Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Om middernag woel die onderbewuste éérs’

“Die dinge wat jou in die nag pla, is ook die toutjies wat in die dag aan jou onderbewuste trek,” sê Sidney Gilroy oor sy tweede misdaadroman, Middernag.

Die boek is onlangs deur Human & Rousseau uitgegee.

Sidney Gilroy Foto: Steve D’Elboux

In dié verhaal word die oorskot van ’n verminkte vierjarige meisie in ’n roomyskarretjie in Harrismith gevind en ’n kat met die naam Middernag dra liggaamsdele rond.

’n Psigopaat lok kinders met roomyse weg van hul ouerhuise af.

Sersant. Sollie Mthembu, wat lesers in Gilroy se debuutroman, Klikbek, leer ken het, word gestuur om met die saak te help.

Maar Gilroy het ook oor middernag gewonder.

“Ek sou nie sê ek het daardie sielkunde beplan nie, maar daar is dinge waaroor mense ná middernag tob. Wat ís middernag? In die oggendure verwag jy almal is aan die slaap, maar baie mense wroeg dan oor hul lewe. Ons werk, ons maak ons kinders groot. Ons vermaak onsself met tydskrifte, musiek en televisie, maar daardie onderstroming is altyd daar.

“Ek wou uitwys hoe dié twee dinge spieëlbeelde van mekaar is.”

Die karakters in Middernag word ook daardeur gekonfronteer.

Een so ’n karakter is Meisie Swart, baas van die kat Middernag. Sy is baie ongelukkig en beplan om haar eie lewe te neem.

Haar kat daag dan en wan met liggaamsdele op.

Gilroy het die idee gekry toe hy aan sy vorige boek geskryf het.

Hy het in ’n afgeleë natuurreservaat tuisgegaan waar ’n vreemde kat hom elke aand besoek het.

“Die kat het vir my geskenkies aangedra. ’n Akkedis, eenkeer selfs ’n lewende waterslang . . .”

"’n Polisieman wat met ouers praat, wat voel hulle word met handskoene hanteer en hulle sê, oukei, gooi my nou met die waarheid. Ek is nou gereed daarvoor."

Gilroy het baie navorsing oor reeksmoordenaars gedoen.

Aanvanklik sou die slagoffers nie kinders wees nie, maar toe kom hy af op ’n reeksmoordenaar wat kinders in ’n woud tussen België en Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog vermoor het.

“Omdat dit oorlog was, was mense nie seker waarom ’n kind weggeraak het nie. Maar soms het mense agtergekom honde en wolwe eet of dra liggaamsdele rond. Die moordenaar is nooit gevang nie.”

In die boek is stukke waar die polisie met ouers van ’n vermiste kind moet praat.

“Dit het my emosioneel ondergekry om sommige van daardie tonele te skryf,” sê Gilroy.

“Baie daarvan is gegrond op goed wat in die werklikheid gebeur het en verhale wat mense my vertel het. ’n Polisieman wat met ouers praat, wat voel hulle word met handskoene hanteer en hulle sê, oukei, gooi my nou met die waarheid. Ek is nou gereed daarvoor.”

Sidney Gilroy se derde roman word nou afgerond. Foto: Steve D’Elboux

Nog boeke met Sollie as hoofkarakter lê voor. Gilroy rond tans sy derde roman af.

“Sollie het ’n pad wat hy stap,” sê Gilroy.

“Soos ons nou hier gesels, weet ek waarmee Sollie vandag besig is. Hy werk nie net aan die sake wat in my boeke is nie. Om oor Sollie te praat, is vir my soos om vir ’n ou vriend te gaan kuier. Wat het intussen gebeur? Vertel my, dan skryf ons dit in ’n boek. Hy praat nou makliker met my as aanvanklik.”

In Middernag verwag sy vrou hul tweede kind. “Sollie sukkel steeds met goed, want hy is ’n groentjie. Soos hy groei en sukkel met dinge in sy lewe, so groei ek saam met hom.

“My notaboeke oor hom is baie dik. Hy verras my soms. Soms is dit nie deur hom nie, maar deur die mense rondom hom. Sollie is ’n ou wat daarvan hou om terug te tree en dinge uit te kyk en dieper te dink.”

Middernag word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R300.

Meer oor:  Human & Rousseau  |  Nb Uitgewers  |  Sidney Gilroy  |  Harrismith  |  Misdaadroman  |  Middernag  |  Reeksmoordenaar  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.