Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Om te berus is al wat oorbly

In haar tiende bundel, ‘Disteltyd’, besin Marlise Joubert oor temas soos die liefde, siekte, verganklikheid, isolasie en skeiding, maar sy bly ook bewus van haar tuin wat ondanks al die humanitêre krisisse steeds bly voortgroei, skryf Marius Crous.

Disteltyd deur Marlise Joubert. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R220.

Waar Marlise Joubert in haar bundel Passies en passasies (2007) die leser meegevoer het met swoele, kleurryke Frida Kahlo-agtige verse, kry ons sedertdien ’n meer gestroopte en gedronge vers waarvan Disteltyd ook tekenend is.

Taalmatig word die afstroping van die liggaam en die elegiese belewing van onder meer haar moeder se dood verwoord in ’n gekonsentreerde metaforiek met woorde soos doektyd, beenmoedig, lamleefsiek, nerfgeskaafde, klepelklein, sifbruin, salpetertrots, langoordruppels, stilbeweeg, klankwit, bêrebed, mondplesier, sonpapajas en disteldryf.

Dit is teen die agtergrond van die moeder se dood en die “lockdowntyd” (bl. 100) dat die digter besin oor temas soos die liefde, siekte en verganklikheid, isolasie en skeiding, maar ook bewus is van haar tuin en hoe dit ondanks al die humanitêre krisisse steeds bly voortgroei. In die gedig “staptog” (bl. 100) word verwys na die aarde wat nou aan die gevleueldes behoort, terwyl die vrou verplig word om negeuur tuis te wees.

Dié afgesonderde tyd met sy grendelvrees, waartydens almal “gemasker soos ’n slinkse dief / gepantser met chirurgiese / handskoene om ’n virus / te systap” (bl. 98) lewe, vind die spreker vertroosting in die skryf van gedigte en die fynkam van ander digters se werk ter vertroosting.

Dis is ook tydens hierdie afsondering dat sy “disteldryf” (bl. 96), wat aansluit by die titel van die bundel en die motto uit ’n gedig van Ingrid Jonker. Die distel versprei lig en donserig wanneer dit droog is en skakel met die temas van aftakeling en aflegging.

Daar is ook heelwat humor in hierdie nagboekgesprek wat ook kommentaar lewer oor die vroulike liggaam.

’n Deurlopende aspek van die bundel is die rouproses oor haar ma. In die eerste gedig, “1955” (bl. 8) roep sy herinneringe op aan haar ma in haar kombuis. Dit berei ons voor op die reeks gedigte “nagboekgesprek” waarin deur die ma se dagboeke geblaai word. Die knipsels en resepte, naas die dagboekinskrywings, vorm een van die interessantste outobiografiese tekste in Afrikaans. Nie net lewer dit kommentaar oor die tyd waarin die ma geleef het nie, maar dit gee ook vir ons inligting oor wat vir haar belangrik was en hoe sy dit in verband kon bring met haar eie lewe. Dit is asof die ma-figuur vir die dogter waarsku: Hierdie oumenstyd en oumensdinge lê nog vir jou voor. Die spreker vra immers: “wat sou dié argief vir jou beteken / in watter korf kruip jy weg / waarom so min oor jou? / ek reken jy het geglo / dat iemand eendag . . . die nagelate etse van gebeure / sal hertakseer” (bl. 85).

Daar is ook heelwat humor in hierdie nagboekgesprek wat ook kommentaar lewer oor die vroulike liggaam.

Die nag is nie net die tyd van distels nie, maar is ook die uur van die nagtelike skryfrotte (bl. 54), van slapelose digters wat in gesprek tree met mekaar en bevrediging vind in hul gedigte. Kunsteoretiese verse maak trouens ’n groot deel van die bundel uit.

Naas die digkuns bied die liefde, en spesifiek die samesyn met die geliefde, vertroosting en beswering teen die aftakeling. Vergelyk byvoorbeeld “die melankolie van slaappatrone” (bl. 64) waarin die twee hande vashou wanneer hulle gaan slaap om sodoende simbolies veranker te wees aan mekaar. Maar in die grendeltyd word die geliefdes ook genoodsaak om mekaar “deur die masker” te soen.

Wat ten slotte vir die spreker oorbly, is om te berus (bl. 96):

ek gee oor aan die nivellerende

niks, word een met die aarde

se liggaamlose wond.

Hierdie bundel maak dalk deel uit van Joubert se laatwerk, maar ek twyfel of dit haar laaste werk sal wees soos sy op Facebook gesuggereer het. Soos Stefan van Zyl tereg aandui in sy resensie op Versindaba, skakel die woord disteltyd ook met distilleer.

Ek meen tog Joubert gaan nog heelwat verse distilleer uit haar ervarings van die staat van afsondering waarin sy leef.

  • Prof. Marius Crous doseer letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Gqeberha (Port Elizabeth).
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.