiekenner in Afrikaans vind wat nie op ’n manier by dié projek betrokke was nie.

’n Mens sal nie ’n poësiekenner in Afrikaans vind wat nie op ’n manier by dié projek betrokke was nie. Twee van my verse is opgeneem (ek verklaar my belange toe ek gevra word om te resenseer); ’n ander kommentator het vrae gevra oor waarom sekere digters nie opgeneem is nie. Hierdie kwessie sou waarskynlik ’n hele dagblad kon volmaak.

’n Handvol digters het opname geweier en die bloemlesing is ’n projek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (uitgegee deur Protea). Soms berus die kopiereg by eersgenoemde; soms by die skrywer.

As Groot verseboek reeds drie kluiwe beslaan, sou ’n nuwe uitgawe waarskynlik vier volumes opeis. En een leser sou in elk geval nie tans ’n genoegsame oorsig oor ons poësietoneel kon hê nie. Ten minste vier kenners word benodig; dis nou te sê as die kleiner uitgewers kopiereg verleen sónder die enorme koste hieraan verbonde.

Dalk moet ’n mens eerder fokus op die vertalers en hoe die digkunstoneel verander en getransformeer het.

Vertalers wat hier hul merk maak, is die Branfords uiteraard. Guy Butler, Anthony Delius, Sheila Cussons, Charl J.F. Cilliers, Ernst van Heerden (o.a.) is as gesoute digters ook behendige vertalers. Daar is ook die Ulyatts.

Lost in Translation heet Sofia Coppola se rolprent van 2003. Wat fluister Bob Harris (Bill Murray) ten slotte in Charlotte (Scarlett Johansson) se oor?

En dis hoe ’n mens ’n bundel met vertalings moet lees. Elke vertaler (soos elke kyker) sal ’n ander afleiding maak oor wat gesegge word. Sekere digters word moeiliker getransporteer van Afrikaans na Engels omdat die gedigte te idiomaties, boers, vol kwinte én kwinkslae sit. Byvoorbeeld Breytenbach en Krog.

A lone goose dropped a feather light.

Hoe kan ’n mens “ek skryf omdat ek woedend is” reg vertaal? Philander se “die bome is kiets” word vertaal as “upright” deur Andries Wessels (bl. 162). Die vertaler wou kennelik ’n rympatroon behou, maar die woord “kiets” se betekenis gaan verlore. “A lone goose dropped a feather light.” En by Boerneef, ’n volksdigter, is “thee” problematies omdat hy juis so uniek modern was in sy outydsgeit (bl. 171).

“Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?” uit “Nico”, daardie klassieke elegie van Petra Müller, word “persistent anonimity”, wat totaal iets anders is (bl. 246-247).

“Allogot!” word “Holy fuck!” (Marlene van Niekerk, 252) wat wys hoe woorde in verskillende tale anders resoneer . . .

“Krakeel” word “quarrel” (bl. 254). C.M. van den Heever se “Voëls in die skemering” aktiveer een van die grootste probleme van die digkuns: klank. Hoe vertaal ’n mens “Voëlgeklepper in die skemer / oor buigende riet” oortuigend? Dit word deur die Branfords vertaal as “In the twilight, birds alighting / on whis­pering reeds” (bl. 48-49). Dieselfde geld die problematiek met Gert Vlok Nel se unieke taal wat Leon de Kock aandurf.

In “i sagte reën het agtermiddag” (bl. 286) word uitgehol dan “scooted out”. Tog presteer De Kock om die eiesoortige gebroke sintaksis in die Engels op te vang.

Moet die vertaler onsigbaar bly? Moet jy die teks huis toe bring of oorsee stuur?

Lawrence Venuti se sieninge oor vertaling kom handig te pas. Moet die vertaler onsigbaar bly? Moet jy die teks huis toe bring of oorsee stuur? Of laat die vertaler maar altyd sy duimafdruk in die teks?

Ander gedigte beweeg makliker, flinker en word verander in die vertaling. Loftus Marais klink lekker; Nathan Trantraal se egte Kaapse idioom werk nie vir my in Engels nie.

Die leser kry sowel die Afrikaanse as die Engelse weergawe. ’n Wit bladsy sou ’n opsie kon wees vir die lesende vertaler wat wil verskil of bywerk. ’n Mens vergelyk onder andere die verskille tussen Harvey en J.M. Coetzee se vertalings van Ina Rousseau se “Eden” met ’n kopknik na Coetzee op bladsy 157.

Die indruk wat hierdie bloemlesing by my as leser laat, is hoe enorm gesofistikeerd ons ouer digters soos Marais, Totius, Leipoldt, Toon van den Heever, I.D. du Plessis en C.M. van den Heever al gedig het. En bly Celliers se “Dis al” nie maar ’n klassiek nie!

Die landskap-omslag van Kristèl de Weerd is pragtig – dit wys ook iets op oor die aard van hierdie land . . . ’n pad wat kronkel, berge in die vertes, bome. Elke kyker sal iets anders hierin raaksien en waardeer.

Soos dit met hierdie bloemlesing gesteld is. Vir die hiate en oorsigte bestaan daar gelukkig ánder bloemlesings.

En ons sê almal so.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.