Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Omvattend wetenskaplik

Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg

Jan Malan

AFRICANA UITGEWERS, R225

Niefiksie

Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg

Geskiedenisliefhebbers – veral insake die “Ou Kaap” van die VOC-tydperk (1652-1795) – behoort vertroud te wees met die verhaal van die Schoonenberg, want etlike artikels en gedeeltes in bundels is al daaraan gewy.

En juis omdat voorafgaande skrywes nie op primêre navorsing in die staatsargief berus het nie, is foute en versinsels telkens oorgedra. Nou egter, ná 300 jaar, en vanweë Jan Malan se nougesette navorsing, het die

ware verhaal die lig gesien – hoewel daar steeds enkele vrae is, maar hy beredeneer elke vraagstuk logies en uitvoerig sodat die leser verstaan hóé en wát gebeur het.

Oor watter vrae beantwoord word en oor watter steeds bespiegel word, gaan ek my nie uitlaat nie – as ’n mens ’n boek koop, wil jy immers self uitvind wat daarin staan – en hierdie verhaal het juis vele wendings en slinkse komplotte wat oor die jare tot wanopvattings gelei het. Dat bekende skrywers oor dié historiese periode bygedra het tot die mite, maak Malan se onthullings selfs belangriker.

Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg (2017) bied ’n pakkende relaas van kleurvolle karakters – beide onderduimses en voorbeeldiges – en van konflik, gierigheid, deursettingsvermoë en so meer wat herinner aan verhale soos Treasure Island en Die skat van Java, met die verskil dat dit hierdie keer nougeset feitelik nagevors en beslis geen verbeeldingsvlug is nie.

Malan beskryf die (tweede) reis van die Schoonenberg in redelike detail vanaf Desember 1721 vanaf Texel in Nederland, en dan weer vanaf Batavia terug na Nederland, waar dit teen vieruur die oggend by Struisbaai op die rotse geloop het. Daarna volg die stryd om oorlewing en die skipper, Albertus van Soest (self beskryf as “verfoeilik onbetroubaar”), se gesukkel om opstandige matrose in bedwang te hou en die vrag te probeer berg – en die mite oor die fabelagtige skat wat glo op Vergelegen begrawe sou word, begin hier.

Malan bespreek die daaropvolgende hofsaak, waarna beskryf word wat met die betrokkenes gebeur het, watter sappige stories mettertyd ontstaan het en die latere argeologiese ontdekkings wat sedert 1985 gemaak is.

Dalk die belangrikste bydrae van dié boek is die omvattende, wetenskaplike bespreking van hoe die ramp plaasgevind het – wat presies alles verkeerd gegaan het – soos ekself nog nie tevore teengekom het in enige boek of dokument aangaande die skipbreuke van daardie tyd nie, maar ook klinkklare uitleg van die prosedure van die Kaapse regstelsel. Eweneens is die aanwending van bronnekritiek indrukwekkend en is die afleidings wat die skrywer maak, oortuigend.

* Bestel die boek by: pietwestra@mwebbiz.co.za

  • Francois Verster is ’n skrywer van Brackenfell en Naspers se argivaris.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.