Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Om te skryf in die tyd van die koronavirus

Karakters wat gekonfronteer word deur ’n vyand wat hulle nie kan sien of verstaan nie... Die wêreld se huidige realiteit is die perfekte materiaal vir topverkoper-fiksie. Cheréne Pienaar het met ’n handvol skrywers oor alle genres heen gesels oor hoe die pandemie hul skryfwerk en wêreldbeskouing beïnvloed. 

Rudie van RensburgFoto: Verskaf

‘Gaan dit die nuwe normaal word om soos ’n karakter in ’n apokaliptiese rolprent tussen halfleë rakke rond te sluip, heeltyd bedag daarop om te koes as iemand hoes? En sal jy ooit weer hartlik kan bladskud sonder om jou hande ná die tyd vinnig te gaan was?”

Dit is die “neerdrukkende” gedagte wat by die skrywer Rudie van Rensburg opgekom het toe hy vir die eerste keer in die grendeltyd kruideniersware gaan koop het.

Maar gelukkig bring tyd heling en perspektief, sê hy.

“Ek het nou daarmee vrede gemaak dat ek niks kan verander of wegwens nie. Om die positiewe te omarm, het my nuwe leuse geword.”

Ná ’n aanvanklike ontkenningsfase dat dié virus nie so erg kan wees nie, het die inperking hom meer ontstel as wat hy wou erken. “Dit sou my nie regtig ontwrig nie, het ek eers geglo. Die afgelope dekades skryf ek immers onder selfopgelegde kwarantyn uit my huis.”

Maar skielik was dit moeilik om sy fokus te behou.

“In my agterkop het die nuwe werklikheid my telkens ontspoor – grootskaalse lewensverlies in Europa waar my dogter haar bevind, my seun wat pas sy sakeonderneming teen groot koste na ’n ander perseel in die Kaap verskuif het, net om drie dae later die winkeldeure vir ’n onbepaalde tyd te grendel. En hoe gaan ons regering hierdie amper onmoontlike balanseertoertjie uitvoer? Enersyds moet hy met streng inperkingsmaatreëls keer dat die virus soos ’n wegholveldbrand versprei, en andersyds mag hy die vernietigende impak daarvan op ’n reeds wankelende ekonomie nie uit die oog verloor nie. Catch-22 het ’n nuwe betekenis gekry.”

  • Vloek, Van Rensburg se jongste boek, is nou op die rakke. Sy nuwe misdaadroman verskyn in Junie.
Troula GoosenFoto: Verskaf

‘Oornag het die wêreld omgedop. Amper soos die lewens van die karakters waaroor ek skryf.”

So sê Troula Goosen, skrywer van jeugboeke soos die Raaisel-reekse. Vir die eerste keer in maande skryf sy net mooi niks.

In Januarie het sy ’n knievervanging gehad; ’n operasie met ’n redelike lang hersteltydperk.

“Vir etlike weke was ek onder lockdown in my eie lyf. Skaars het ek begin lig sien, of die virus bereik Suid-Afrika.”

Toe loop alles in hul huishouding skeef met haar man wat opereer moes word weens ’n mediese toestand.

Sy dink nie anders oor haar skryfwerk, die lewe óf die dood nie.

“Ek is lank genoeg op die aardbol om perspektief te hê, te besef hoe kosbaar, maar ook hoe vlietend die lewe is en dat ons onsself dikwels te ernstig opneem.

“Mense sal egter nooit moeg raak vir stories nie.

“Dit gee ons die kans om vele lewens te leef, maar ook om sin te maak van dit wat met ons gebeur.

“Ek glo dus met my hele hart dat daar in hierdie grendeltyd en daarná, wonderlike stories gaan gebeur, stories wat ons sal help om hierdie surrealistiese tydperk te verwerk.”

  • Goosen se nuutste boek, Raaiselsee, verskyn in Augustus by Human en Rossouw.
Maya Fowler, die romanskrywer van onder meer Patagonië. Foto: Verskaf

As ’n skrywer word ’n mens beslis deur aktuele gebeure geraak, sê die romanskrywer Maya Fowler, wat deesdae in Kanada woon.

“Maar ek glo die meeste van ons is nog besig om te verwerk wat aan die gang is, en ek sou die situasie ook ’n bietjie verder wou uitpluis en daarvan probeer sin maak voordat ek daaroor probeer skryf.

