Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Om jou jeug oor te hê
Legkaart van ’n jong lewe

Essays

Legkaart van ’n jong lewe

Dolf van Niekerk

PENGUIN, R180

In my jeug was daar so ’n lelike bruin boek in ons dorps­biblioteek wat Herinnering se wei geheet het. Dit is 1966 uitgegee.

Hoe wonderlik was hierdie jeugherinneringe nie wat my vervoer het na skrywers se ervarings. En my gelei het na hul boeke.

In 2013 het Leti Kleyn en Riana Scheepers ’n opvolg saamgestel met die uitstekende titel Spoorvat. Nou kom Dolf van Niekerk, ’n gesoute en bedrewe veelkantige skrywer en publiseer Legkaart van ’n jong lewe.

Die jeug of herinneringe aan jeugervarings het ’n vormende invloed op ’n skrywer se psige. Die Pools-Joodse psigoanalis Alice Miller meen jy moet ’n pynlike jeug herleef sodat jy dit kan besweer. Die uwe is van mening dit is nooit te laat om ’n gelukkige jeug oor te hê nie; om die bekende stelling effens aan te pas.

’n Legkaart bly ’n puzzle. Party mense (soos skrywers) het eindelose geduld om die verskillende stukkies in­mekaar te pas; ander het nie.

Hierdie boek gee dan sulke stukkies weer wat ’n mens telkens kan inpas by ’n gedig, jeugverhaal of dramateks. Van Niekerk is vanjaar 90 en is ’n kenner van en behaal ’n doktorsgraad in die filosofie. Daar is dikwels verwysings na Nietzsche, Dostojew­ski, Van Wyk Louw, en ander denkers.

Terselfdertyd word sekere stukkies van ’n legkaart vir die leser gegee uit die beskeie jeug, soos ’n kind wat vals beskuldig word van diefstal of per ongeluk ’n suster se pop beskadig.

Hierdie sketse het my opnuut na Miller se The Drama of the Gifted Child (1978) teruggeneem.

Die boek karteer in 48 sketse en essays sy lewensloop van vyf tot 20 jaar.

Hierin beweer sy: “Experience has taught us that we have only one enduring weapon in our struggle against mental illness: the emotional discovery and emotional acceptance of the truth in the individual and unique history of our childhood.”

Die voortydige dood van sy ma, ’n moeilike stiefma, sy andersheid as jong kind, hul armoede, oorloë en ander onsekerhede wat die jong gemoed kwel, word in die onthouskrif onder die loep geneem.

Soms neem hy jou na gedigte wat jy nou anders vertolk; ander kere is dit ’n stuk Boeregeskiedenis of die Voortrekkers se manier van doen.

Daar is ook humor.

’n Mens het dus twee stemme tegelykertyd hier aanwesig. Die onskuldige kind wat deur die wyse en terugkykende (en vergewende) skrywer bekyk word.

Van Niekerk is dus outobiografies aan die woord en wat hy nie vertel nie, kan die leser self invul. Of uit sy fiksie byvoeg.

Hy vang ’n vervloë era op en dié leser moedig almal aan om hul herinneringe of memories op te teken sodat niks verlore gaan nie, om met Hennie Aucamp saam te praat.

Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word, meen Van Niekerk.

Die boek karteer in 48 sketse en essays sy lewensloop van vyf tot 20 jaar. Maar deur die ouer skrywer opgeteken. Die dubbelloop-aksie van die memoir of herinneringsteks is immers bekend.

Die koshuislewe, die gespook om geld te kry vir studies, die vriendskap met G.A. Watermeyer, die meisie wat ’n blaar pos aan die ouer Dolf, is só helder weer­gegee dat dit ’n mens altyd sal bybly.

Die betekenis van briewe in “Posjong” is ’n hoogtepunt soos die aanhoor van D.F. Malherbe. Wie kén vandag nog die verskil tussen bodorp en onderdorp? Of pres. Steyn se uitspraak dat die veroweraar se taal van mense slawe maak?

Ons lees hoe die vader gedwing is om uniforms te maak anders verloor hy sy werk . . .

Ons lees hoe die vader gedwing is om uniforms te maak anders verloor hy sy werk . . .

Smoelneukers, leiwater, vendusiekrale en skotige is begrippe wat ’n ou vergange wêreld aktiveer. Nes byname (Hansie Grootskrik of oom Johnnie Botter-by-die-vis).

Die impak van die Tweede Wêreldoorlog word helder vertel; soos die jong kind se voortdurende blootstelling aan siekte en die dood. Rasseverskille kom eweneens aan die bod en só gelees, is die boek ’n historiese dokument.

Sou kinders byvoorbeeld soveel mog deurmaak vandag?

Edenburg word ’n argetipiese dorp. Hier is die lewendes en dooies en die skrywer se teks bewaar. Hierna keer hy telkens terug.

Memories, reminissensies, memoir, outobiografie, selfgesprek – dís hoe ’n mens hierdie teks kan tipeer. Hierdie leser sien dit meesal as sketse; soms is daar wel essays.

Die digter praat saam:

“Die ou jaar is ’n geliefde, ’n bêreplek vir die smart. En die hartseer oor sy einde is ’n bymekaarkomplek vir al die ander verdriet.”

Of: “die sterre kry drade om.” Hierdie leser het weer Nag op ’n kaal plein gelees.

Proust het met ’n madeleine-koekie sy assosiasies losgemaak; Dolf van Niekerk doen dit met ’n kerfie biltong.

alles keer in siklusse terug,

alle syn herhaal sigself

deur die tyd, wat was word nou

en nou is môre soos dit was . . .

Die voorblad is aangrypend mooi met die jong maar terselfdertyd ou wyse mensie op die voorblad saam met die sibbe. Mag niks verlore gaan nie en mag almal ouer as 60 hul herinneringe opteken.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK. Sy is ’n digter en romanskrywer.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Boeke  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.