Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Onder draai die hartseer rond

Juanita Aggenbach se aangrypende roman ‘Stille waters’ fokus op die rimpeleffek van tienerselfdood op die lewe van drie uiteenlopende vrouekarakters en Nadine Petrick meen dit sal by ouers én tieners aanklank vind.

Stille waters deur Juanita Aggenbach. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R280.

In 2017 het Netflix die reeks, 13 Reasons Why, op die wêreld losgelaat. In die laaste episode van die eerste seisoen sit die hoofkarakter Hannah Baker in die bad. Wat volg, is waarskynlik een van die mees omstrede en hartverskeurendste tonele tot nog toe op die kassie.

Met haar klere aan en slegs die geluid van ’n kraan wat loop kloof Hannah haar arms met ’n skeermeslem oop. Daar is geen agtergrondmusiek om die toneel te versag nie, slegs Hannah se verslae snikke.

Kykers was só ontsteld dat Netflix later die toneel moes verwyder en met ’n nuwe, minder grafiese toneel vervang. Die reeks het ernstige kritiek ontlok oor die skynbare glamourising van tienerselfdood.

In Juanita Aggenbach se Stille waters neem een van die jong karakters, die 16-jarige Divan, sy eie lewe. Hierdie onomkeerbare besluit het ’n rimpeleffek op die lewe van drie uiteenlopende vroue: sy dinamiese sakevrou-ma, heel toevallig ook Hanna; Katrien, ’n skoolkennis; en Dorette, Katrien se ma.

Die onderskeie stories van die vroue word afwisselend vertel, maar hier en daar word die hoofstukke onderbreek deur ’n handgeskrewe nota van Divan, ’n soort dagboek wat die verflentering van sy gemoed oor ’n tydperk van vier jaar dokumenteer. Die inskrywings bied ’n roerende blik op die tienerpsige en is soms snaaks, soms selfmotiverend, ander kere bloot aandoenlik hartseer.

Dit is hierdie einste tienerpsige (en die misverstaan daarvan) wat Hanna lamlê. Soos sy deur die verskillende stadiums van rou worstel om konkrete antwoorde vir haar seun se besluit te probeer vind, raak sy bewus van ’n baie pynlike realiteit: Sy behoort aan ’n klub waarby sy nooit wou aansluit nie. “[Maar] die lidmaatskap is betaal. Lewenslank. En haar deelname is nie opsioneel nie.” Die stryd met haarself, haar man en haar jong dogtertjie is tasbaar en dreig om hul lewe verder te ontwrig. Hierdie onafwendbare proses word met deernis en insig deur Aggenbach vertel.

Katrien, ’n skoolkennis van Divan, sukkel ook met buitestanderskap, en haar worsteling met identiteit en haar ma se geheimsinnigheid rondom vele vrae vorm die kern van haar klein wêreld. In Katrien se soeke na aanvaarding val die skrywer egter in ’n sinkgat van voorspelbaarheid wat die trefkrag van die 16-jarige skoolmeisie se ontnugtering verflou. Die kinkel sien jy ongelukkig lánk voordat jy die kabel raak trap.

Haar ma, die hardwerkende maar paranoïese Dorette, se storie vervleg natuurlik met dié van Katrien en bied uiteindelik twee uiteenlopende dog ewe relevante perspektiewe op dieselfde gegewe. Katrien se vrae word in Dorette se storie beantwoord, maar dis grootliks vir die privilegie van die leser. Soos duidelik blyk uit haar debuutroman, Dis my geheim (2012), is identiteit en herkoms ’n goue draad wat deur Aggenbach se boeke loop.

Behalwe vir die reeds genoemde klein sinkgat is Stille waters ’n vernuftige stuk skryfwerk. Dit gebeur nie aldag dat ’n verhaal met so ’n ontstellende tema by ouers sowel as tieners aanklank sal vind nie, maar hier het Aggenbach regtig diep in die wese van ma én kind gaan delf. Daar is verskeie aangrypende momente regdeur die boek waar jou hart in stukke wil breek. Oomblikke van ontroering. Die rou realiteit van verlies.

Die oortuigende nadraai van Katrien se hartseer oor haar verhaal eggo immers dié van die ontslape Divan s’n. So ook Hanna se besef dat sy met haar ontslape kind se onnadenkende besluit moet saamleef en Dorette wat eweneens die gevolge van háár besluite moet aanvaar.

Dis moeilik, hartseer en droef, maar vir al drie vroue blyk die onstuimige waters waarin hulle beland het tóg effens stiller te raak. Daar is ímmer hoop, al is dit net ’n sprankie.

  • Nadine Petrick is ’n vryskutresensent van Stellenbosch wat sedert sy dié resensie geskryf het, aangestel is as voltydse bemarker by Lapa-uitgewers.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.