“Buitendien verander die opset so baie van week ná week dat dit moeilik is om te vertrou dat wat nou boeiend en relevant is (wat die virus betref) nog oor ’n jaar of twee (skryftyd, publikasietyd) so sou wees.”

Sy sê sy weet ook nie of die virus ’n tema is wat noodwendig direk in haar werk sal verskyn nie.

“Want soveel ander skrywers is sekerlik al reeds daarmee aan die gang, maar dit sit ’n mens beslis aan die dink oor die temas wat met pandemie gepaardgaan: verlies, vervlietendheid, vrees, onsekerheid, die liefde én bitsigheid wat uit mense stroom wanneer hulle onder druk is.”

Wat die denkproses betref, verwag sy dit gaan nog geruime tyd vat voordat ons die algehele impak op denkprosesse sien.

“Vir eers is die fokus op dankbaarheid vir die seëninge wat ek het. Tog bly die dankbaarheid in twis met die vrees oor wat daar is om te verloor.

“Dié spanning is waarskynlik iets wat in die skryfwerk uiting sal kry.”

  • Patagonië, wat Fowler ook self in Engels vertaal het, gaan oor Afrikaners se uitwyk na Argentinië.
“Hier voor is bros, verganklike gras, maar agtertoe verder staan ’n magdom sonneblomme en draai hul koppe na die son,” skryf Tosca de Villiers. “En ek besef dit is hoe die toekoms lyk. Ek sien iets anderkant die verganklike gras, maar weet nie wat dit gaan wees nie. Ek is ook onmagtig om iets daaraan te verander. Net soos die land vol sonneblomme uitgelewer is aan God se genade en die natuur, is ek uitgelewer. Maar ek moet net my voete op die grond hou en my kop na die son draai. Al waarvan ek seker is, is die hier en die nou. In die donkerte van die nag besef ek die Liefde glo alles, hoop alles en gaan alles oorwin. Die lewe wat ons geken het, het onherroeplik verander, maar die liefde sal voortbestaan.”Foto: Tosca de Villiers
“Ek het net ’n paar treë beweeg en toe is die beeld baie anders.” Foto: Tosca de Villiers
Tosca de VilliersFoto: Verskaf

‘Die Woensdag, voordat die inperking begin, reis ek en my kat deur die allermooiste Vrystaat,” vertel die romanskrywer Tosca de Villiers.

“Kosmos blom, rooigras wuif, die mielies is ruig en die sonneblomme ongelooflik. Kort-kort stop ek vir ’n foto. Ek probeer iets vasgryp, iets vasvang.”

Met die afkondiging van die inperking het sy besef dat sy dié tyd saam met haar bejaarde moeder in Bloemfontein sal moet deurbring.

“Dit was baie emosioneel om in te pak. Wat vat ek en wat los ek? Gaan ek ooit weer my woonstel sien? Ek het vir oulaas ’n koppie koffie by my geliefde kuierplek in Pretoria gaan drink. Maar alles was klaar anders.”

Een nag, heeltemal oorweldig deur wat om haar gebeur, sit sy agter haar tydelike skryftafel en blaai deur die foto’s wat sy daardie dag geneem het.

“Hier voor is bros en verganklike gras, maar agtertoe verder staan ’n magdom sonneblomme en draai hul koppe na die son.

“En ek besef dit is hoe die toekoms lyk. Ek sien iets anderkant die verganklike gras, maar weet nie wat dit gaan wees nie. Ek is ook onmagtig om iets daaraan te verander. Net soos die land vol sonneblomme uitgelewer is aan God se genade en die natuur, is ek uitgelewer, maar ek moet net my voete op die grond hou en my kop na die son draai.

“Al waarvan ek seker is, is die hier en die nou.

““In die donkerte van die nag besef ek die Liefde glo alles, hoop alles en gaan alles oorwin. Die lewe wat ons geken het, het onherroeplik verander, maar die liefde sal voortbestaan.

“Ek het net ’n paar treë beweeg en toe is die beeld baie anders.”

  • De Villiers se jongste boeke is Emma sesomer en Maryke se sprokie. In Mei kom ’n nuwe boek waarvan die titel nog nie bekend is nie.
Annerle BarnardFoto: Verskaf

Hoop is sterker as vrees en sy kies om haar totale gedagtegang op die positiewe te fokus, sê Sindikaat-skrywer Annerle Barnard.

“Die pandemie en die staat van inperking eis ’n massiewe tol van mense – finansieel, emosioneel en fisiek. My uitgangspunt is egter dat ek in ’n hoek kan gaan sit en stres, dan het ek ná die afloop van grendeltyd slegs gestres – of ek kan elke dag opnuut met hoop aanpak en probeer skryf na die beste van my vermoë en teen die einde van grendeltyd sal ek darem iets vir my moeite kan wys.”

Sy hoop om teen die einde van grendeltyd ’n voltooide manuskrip te hê.

Vir haar voel dit soms asof sy haar oë reg in die middel van ’n distopiese roman oopgemaak het.

“Ek dink nie anders oor my skryfwerk as vantevore nie, maar tydens grendeltyd het ek nogmaals besef dat lesers nooit verveeld is nie.

“Lees is ’n vaardigheid met groot voordele – kognitief, emo­sioneel, en so meer.

“Een van die grootste geskenke wat ’n mens vir iemand kan gee, is boeke en ’n liefde vir lees.

“Ek het tydens grendeltyd weer eens besef dat ’n mens jou kinders moet leer om hul denke positief te rig. Mense wat oplossings vir probleme soek en nie toelaat dat ’n probleem hulle na apatie dryf nie, is diegene wat iets bereik.”

  • Barnard het onlangs die silwerprys in die Afrikaanse kategorie van die Sanlam-prys vir Jeuglektuur met Sindikaat, haar jongste boek, gewen.
De Wet HugoFoto: Verskaf

Bid en tuisbly is al wat hy kan doen om die wêreld te help, sê die kinderboekskrywer De Wet Hugo uit Saoedi-Arabië waar hy skoolhou.

As onderwyser het die pandemie hom op ’n groot manier geraak, want sy skool, The British/Dutch International School of Jeddah, het oornag in ’n virtuele skool verander.

“Die meeste onderwysers is nie werklik opgelei om kinders oor rekenaars te onderrig nie.”

Soos die groter meerderheid moes dié oud-Worcesteriet noodgedwonge leer hoe om aanlyn klas te gee, interaktiewe werkkaarte en lesse te beplan en die leerlinge se werk aanlyn te merk en terugvoering te gee.

“So sleg soos wat dit klink en die inperking beslis vir baie mense is, affekteer dit my regtig nie veel nie. Ek was nog altyd ’n huishoender wat dit geniet om tuis te bly. Natuurlik hou ek myself ook besig met my skryfwerk.”

  • In Junie verskyn sy eerste boek in ’n splinternuwe reeks getitel Kies-jou-avontuur 1: Die gevaarlikste speletjie op aarde en in Julie verskyn Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf.
Fanie ViljoenFoto: Verskaf

Vir die Bloemfonteinse jeugboekskrywer Fanie Viljoen is die inperking net “ ’n stappie verder” as sy gewone roetine.

“Ek werk al 12 jaar van die huis af, al verskil is dat ek nou minder by ’n winkel uitkom, en glad nie by die gym nie. Ek kan nou ook glad nie by my ouers in die Noorderbloem-aftreeoord kom nie.

“Skrywers leef egter baie in hul kop, in hul verbeelding. Ek ontvlug nou weer soontoe.”

Ook hy dink nie noodwendig anders oor sy skryfwerk nie. “Daar is soveel projekte waaraan ek nou kan aandag gee, ek werk van sesuur soggens tot nege-uur in die aand.

“Ek besef dat dit nie so kan aangaan nie, daarom maak ek nou tyd om in my tuin te loop, te teken, musiek te luister, familie en vriende te bel – af te skakel. Dis wat die inperking dalk van ons vra: om ’n bietjie stil te raak in onsself, ’n bestekopname te neem.”

Voor die inperking moes hy dokter toe met ’n ongesteldheid.

“Ek het egter in die kar gesit en wonder, wat as die virus my beet het? Dit was nogal moontlik, want ek was op ’n skooltoer in Namibië, en het saam met mense van die Ooste en Italië by doeane beland. Die week daarna was ek saam met atlete van Duitsland in ’n gastehuis. Daar was dus ’n kans op infeksie. Gelukkig was dit egter net boonste lugweginfeksie, maar ’n mens se kop speel behoorlik met jou speletjies.”

  • Een van Viljoen se jongste boeke, Onderwêreld, handel onder meer oor ’n virus, maar dis ook soveel meer.
    Meer oor:  Koronavirus  |  Skryf  |  Boeke
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.